moedertaal (goud)
moedertaal
sy floreer, fyn gevleg
uit wortels en stof, been en bloed,
tussen die ribbes
as hartklop en as asem
so veerkragtig en dapper
soos haar sprekers wat bokwagters is
of dié wat satelliete lanseer,
voel sy tuis in ’n kombuis
of paradeer sy pronkerig op podiums
sy is digwoorde van Breyten en Krog,
FAK-liedjies om ’n kampvuur,
kunstefeeste en ATKV-oorde en kermisse
en groot tente wat jou vul
met al die hitte van ’n somerson
en haar geur van varsgebak en vlamgebraai
haar klank leef in kinderlag en bybelwoord,
in die tjank van ’n jakkals teen sonsondergang,
reëndruppels op ’n sinkdak
en in die dromme van deurnagdans
my moedertaal is plesierig
en rol saam in ritme met die riel
wat stof opskop en oplig en onderrig
en haar eie stem laat hoor
wanneer “sommer” dinge maklik maak,
“lekker” meer as net ’n woord is
en “nou-nou” later sal wees
want ons verstaan mos Afrikaans
© Hester Steenkamp
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.