Jongste aktiwiteit:

Die groen knoppie

Die groen knoppie

Dean het drie keer op die groen knoppie gedruk. Die horlosie het gepiep, geflits en toe stilgebly.

“Wat maak jy tog?” vra Ouma.

“Ek toets hom.”

“En?” vra Ouma nuuskierig.

“Ben 10 s’n maak van hom ’n held. Maar myne maak net ’n groen liggie.”

“Vir nege-en-veertig rand kan jy seker nie álles verwag nie,” brom Ouma onderlangs.

Dean trek sy mou oor die horlosie. Ouma verstaan nie veel van sulke goed nie. Sy dink nog ’n selfoon se flitslig gebruik meer elektrisiteit as die kombuislig.

Voor hulle staan die woonstelgebou. Dean kantel sy kop agteroor.

“Hoe hoog bly tannie Ans?”

“Tiende vloer.”

Hy kyk weer op.

“Hoekom?”

“Die huur was seker goedkoper as ’n woonstel op die grondvloer. Kom, vat dié sak.”

Binne-in klingel die konfytflesse teen mekaar. Ouma dra die koekblik en ’n sak aartappels.

“Ken tannie Ans nie winkels nie?”

“Sy het haar enkel seergemaak. Sy moet rus.”

Die hysbakdeur skuif oop. Dean laat Ouma eerste ingaan.

“Druk tien,” sê sy.

Hy druk die knoppie en skuif teen die agterste muur in. Dit is ’n spieëlmuur. Daar is nou twee Deans, en nie een lyk besonder gelukkig nie.

“Jy’s stil,” sê Ouma.

“Ek hou net dop.”

“Wat hou jy dop?”

“Alles.”

Die rooi syfers bokant die deur verander. Drie, vier, vyf.

Dean hou nie van hoogtes nie. Verlede jaar op die reusewiel het hy gemaak of hy sy skoenveter vasmaak. Totdat hulle weer onder was.

Nege …

Toe tien.

Die hysbak ruk en staan stil.

Dean wag vir die deur om oop te gaan.

Dit gaan nie oop nie.

Hy druk die knoppie met die twee pyltjies. Niks gebeur nie. Toe druk hy weer tien.

“Gee hom kans,” sê Ouma.

Die lig bokant hulle flikker.

Dean kyk na haar. Haar hand is styf om die koekblik se handvatsel gevou.

“Ouma?”

“Druk die deurknoppie weer.”

Hy druk.

Die lig gaan af.

Vir ’n oomblik is dit so donker dat Dean sy eie asem hoor. Toe kom ’n kleiner, dowwe liggie aan.

“Ouma, ek het hom nie gebreek nie.”

“Ek weet.”

Haar stem klink anders. Dunner.

Dean sit die inkopiesak neer. In die dowwe lig sien hy hoe Ouma aan haar kraag trek.

“Kry Ouma warm?”

“Bietjie.”

Hy kry ook warm, maar dit voel nie soos gewone warm nie. Sy maag doen daardie ding wat hy doen net voordat die reusewiel oor die hoogste punt kantel.

“Ons is by tien,” sê hy. “Kyk, dit staan daar.”

Ouma knik. Sy kyk nie op nie.

Dean druk die groen knoppie op sy horlosie. ’n Vrolike piepgeluid vul die hysbak.

Ouma skrik.

“Jammer.”

Hy trek sy mou daaroor.

Langs die deurknoppies is ’n geel knoppie met ’n klokkie op. Dean staan op sy tone en druk dit. Iewers lui iets.

Hy hou sy vinger daarop.

’n Stem kraak deur die luidsprekertjie.

“Ja? Wie’s daar?”

Dean laat die knoppie los.

“Dean.”

’n Kort stilte.

“Sit julle vas?” vra die stem.

“Ja. Ek en my ouma.”

“Goed. Ek is Willem, die opsigter. Die krag is af. Het julle ’n lig?”

Dean kyk op.

“Net ’n kleintjie.”

“Goed so. Bly binne en los die deure. Ek het die hysbakmense gebel.”

“Hoe lank gaan dit vat?”

“Hulle is op pad. Ek bly hier onder by die ingang van die woonstelblok.”

Dean kyk na Ouma. Sy staan nou met haar rug teen die muur. Die koekblik hang skeef.

“Kan Ouma nie maar sit nie?”

“Ek sal my rok vuil maak.”

Dean kyk na die vloer.

“Daar’s net een ou lekkergoedpapier.”

Ouma probeer glimlag, maar haar mond wil nie mooi saamwerk nie.

Hy skuif die aartappelsak teen die muur en help haar daarop sit. Toe gaan sit hy langs haar.

Die hysbak lyk van onder af nog kleiner.

“Dean,” sê Ouma, “jy moet nou mooi luister.”

Sy maag trek styf.

“Ek hou nie van klein, toe plekke nie.”

“Ek ook nie.”

“Nee, ek bedoel …” Sy druk haar hand teen haar bors. “My lyf raak bang, al weet my kop ons gaan gehelp word.”

Dean kyk na haar. Ouma is die een wat spinnekoppe met ’n roomysbak uit die swembad haal. Sy bel die munisipaliteit en sê hulle moenie vir haar stories vertel nie.

“Ouma raak ook bang?”

“Vandag nogal ’n bietjie.”

“Maar Ouma is oud.”

“Bang wees vra nie jou ouderdom nie, my kind.”

Hy vryf met sy duim oor die groen knoppie.

“Ek hou nie van hoogtes nie,” sê hy.

“Ek weet, Boeta.”

Dean kyk vinnig na haar.

“Hoe?”

“Jy het op die reusewiel baie lank aan daardie skoenveter gewerk.”

Hy laat sak sy kop.

“Dit was ’n moeilike knoop.”

“Dit moes gewees het.”

Vir ’n rukkie sê hulle niks nie.

Toe hoor Dean hoe vinnig Ouma asemhaal.

Hy spring op en druk die geel knoppie.

“Oom Willem?”

“Ek hoor jou.”

“My ouma voel nie lekker nie. Sy raak bang.”

“Het sy iewers seer?”

Dean vra vir Ouma of sy iewers seer het. Sy skud haar kop.

“Nie seer nie. Net bang … baie bang.”

“Gee vir haar plek. Praat rustig met haar. Ek is hier.”

Dean gaan sit weer. Hy wil vir Ouma sê sy moenie bang wees nie, maar hy onthou hoe min dit vir hom gehelp het by die karneval.

“Wil Ouma my hand vashou?”

Sy vat dadelik sy hand.

Haar hand voel koud.

Dean kyk na die koekblik.

“Watter koek het Ouma gebak?”

“Wat?”

“Vir tannie Ans.”

“Madeirakoek.”

“Met versiersuiker?”

“Natuurlik.”

“En is daar ’n stukkie vir my?”

“Jy het mos by die huis ’n stukkie gekry.”

“Dit was net die skewe punt. Dit tel nie.”

Ouma haal stadig asem uit.

“Ek sal dit onthou wanneer ek weer jou toebroodjies sny.”

Dean skuif nader. Hulle praat oor koek, toe oor tannie Ans se hond wat haar vals tande uit ’n glas gesteel het.

“Het hy dit opgeëet?” vra Dean.

“Nee. Maar Ans sê sy kan nog steeds nie daarmee kou sonder om aan hom te dink nie.”

Ouma lag. Net ’n kort laggie, maar haar vingers druk minder styf om syne.

Toe praat Willem weer.

“Die tegnikus is hier, julle twee.”

Daar is voetstappe, ’n metaalgeluid en stemme anderkant die deur.

Dean staan op.

“Moet ons terugstaan?”

“Ja, asseblief.”

Hy help Ouma regop. Sy hou nog sy hand vas.

Toe die deur uiteindelik oopskuif, staan tannie Ans daar met ’n loopraam voor haar.

“Nou waar bly julle? Ek het al die ketel twee keer gekook!”

Ouma kyk haar aan.

“Ons het besluit om eers ’n bietjie in jou hysbak te kuier.”

Tannie Ans se oë beweeg van Ouma se bleek gesig na Dean se hand in hare. Sy skuif eenkant toe.

“Kom. Die tee wag.”

In die gang tel Dean die inkopiesak op. Die konfytflesse klingel.

“Ek sal die koek vat,” sê hy.

“Albei?”

“Ek het mos twee hande.”

By tannie Ans se voordeur glip sy mou terug. Die horlosie piep toe die sak daarteen druk.

“Watse mooi ding het jy daar?” vra tannie Ans.

“Dis my heldehorlosie.”

“Werk hy?”

Dean kyk na Ouma.

“Die groen knoppie nie eintlik nie.”

Ouma vat die koekblik by hom.

“Die geel een het heel goed gewerk.”

Later, met ’n behoorlike stuk koek op sy bord, kyk Dean deur tannie Ans se venster. Van die tiende vloer af lyk die motors onder net soos sy speelgoedkarretjies.

Hy bly ’n ent van die venster af.

“Ouma?”

“Ja?”

“As ons huis toe gaan …”

Ouma sit haar koppie neer.

“Ry jy weer saam met my?”

Dean knik en vat nog ’n hap.

“Maar Ouma druk die knoppie vir tien. Ek sal die geel een dophou.”

© Marlene Erasmus
31/10/2026

 

 

 

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed