Jongste aktiwiteit:

SKADU’S VAN TYD – METGESEL VAN MENSLIKE BESTAAN.

Wat is skadu’s van tyd? Of moet ons eerder praat van tydspore? Wat is die aard daarvan in die menslike lewe? Skadu’s is die onuitwisbare naloop van ervaring. Hulle dra ongetwyfeld by tot vorming van die menslike bewussyn en identiteit asook sy interaksie met die wêreld en sy geskiedenis.

In hierdie artikel word die konsep skadu’s van tyd benader vanuit ’n fenomenologiese invalshoek. Die simboliek van herinneringe in die menslike ervaring, asook die impak daarvan op die geheue, kom gevolglik ook ter sprake.

As vertrekpunt kyk ons na tyd as ’n bestaanservaring.

1. Tyd as ’n bestaanservaring
Binne die Westerse denke is tyd nie slegs ’n meetbare eenheid nie. Tyd is ’n diepe bestaanservaring wat deurdring tot die menslike psige, geheue en identiteit, wat ʼn fundamentele dimensie van menslike bestaan is. Hierdie siening is gegrond op die feit dat tyd nie net iets is wat van verbygaande aard is nie, maar wel iets waarin ons voortdurend leef.
As tydelike wesens is die mens gewikkel in die ervarings uit die verlede, hede en toekoms. Hierdie drieledige konsep van tyd, struktureer ons daaglikse roetine en is ook verantwoordelik vir die vorming van ons selfbegrip asook die verhoudinge waarin ons tot ander staan.
Skadu’s van tyd, aan die ander kant, versinnebeeld die emosionele en psigologiese nagevolge van hierdie tydlike bewussyn. Dít is die herinneringe wat ons dra, die verliese ons wat ons ly – wat nie wil wyk nie, asook die nostalgie wat die hede met die verlede verbind.
In sy boek In Search of Memory: The Emergence of a New Science of Mind wys Eric Kandel daarop dat hierdie “skadu’s” nie net metafories van aard is nie, maar ook ’n neurologiese werklikheid. Herinneringe laat letterlik ‘spore’ in die brein, wat volgens hom, fisiese merkers van ervarings is, wat voortleef in die mens se bewussyn.
Op hierdie noot bekyk ons die skadu’s wat uit tydspore ontstaan van nader.

2. Skadu’s van tydspore
Tyd lei tot onmeetbare skadu’s. Hierdie skadu’s is nie bloot abstrakte idees nie, maar konkrete elemente van die menslike psige, op sowel fisiese as kulturele vlak.
Tydens elke mens se lewensreis word tyd, bo en behalwe jare, ook in dieper, minder sigbare ‘spore’ gemeet. Hierdie spore kan beskryf word as die ‘vorme’ waarin menslike ervarings gegiet word. In sodanige ‘vorme’ word spore ‘gegiet’, wat dan op die emosionele vlak hul merk laat. Skadu’s vloei ook voort uit hierdie ‘spore’ wat die mens tydens sy lewenswandel agterlaat.
Meer spesifiek verteenwoordig hierdie skadu’s van tydspore geheuevorme, emosionele patrone, en belewenisse wat voortleef in die menslike liggaam, sy onderbewussyn en in sy kultuur. Soos Maurice Merleau-Ponty dit in sy boek Phenomenology of Perception stel, is die liggaam nie net ’n passiewe entiteit nie, maar ’n ‘geheue-instrument’ wat ’n ‘draer van tyd’, is. Die mens se herinneringe wat in sy geheue gehuisves word, word ook sigbaar gemanifesteer in die manier waarop hy loop, kyk, reageer en leef.
Tyd is ’n onherroeplike nalatenskap. Elke aksie, elke ontmoeting, elke verlies en elke vreugde in die verloop van die mens se lewe laat ’n spoor na.
Elke spoor dra ’n skadu, nie noodwendig altyd ’n donker skadu nie, maar altyd getrou aan die waarheid ten opsigte van dit wat op sy lewenspad gebeur het. Hierdie skadu’s is nie passiewe herinneringe nie, maar aktiewe mede-skeppers van ons huidige omgang met en belewenis van die wêreld waarin ons leef.
Gevolglik kan ons konkludeer dat die mens nie net ’n ‘tydsreisiger’ is nie, maar ook ’n ‘tydsdraer’. Iemand wat die verlede, soms onbewustelik, in homself dra en dit ook aan andere oordra.
Wanneer ons van tydspore praat, verwys ons nie bloot gebeure uit vervloë dae nie. Ons verwys na ervarings wat ’n bepaalde invloed het op die mens se gedrag, emosie en keuses.
Hierdie ervarings van die mens manifesteer dikwels in lewenspatrone soos gewoontes, verwagtings, vrese en begeertes; wat hul oorsprong het in ’n vroeër tyd van sy lewe.
Terselfdertyd werp hierdie patrone ook hul eie skadu’s. Hierdie skadu’s spruit voort uit pyn deur verlies van iemand afstaan aan die dood, asook deur die voortdurende herinnering aan sekere onaangename insidente in jou verlede.
Só lei die skadu’s van tydspore ons noodwendig tot, wat ons noem ‘bewussynstyd’. Kom ons kyk vlugtig daarna.

3. Tyd en Bewussyn
Die menslike ervaring van tyd is fundamenteel liggaamlik en geheue-gebonde. Maurice Merleau-Ponty beskryf die liggaam in sy boek Phenomenology of Perception as die “primêre manier waarop die wêreld aan ons gegee word.” Die liggaam onthou deur middel van die sensoriese herhaling van fisiese ‘data’, asook deur die traumatiese herbelewing van skaduspore uit die verlede.
Hierdie herinneringe word nie net in die bewuste geheue gestoor nie, maar vorm deel van ’n onderbewuste veld waarin die menslike identiteit uiteindelik gevorm word.
Op hierdie wyse word tyd nie slegs ervaar as ’n lineêre verloop van momente nie, maar as ’n beliggaamde relaas van wat ons was, is, en kan wees. Met ander woorde as ’n dinamiese stroom van herhaling van, verwerkte en onverwerkte ervarings.
Dit lei ons dan ook tot ’n kykie na die simboliek van skadu’s in die onderbewuste van die mens.

4. Die Skadu as Simbool van die Onbewuste
Die Switserse psigoanalis, Carl Jung, het in sy boek Aion: Researches into the Phenomenology of the Self, die begrip ‘skadu’ gebruik om daardie dele van die self aan te dui wat nie in die bewuste selfbeeld opgeneem is nie. Daarby ingeslote is die skadu’s van sekere lewenservarings wat onderdruk, verwerp of vergeet is.
Hierdie skadu’s verdwyn egter nie, hulle leef voort in die onderbewuste. Soos Jung tereg skryf: “One does not become enlightened by imagining figures of light, but by making the darkness conscious.”
Tydspore en hul skadu’s funksioneer dus binne die spanningsveld tussen bewussyn en onderbewussyn. ’n Kind wat emosioneel verwaarloos was, dra daardie tydspoor, en sy gepaardgaande skadu, later in sy of haar verhoudings met andere en kom sodanige spore met negatiewe gevolge na die oppervlakte.
Op dieselfde wyse dra ’n samelewing wat deur trauma gegaan het, kollektiewe skadu’s.
Dit word gekenmerk deur onderbewuste patrone van skuld. Verlies gely, of ’n gebrek aan weerstand teen dit wat die vorming van sosiale bewussyn beïnvloed, is kenmerkend hiervan.
Met dit gesê, moet ons ook aandag gee aan die estetika van tyd. Dít, in kort, is, die wyse waarop tyd en sy skadu’s sigbaar word.

5. Die estetika van tyd
Die kunstenaar en digter beleef tyd anders as die wetenskaplike. Waar die wetenskap tyd meet en kategoriseer, ervaar die kunstenaar dit as vloeibaar, subjektief en gelaai met betekenis. In die literatuur word tyd voorgestel as iets wat in die geheue herroep word.
’n Voorbeeld hiervan is dat die aangename geur van koffie wat die een of ander herinnering aan ’n aangename vakansie langs ’n bosveldvuurtjie in jou geheue oproep. Dit is kortweg gestel ’n tydskadu wat deur sintuiglike ervarings geaktiveer word.
Kuns funksioneer dikwels as ’n vangnet vir die skadu’s van tyd. Skilderye, musiek, films, en poësie poog om die ontasbare tasbaar te maak, om sodoende tyd se afwesigheid sigbaar te vergestalt.
Selfs fotografie, soos Roland Barthes dit beskryf in sy boek Camera Lucida, dien as ’n stille getuienis van wat was. ’n Skadu van ’n oomblik, bevries vir die ewigheid, maar dien terselfdertyd as ’n herinnering aan ’n traumatiese verlies. Elke foto sê stilweg iets van, ‘dit wat eens was’ en ‘nou nie meer daar is nie’.
Laasgenoemde bring ons by toestande van tydige verlies en rou. Die estetika van tyd is dus nie net ’n viering van bestaan nie, maar ook ’n stille getuienis van verganklikheid.
Verganklikheid is daardie dinge in die lewe wat onherroeplik agter ons lê, maar tog in ons voortleef as beeld, ’n klank of ’n herinnering.
Op hierdie noot moet ons noodwendig ook na verlies en rou kyk as dit wat voortvloei uit tyd.

6. Tyd, verlies en rou
Een van die mees emosionele en verwarrende ervarings van tyd is dié van rou. Die dood bring nie slegs die verlies van ’n geliefde nie. Die dood veroorsaak ’n verdraaiing van tydsbelewing. Minute kan soos ure voel, herinneringe dring die hede binne, en tyd verloor sy lineêre gang.
Die Britse psigoanalis, Melanie Klein, wys daarop, in haar invloedryke artikel Mourning and Its Relation to Manic-Depressive States, gepubliseer in The International Journal of Psychoanalysis, dat verlies die innerlike wêreld radikaal herkonfigureer. Sy beklemtoon dat die skadu’s van tyd ’n rou gestalte aanneem.
Laasgenoemde gebeur as die oorledene deur herhalende herinneringe, droombeelde, of selfs die gevoel van sy teenwoordigheid wat in die psige van die persoon wat alleen agtergelaat word, bly voortleef.
Rou is dus ’n emosionele vorm van tydskadu, die toestand waarin die verlede spookagtig teenwoordig bly in die hede. In rou spat tyd emosioneel uitmekaar. Die belewenis van tyd word hervorm en dwing die self om nuwe maniere van sin en rede vir bestaan te vind.
Daarbenewens word tyd in die religieuse en spirituele gemeenskappe as tydloos gesien. Ons dien kursories daarna te kyk.

7. Die begrip van tyd as ‘tydloos’ in die religieuse en spirituele kringe
In baie kulture is daar ’n diepe strewe om die beperkinge van tyd te oorskry of te ontvlug. Sodoende, glo hulle, kan hulle ontsnap uit die vloei van verandering, verganklikheid en lyding.
In die Boeddhistiese tradisie word die siklus van wedergeboorte, bekend as samsara, beskou as ’n eindelose sirkel van lyding. Hierdie kringloop, glo hulle, kan slegs deur verligting (nirvana) beëindig word. Laasgemelde is ’n tydlose toestand van bevryding waarin die skadu’s van tyd finaal vervaag.
In die Christelike tradisie bestaan daar ’n betekenisvolle teenstelling tussen chronos en kairos. Daar word hier ’n onderskeid getref tussen die lineêre, meetbare tyd en die goddelike, kwalitatiewe tyd. Kairos verwys na die oomblik van genade, openbaring of ewige, as ’n ‘skeurende’ breek met gewone tyd waarin die ewigheid kortstondig ervaar word. In sulke oomblikke, sê mense dikwels: “Die hemel het my aangeraak.” Dit is ervarings buite horlosietyd, ast’ware tydlose momente, wat ons uit ons gewone bestaan oplig.
Hierdie spirituele opvattings van tyd wys op die menslike begeerte om begrip en die ewige binne die tydelike te ontdek, ’n poging om die tyd self te transendeer.
Op hierdie noot dien ons te kyk na tyd in die era waarin ons tans lewe naamlik die digitale era.

8. Tyd in die digitale era
Ironies genoeg – in ’n era van horlosies, kalenders, digitale skerms en presiese tydmeting, het die mens nog nooit soveel aandag aan tyd gegee nie, en tog nog nooit so vervreem daarvan gevoel nie. Die digter, T.S. Eliot, het reeds in 1936 voorsien dat moderniteit sou lei tot “time not our time”, ’n tydservaring wat nie meer behoort aan die menslike ritme nie.
In die era van sosiale media word tyd opgebreek in eindelose ‘scrollebare’ flitse van inligting, afleiding en oppervlakkige beelde wat die diepte van ervaring verdun. Hierdie fragmentasie van tydservaring bring nuwe vorme van psigologiese spanning mee soos onderandere angs, gejaagdheid, ’n gevoel van onvolledigheid, en die konstante indruk dat daar altyd iets belangriker elders aan die gebeur is.
Selfs geheue neem ’n nuwe dimensie, buite onsself geplaas aan. Wolkdienste, fotogalerye, digitale argiewe en databestuur vervang die innerlike geheue met eksterne stelsels. Die ‘skadu’s van tyd’ is nou digitaal geberg. Dit is vasgevang in lêers, pixels en algoritmes, maar hulle word dikwels van konteks en emosionele diepte gestroop. Want tegnologie, hoe gevorderd ook al, gee ons slegs ‘gebroke weerkaatsings’ van wat dit opneem in gevoellose gestolde oomblikke.
So word tyd in die digitale era beide ‘bewaar’. Digitale tyd is voortdurend beskikbaar, maar dikwels verkeerd wanneer dit by die korrektheid van feite kom. (Daarom verkies ek om sélf literatuur as bronne oor ’n onderwerp te raadpleeg – dit net terloops.) Die vraag is nie of ons skadu’s het nie, maar of ons hulle herken as deel van ons menswees, as die sagte duisternis wat sin gee aan lig.

9. Gevolgtrekking.
Teen die agtergrond van dit wat ek in hierdie artikel gesê het, kom ek dan tot die gevolgtrekking dat:
• Die skadu’s van tydspore dra meer as herinneringe in die sin dat hulle strukture van menswees is;
• tydspore vorm die argitektuur van menslike bestaan in die sin dat hul skadu’s die stille metgeselle van ons bewussyn is;
• om saam met hierdie skadu’s te leef, is om met groter deernis, begrip en wysheid daarmee te deel in die verloop van jou lewe, deur stille bepeinsing en die sinvolle bestuur van daarvan; en
• skadu’s van tyd, tyd hetsy linieêr of siklies kannie in trurat gegooi word nie. Daar moet daarmee gedeel word deur dit op die emosionele vlak aan te spreek.
In ’n wêreld wat al hoe vinniger verander, is dit dalk die skadu’s wat ons herinner aan wie ons was, wie ons is, en dalk ook aan wie ons nog kan wees.
———————ooo000ooo———————-
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 2 125]
                                         Bibliografie
• Barthes, R., 1980. Camera Lucida: Reflections on Photography. New York: Hill and Wang.
• Caruth, C., 1996. Unclaimed Experience: Trauma, Narrative, and History. Baltimore: Johns Hopkins University Press.
• Eliot, T.S., 1936. Burnt Norton, in Four Quartets. London: Faber and Faber.
• Jung, C.G., 1959. Aion: Researches into the Phenomenology of the Self. Princeton University Press.
• Kandel, E.R., 2001. In Search of Memory: The Emergence of a New Science of Mind. New York: W.W. Norton.
• Klein, M., 1940. Mourning and its relation to manic-depressive states. The International Journal of Psychoanalysis, 21, pp.125–153.
• Merleau-Ponty, M., 1962. Phenomenology of Perception. Trans. Colin Smith. London: Routledge.
• Nora, P., 1989. Between Memory and History: Les Lieux de Mémoire. Representations, 26, pp.7–24.
• Ricoeur, P., 2004. Memory, History, Forgetting. Trans. Kathleen Blamey and David Pellauer. Chicago: University of Chicago Press.
• Volkan, V.D. (1997). Bloodlines: From Ethnic Pride to Ethnic Terrorism. New York: Farrar, Straus and Giroux.

 

 

 

 

 

 




1 Kommentaar

Lewer Kommentaar

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Pieter Mostert het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Rikus het n geregistreerde lid geword