Jongste aktiwiteit:

die blospienk era

die blospienk era

eens was ek ’n prinses
in ’n blospienk wêreld
met drome aan my voete
en die wêreld
nog ongeskonde in my hande

later het die stoel
voor die venster
my lyf se lyne leer ken

ek het die gordyn wyd oopgetrek
vir sonlig om in te dartel
om warm oor my knieë te kom lê
terwyl ek besig was
met my lewe

daar was stemme in die gang
en ook voetstappe
die alledaagse kom en gaan
ek het skaars gehoor
hoe die dae verbystap

nou lê daar silwer in my hare
en die blospienk
het stilweg uit die kamer gewyk

ek het nie gesien
wat herfs saamgeneem het nie

buite laat die bome
hulle roesbruin blare los
een vir een
net soos die jare
wat ek nie meer
bymekaar kan hou nie

die gordyn hang steeds wyd oop
en ’n strepie middagson
skuif oor die leë vloer
tot teen my voet

ek bly nog ’n rukkie sit

al wat nou nog hier luier
is die groot
stilte

©MarleneErasmus

31/10/2026

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed