Jongste aktiwiteit:

Dobberend #brons

Dobberend

Soos ‘n strand bal word haar hart heen en weer gegooi tussen die mense wat sy lief het. Dit lyk so idillies en mooi.

Laggies weerklink midde die breek van die branders, en die sproei van die witperdjies verberg die sout strepe oor haar wange.

Elke nou en dan vat die bal sy eie koers en rol oor die strand in gevaar van die aanhoudende branders se breek. Maar dan is daar altyd iemand bereid om die moeite te doen om haar te kry.

In ‘n onbewaakte oomblik kies die bal koers na die oop see. Met elke brander breek word sy verder en verder weggevoer. Bons en skuur tussen skerp rotse tot net die oopte, die ontsagwekkende, onheilspellende oseaan uitgestrek vergader rondom haar. Die verskriklike alleenheid dring deur tot binne haar diepste wese.

Maar selfs in die diepste eensaamheid, is daar ‘n fluistering van die wind, ‘n belofte dat die gety altyd weer sal draai. Die hoop bly soos slakke klou teen ‘n rots. ‘n Stilte in die onbekende wat selfs die hart laat rus.

Van die strand af, kyk hul na haar, arms uitgestrek, maar hul stemme word deur die brullende branders verswelg. Tevergeefs word planne gemaak om haar te red.

Maar die see, meester van vermomming, vou haar toe en die skuimende golwe verberg haar visie. Sy wil opgee, sy kan nie meer, sy’s moeg gewroeg.

Eens was sy ‘n bonsende bal. ‘n Bal wat dit geniet het as ander met haar speel. Sy was altyd beskikbaar, sy was daar as hulle haar nodig gehad het. Sy was vir hulle genot en plesier.

Maar nou dobber sy verlore op die donker oop oseaan.

Tog, elke keer as die deining haar oplig, sien sy die flikkering in die verte en dalk, net dalk is daar vrede in die verlore gaan.

In Sy weerkaatsing sien sy wat sy altyd wou wees, en besef dat Hy haar skoon was van haar vernietigende self, en dat Hy aan haar ‘n nuwe horison wil gee.

‘n Frats golf lig haar oor die deining en bring haar tot ruste op ‘n skoon strand.

Christa Diederiks ©




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed