Jongste aktiwiteit:

Waar die lig inkom

The wound is the place where the light enters you. Die wond is die plek waar die lig jou binnedring – Rumi

Miskien is die diepste wonde nie dié wat op die vel sigbaar is nie, maar dié waarvoor daar geen pleister bestaan nie. Wonde wat nie bloei nie, maar wat jou op stil dae onverwags in die middel van jou bors tref. Wonde wat ontstaan wanneer iemand vir jou sê: “Jy is nie genoeg nie,” sonder om ooit daardie woorde hardop uit te spreek.

Verwerping is een klein woordjie, maar het die vermoë om ’n hele wêreld binne ’n mens te laat kantel.

En dan begin jy wonder. Wat is fout met my? Is ek nie goed genoeg nie?

Verwerping het ’n vreemde manier om jou eie waarde in twyfel te trek. Jy begin die spieël met ander mense se oë bekyk. Jy meet jouself aan die afstand wat iemand tussen julle geskep het. Jy begin glo dat iemand se vertrek ’n uitspraak oor jou waarde is.

Maar dit is nie. Iemand se onvermoë om jou te waardeer, is nie bewys dat jy waardeloos is nie. Iemand se keuse om jou agter te laat, beteken nie dat jy onwaardig is om na gesoek te word nie en tog laat dit jou soms ‘n huis binne jouself bou met die ligte afgeskakel. Jy begin jouself beskerm, want as niemand toegang kry nie, kan niemand jou weer seermaak nie.

Maar daar is ’n probleem met mure. Hulle hou nie net die pyn buite nie maar ook die lig.

Dit is waar Rumi se woorde begin leef.

Die wond is die plek waar die lig jou binnedring.

Die wonde van verwerping is juis die openings waardeur jy uiteindelik leer dat jou waarde nooit in iemand anders se hande was nie. Die mense wat jou verwerp het, het nie jou waarde weggevat nie. Hulle het bloot opgehou om dit te sien want ’n diamant hou nie op om ’n diamant te wees omdat iemand dit in die donker laat lê nie en ’n ster hou nie op skyn omdat niemand meer na die naghemel kyk nie.

Dit is ’n moeilike waarheid om te aanvaar wanneer jy die een is wat agtergebly het, want verwerping laat ’n mens dikwels glo dat die ander persoon die sleutel tot jou genesing het. Jy wag vir ’n verduideliking, ‘n verskoning of vir daardie een sin wat alles weer sinvol sal maak.

Ek het ook gewag vir daardie sin wat nooit gekom het nie en toe het ek die deur gesluit, nie uit bitterheid nie maar uit selfliefde. Dit is op daardie dag dat ek besef het ek hoef nie meer myself te bewys aan iemand wat reeds besluit het om my nie te sien nie. Ek mag wegstap, nie omdat ek opgegee het nie maar omdat ek uiteindelik begin het om vir myself om te gee.

“Here, my lewe is so vol gate, ek wil so graag weer héél wees.” Toe sê Hy vir my: “My kind, as daar nie gate in jou lewe was nie, waardeur sou My lig dan kon skyn?”

 

Dít is wanneer die lig aankom; die besef wat ek amper verloor het terwyl ek probeer het om iemand anders te oortuig dat ek die moeite werd is.

Die verwerping kon my hart óf verhard óf oopbreek en soms is oopbreek nie vernietiging nie. Dit is bevryding soos ’n saad wat deur sy harde dop breek om te begin groei of soos ’n blom wat deur ’n skeur in beton sy kop na die son draai.

Die litteken skeur is daar maar so ook die lewe. Ek sal altyd ’n merk dra van die mense wat my verwerp het. Maar dit is nie ’n teken dat ek gebreek gebly het nie. Dit is ’n bewys dat ek genees het.

En vandag kyk ek terug en weet dat die mense wat my verwerp het, nie die laaste woord oor my verhaal gehad nie. Die wond was nie die einde van my nie. Dit was die plek waar die lig gewag het om in te kom en ook die plek om na buite te skyn.

Dit is die mooiste vorm van genesing toe ek ophou vra: “Waarom was ek nie genoeg vir jou nie?” want ek is nou die volwasse vrou wat uiteindelik geleer het om myself te kies.

Soms kom die lig omdat jy, ná jare se wag, self die deur oopmaak.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed