Die taal van my hart
Die taal van my hart
Daar is ’n sekere soort stilte wat oor ’n mens kom wanneer jy nie jou eie taal kan praat nie. Dis nie ’n gemoedelike stilte nie, maar een van versigtigheid. En onsekerheid. Jy weeg jou woorde en soek paniekerig na vertalings. En dan verloor jy iets – ’n bedoeling, ’n suggestie, ’n verskuilde boodskap.
Mens verstaan dit eers werklik wanneer jy sien hoe mense optree wanneer hulle saamkuier in hul moedertaal. Daar is vrolikheid. En samehorigheid. Gedeelde kennis en ervarings, kultuur en humor.
Afrikaans sal nooit vir my net ’n taal wees nie. Dit is ’n plek waar my gedagtes gebore word. Die presiese plek waar dit eerste vorm aanneem. Dit is die klanke waarin my hart dink en die bron van die drome wat ek droom.
Om in jou moedertaal te kan lees en leer, is ’n vorm van genade. Dit is om nuwe kennis te ontvang sonder dat jy eers deur ’n tweede laag hoef te breek. Dit is om komplekse idees direk te kan aanraak, sonder ’n ompad. Kinders wat in hulle eie taal leer, bou nie net kennis op nie; hulle bou selfvertroue. Hulle leer dat hulle stemme geldig is. Dat hulle iemand is wat tel. Mens voel veilig tussen woorde wat jy ken, en herken.
Maar dit gaan verder as net lees en leer. Daar is iets heilig aan die taal waarin jy bid.
Wanneer ek in Afrikaans bid, is daar geen afstand nie. Die woorde kom nie van buite af of uit my kop nie. Dit kom van binne. Vanuit my hart. Ek hoef nie na woorde te soek nie. Dit kom eerlik. Ongekunsteld. Presies soos dit bedoel word. Want geloof, soos liefde, verlang eerlikheid. Geloof kan nie vertaal word sonder verlies nie.
En wat is dan lekkerder as Afrikaanse liedjies om ’n kampvuur? Dit dra iets van ons mense se geskiedenis. Ons swaarkry, ons hoop, ons durf en ons vermoë om te bly sing, selfs wanneer dinge skeefloop. Verskille vervaag wanneer ons saam sing in ons eie taal. Vir daardie oomblik is daar net een ritme, een klank, een gedeelde ervaring. ’n Afrikaanse lied sit net anders in jou bors. Jy sing altyd so bietjie harder.
Dit is waarom dit so diep sny wanneer Afrikaans onder druk kom. Wanneer ’n taal gemarginaliseer word, is dit nie net woorde wat verlore gaan nie. Dit is toegang. Dit is identiteit. Dit is daardie stille, onuitgesproke sekerheid dat jy deel is van iets groter as jouself.
Afrikaans is dikwels in die spervuur. Daar is pogings om dit uit sekere ruimtes te skuif, om dit minder sigbaar en minder hoorbaar te maak. Maar ’n taal leef nie net in beleid of in klaskamers nie. Dit leef in mense. In huise. In gebede wat gebid word. In stories wat oorvertel word, die liedjies wat ons ons kinders leer en om braaivleisvure. En ons as ouers is verantwoordelik daarvoor dat dit so bly. ’n Taal wat nie meer die ruimte kry om in te leef nie, sal mettertyd versmoor. En met elke ruimte wat dit verloor, verloor mense iets van hulself daarmee saam.
Die waarde van ’n moedertaal lê nie net in sy geskiedenis nie, maar in sy vermoë om mense tuis te laat voel.
Om te kan lees in jou eie taal, is om jouself te herken.
Om te kan leer in jou eie taal, is om jouself te ontwikkel.
Om te kan sing in jou eie taal, is om jouself te vier.
Om te kan aanbid in jou eie taal, is om jouself eerlik voor God te bring.
Afrikaans gee vir my daardie ruimte.
Afrikaans kom met ’n lang en pynlike geskiedenis, maar dit is my geskiedenis ook. Dit dra my stories, my mense se komvandaan, my manier van na die wêreld kyk. Die geskiedenis kan nie verander word nie. Maar die toekoms kan wel.
En dis waar die geheim lê. Ons taal kan nie langer blameer word vir die sondes van haar eertydse sprekers nie. Afrikaanssprekendes het gegroei. Net soos Afrikaans gegroei het. Ons dink en doen nie meer dinge op dieselfde manier as ons voorouers nie. Ons wil ook nie.
Afrikaans is nie net iets wat ek gebruik nie. Dis nie net ’n klomp woorde wat ek in sinne langs mekaar inryg nie. Dis wie ek is. En ek sal my taal beskerm so veel ek kan. Nie uit trots alleen nie, maar uit begrip, want elke mens het die reg om volledig mens te wees in die taal wat sy of haar hart die beste verstaan.
© Hester Steenkamp, 2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.