DIE FENOMENOLOGIE VAN SKADU’S VAN DIE TYDSPOOR BINNE DIE GEMEENSKAP VAN DIE KALAHARI-SAN
Binne die leefwêreld van die Kalahari-San is tyd nie iets lineêr of abstrak nie, maar ’n beliggaamde ervaring, geanker in grond, klip, rituele, mites en storievertelling.
Skadu’s van die tydspoor verwys na die onsigbare, maar sigbaar-makende teenwoordigheid van ervarings, herinneringe en trauma wat aan mense en plekke kleef.
Hierdie artikel is ’n kursoriese oorsig van hoe die San van die Kalahari skadu’s van die tyd beliggaam, oordra en leef, vanuit hul verbondenheid met plek, taal, mite en ritueel.
Wat betref die fenomenologie en tydspore spreek, Merleau-Ponty, die mening uit in, Phenomenology of Perception, dat fenomenologie is die studie van die ervaringe van die mens-in-aksie is.
’n Tydspoor is dus nie net ’n liniêre afdruk van die verlede nie, maar ’n dinamiese teenwoordigheid in die hede. Dit is iets wat voelbaar, hoorbaar en soms selfs ruikbaar is. Die skadu van so ’n spoor dui op die blywende effek van gebeurtenisse wat nie net onthou word nie, maar herleef, hervertolk en herbeliggaam word. Só bestaan die verlede nie net in herinneringe nie, maar in die maniere waarop dit ons lewens en leefwyse vorm.
In sy boek, Memory, History, Forgetting, voer Paul Ricoeur, die argumenteer dat herinnering altyd deur narratief gevorm word. Dit geld veral vir gemeenskappe soos die Kalahari-San, waar geskiedenis nie op papier bestaan nie, maar in liedere, danse, spore, rotskuns en verhale. Hierdie narratiewe strukture is maniere waarop tyd geïnternaliseer en gedeel word as belewenis, nie net as feite nie.
Vir die Kalahari-San is elke spoor die draer van iets betekenisvol. Spore is nie net tekens van beweging nie, maar aktiewe draers van inligting, ervaring en betekenis.
Die Kalahari-San beweeg met ‘ligte voete’, maar hul spore lê diepgewortel in die geheue van hul gemeenskap.
Wanneer ’n San-spoorleser ’n dier se spoor volg, lees hy nie net waarheen dit beweeg het nie, hy lees die toestand van die dier, sy emosie, sy moontlike trauma, selfs sy geskiedenis. Op dieselfde wyse dra mense-spore, veral dié van die voorouers, stories van vreugde, lyding, en genesing. Hierdie spore se skadu’s leef voort in die stiltes tussen woorde, in die simboliek van rotskuns, en in die raaisels van droomvisioene.
David Lewis-Williams wys in, The Mind in the Cave: Consciousness and the Origins of Art, daarop dat rotskuns onder die San nie slegs dekoratief is nie, maar ’n visuele narratief van ervarings, seremonies en die wêreld van die voorouers. Hierdie kuns is ’n tydspoor en sy skadu leef in die interpretasie daarvan. Dít is dus in hul geheue asook in tekeninge op rotse gegraveer.
Wat skadu’s van trauma binne die gemeenskap van die Kalahari-San betref, beskryf Cathy Caruth in Unclaimed Experience: Trauma, Narrative, and History, trauma as iets wat nie volledig verwerk kan word tydens die oorspronklike ervaring nie, maar wat hom latere tydstip herhaal.
Die San se ervaring van koloniale geweld, ontworteling, marginalisasie en kultuurverlies word dikwels nie direk uitgespreek nie, maar leef voort in simboliek; in stiltes, in dans, in die verplasing van tradisionele spasie.
Vir die San is die skadu’s van hierdie tydspore, ’n traumatiese herinnering wat diep letsels in hul geheue gelaat het.
Vamik Volkan, praat in, Transgenerational Transmissions and Chosen Traumas: An Aspect of Large-Group Identity. Group Analysis, van “chosen trauma”. Dit is volgens hom, traumatiese gebeure wat so sentraal tot ’n groep se identiteit word, dat dit oorgedra word na volgende generasies.
In San-gemeenskappe manifesteer dit in die kollektiewe herinnering aan onteiening, onreg en die verlies van en tradisies. Die skadu’s van die tydspoor wat daardeur gelaat is word getransformeer in stories, spel, visioene en drome. Op hierdie wyse ontstaan ’n tipe ‘weerstands-geheue’; ’n herlewing van die verlede deur middel van kreatiewe verbeelding.
Die San se genesingsdanse is nie net rituele nie, dit is tyd-ervarings. In die trance-dans word die liggaam die draer van tyd, die medium waardeur pyn, siekte en geheue deurgegee en oorgedra word. Hierdie praktyke laat toe dat die liggaam praat waar taal tekort skiet.
Volgens Jung, is die skadu die onbewuste aspek van die self. Met ander woorde, dít wat verwerp is, maar tog energie dra. Die San gee ruimte aan hierdie skadu deur dans, klank en storievertelling.
Hierdie praktyke is fenomenologies van aard, in die sin dat dit gaan oor gaan oor hoe ervaring voorkom in die vlees, in beweging en in resonansie met die aarde. Tydspore word nie net onthou nie, hulle word geleef.
John Mbiti, maak die stelling in, African Religions and Philosophy, dat die voorouers binne die Afrika-denke altyd teenwoordig is. Hy praat van, “the living dead” en dat tyd as, “event-oriented”, verstaan word. Dit beteken dat tyd nie horlosie-gedrewe is nie, maar eerder plek- en gebeurtenisgedrewe.
In laasgemelde sin is tydspore in die Kalahari gelaai met betekenis, want dit is die plekke waar gebeure soos inisiasie, geboorte, dood en visioene plaasgevind het. Die skadu’s van dié gebeure leef voort in die gemeenskap asook in die landskap self.
Grond is nie net om op te loop nie, dit is ’n argief van geheue. Wanneer ’n San-ouer ’n kind leer jag, leer hy hom terselfdertyd die tyd van die dier, die tyd van die klip, die tyd van die asem. Hierdie is horlosies sonder wysers, gegrond in sintuiglike ervaring en voorouerbewussyn.
In hedendaagse pogings tot kultuur-herwinning sien ons hoe skadu’s van tyd ‘heringespan’ word om identiteit te herstel.
Wanneer jong San-kinders hul ouers se verhale, liedere en dans opnuut aanleer, word hulle deelnemers aan ’n proses van ‘her-skaduïng’, in die sin dat die bewuste integrasie van geskiedkundige pyn en wysheid, opnuut tot hulle deurdring. Dit is met ander woorde ’n proses waarin mense hul menswaardigheid terugneem deur hul eie betekenisse te heraktiveer.
Uit hierdie kursoriese uiteensetting van Skadu’s van die tydspoor binne die leefruimte van die Kalahari-San kan ons na my mening, tot die volgende gevolgtrekking kom:-
• Skadu’s van ‘verlore’ tydspore, leef voort in die wind, die sand, die stemme van die ou mense, en die oë van jong mense wat weer leer luister;
• Skadu’s wys ons die kontoere van herinnering, die spore van pyn, maar ook die spieël van oorlewing as alledaagse ‘metgeselle’ van betekenis; en
• Vanuit ’n fenomenologies gesigshoek, kom dit daarop neer dat die verloop van tyd asook die skadu’s wat daarmee gepaard gaan vorm gee aan die leefwyse van ’n gemeenskap.
———————————————–ooo00ooo———————————————–
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 1160]
Bronnelys
• Caruth, C. (1996). Unclaimed Experience: Trauma, Narrative, and History. Baltimore: Johns Hopkins University Press.
• Lewis-Williams, D. (2002). The Mind in the Cave: Consciousness and the Origins of Art. London: Thames & Hudson.
• Mbiti, J.S. (1990). African Religions and Philosophy. London: Heinemann.
• Merleau-Ponty, M. (1962). Phenomenology of Perception. London: Routledge & Kegan Paul.
• Ricoeur, P. (2004). Memory, History, Forgetting. Chicago: University of Chicago Press.
• Volkan, V.D. (2001). Transgenerational Transmissions and Chosen Traumas: An Aspect of Large-Group Identity. Group Analysis, 34(1), pp. 79–97.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek