Jongste aktiwiteit:

DIE ENIGMA VAN DIE SKADU’S VAN TYD IN DIE HOLISTIESE KOSMOS

Hoe en wanneer het tyd ontstaan? En skaduwee? Hierdie vrae lê aan die kern van ons bestaan. Na my beskeie mening, binne die grense van die kosmologie, metafisika en die godsdiens, (geloof). Die ontstaan van tyd is nie bloot ’n meetbare astronomiese oomblik nie, maar ’n werklikheid waaruit orde, lig én bewussyn voortgevloei het.

Gideon Joubert wys in sy boek, Die Groot Gedagte, daarop dat daar vandag by die meeste fisici konsensus is dat die heelal ’n begin gehad het. ’n Sogenaamde oermoment wat algemeen as die “Groot Ontploffing” of Big Bang bekend staan.

Maar voor hierdie begin, was daar, volgens wetenskaplikes se interpretasies van die kwantumfisika, asook teoloë se interpretasie van die skeppingsverhaal in die Bybel, niks. Daar was geen ruimte, geen tyd, geen materie nie. Daar was absoluut niks.

Die Bybel begin met die woorde: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Hierdie ‘begin’ het nie gelei tot die skepping en strukturering van orde, en daarmee saam, van tyd self.

Tyd is dus geskep toe God orde bring in wanorde, toe Hy gesê het: “Laat daar lig wees.” Lig was dus God se eerste kosmiese skeppingsdaad, en uit daardie lig het tyd begin tyd vloei.
Maar lig, ironies genoeg, bring ook skadu. Skadu is die resultaat van lig.

Skadu is die bewys van die teenwoordigheid van bestaan. In daardie sin is skadu’s van tyd nie slegs beelde wat teen die muur van die geskiedenis val nie, maar aktiewe tekens van gevalle waar die lig nie volkome kon deurdring nie, soos waar trauma, herinnering, verlange en verlies ervaar word. Kan ons in die figuurlike sin van die woord redeneer dat skadu’s die ‘weerstand’ teen die volmaakte deurstroming van lig is?

Skadu’s is dus nie die teenoorgestelde van tyd nie, maar ’n metgesel daarvan. Soos jou skadu jou volg, sigbaar of nie, volg die skadu’s van tyd elke bewussyn. Skadu’s is die onuitwisbare naloop van wat was, die fluisteringe van ervarings wat die tyd self nie kan uitwis nie.

Tyd as Orde en Bewussyn

Joubert voer aan dat tyd inherent gekoppel is aan orde. Sonder orde, geen volgorde; sonder volgorde, geen tyd. Hierdie orde word egter nie net meganies gemeet in sekondes en minute nie, dit word inderwaarheid ’n leefwyse.

Die mens ervaar tyd nie in absolute terme nie, maar binne die raamwerk van beweging, van siklusse; dag en nag, seisoene, geboorte en dood.

Ons tydspersepsie is dus gewortel in ons aardse omgewing. Die draai van die aarde om sy eie as, tydskadu die dae en die nagte, terwyl die wenteling van die aarde om die son die seisoene tydskadu.

Hierdie ‘ritmiese’ orde van tyd, bepaal die menslike bestaan en word sinvol gemaak deur verhaal, simboliek en religieuse betekenis. Die hede word ervaar as ’n vlugtige oomblik tussen verlede en toekoms, wat nooit werklik vasgevang kan word nie.

Op hierdie wyse word tyd dan meer as ’n meganiese afmeting. Tyd neem inderdaad ’n psigiese en spirituele gestalte aan in die lewe van die mens. Moderne fisika bevestig hierdie raaiselagtigheid.

Volgens relatiwiteitsteorie is tyd nie absoluut nie. Einstein het daarop gewys dat tyd rek en buig in verhouding tot swaartekrag en spoed. Wat vir een waarnemer sekondes is, kan vir ’n ander ure wees. Die kwantumteorie beweer, volgens Joubert, dat tyd op mikroskopiese vlak nie lineêr is nie, in die sin dat sekere gebeurtenisse mekaar beïnvloed buite die normale orde van tyd.

Daarom sê Joubert: “Die mens se ervaring van tyd is ’n hersenskim.” Tog is dit juis hierdie illusie wat die menslike bewustheid moontlik maak. Sonder die stroom van tyd sou daar geen identiteit, geen herinnering, geen betekenis wees nie.
Die tergende vraag is nou: “Maar wat is skadu’s van tyd dan in hierdie konteks”?

Skadu’s as Kosmiese Herinnering

In ’n holistiese kosmos waar alles verbind is deur middel van materie, energie, gees en bewussyn, word skadu’s nie net as donker kolle teen die muur van lig gesien nie, maar as herinneringe. Dáárdie herinneringe is spore van gebeure wat in materie, ruimte en selfs in die siel van die mens gegraveer is. Dink byvoorbeeld aan die fossiele van sterre, die littekens op klippe, die resonansie, of te wel die weerklank van pyn uit die verlede in die huidige denke van die mens.

Die menslike psige, soos Carl Jung aantoon, bevat ’n skadu-self — daardie deel van die bewussyn wat verdring is, wat ongemaklik is, maar steeds teenwoordig. In kosmiese terme beteken dit dat tyd nie net ’n stroom vorentoe is nie, maar ook ’n reservoir van wat agtergebly het. Elke skadu tydspoor ’n belewenis van gebeurtenisse.

Wanneer ons egter praat van tyd binne die holistiese kosmos, betree ons ’n terrein waar wetenskap, metafisika en geloof ineen vloei.

Kosmiese Tyd en Goddelike Misterie

Tyd word hier nie gesien as ’n een-dimensionele lyn nie, maar as ’n veelvlakkige veld van moontlikhede. Dit is ’n misterieuse, dinamiese werklikheid wat geskep word, op beide fisiese en spirituele vlakke.

Soos die uitdyende heelal, rek tyd ons begrip en nooi ons om te buig voor die misterie daarvan. Elke sonsopkoms is ’n herinnering dat tyd vloei, maar ook dat lig skadu’s werp, en dat ons die betekenis van beide in ons moet dra.

Dit alles gesê bring my nou tot ’n gevolgtrekking oor die lig en skadu’s van kosmiese tyd.

Gevolgtrekking

In die lig van Joubert se insigte, asook die wetenskaplike en spirituele tradisies wat daarmee assosieer, is dit duidelik dat:
• Tyd nie bloot ’n voortbeweging van momente, (oomblikke), is nie, maar ’n bewussynsveld waarin lig en skadu saam bestaan;
• dat die skadu’s van tyd inderwaarheid spore van rigtinggewende herinneringe is; en dat
• hulle deel is van die groter kosmiese patroon, waarbinne orde en wanorde, skepping en geheue, gegiet is.
Augustinus het in die tydperk 345 – 430 n.C. gesê: “Wat is tyd? As niemand my vra nie, weet ek wat dit is. Vra iemand my, sê ek ek weet nie”.
——————————————-ooo00ooo—————————————————-
©Pieter Mostert [Woordtelling = 1 118]

                                                  Bronnelys
• Einstein, A., 1920. Relativity: The Special and the General Theory. Translated by R.W. Lawson. New York: Henry Holt and Company.
• Hawking, S., 1988. A Brief History of Time: From the Big Bang to Black Holes. London: Bantam Books.
• Joubert, G., 1993. Die Groot Gedagte: Die wonder van lewe as toeval of skepping? Kaapstad: Human & Rousseau.
• Jung, C.G., 1953. Psychology and Religion: West and East. Collected Works Volume 11. Princeton, NJ: Princeton University Press.
• Turok, N., 2018. The Universe Within: From Quantum to Cosmos. Toronto: Anansi.

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Braam het n geregistreerde lid geword

  • Paul Kloppers het n geregistreerde lid geword

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak