
Hande wat lei en laat gaan #brons
Hande wat lei en laat gaan
God gee vir ons kinders om groot te maak – ‘n heilige taak vol verantwoordelikheid en liefde. Wanneer hulle klein is, moet ons hulle voed, beskerm en koester. Maar daar kom ‘n dag wanneer hulle self moet opstaan en rond beweeg. Ons sit nie hulle voetjies een vir een voor hulle neer nie; ons hou hulle nie krampagtig vas nie; ons strek ons hande uit na hulle, moedig hulle aan, en sê: “Kom na my toe.” Hulle moet self leer om op te staan van die grond af en die eerste tree te gee.
As hulle begin loop, vat ons hulle hand en lei hulle; soms oor rowwe terrein. Wanneer hulle val, leer ons hulle om op te staan – soms met ‘n soen op die seerplek, ander kere met ‘n pleister. Maar dis belangrik dat hulle dit self leer en aanhou probeer. Ons kan nie vir hulle loop nie.
Later gee ons vir hulle ‘n fiets, ‘n nuwe uitdaging. Hulle moet self leer om te balanseer en ontdek dat vertroue en momentum die sleutel is om vorentoe te beweeg. As ouer kan ons nie aanhou om hul hand vas te hou terwyl hulle op die fiets ry. Ons kan langs hulle hardloop, keer as hulle wil val en die trane afdroog as dit nodig is. Ons werk is om hulle aan te moedig om weer op te staan, selfs na die slegste val.
Wanneer hulle skool toe gaan, kan ons nie namens hulle leer nie. Ons kan hulle net motiveer om hul beste te gee en die meeste uit die ervaring te haal. Ons wys hulle hoe om goeie besluite te maak, en vertel hulle van die vrug van die Gees, wat riglyne bied vir ‘n lewe van betekenis en liefde – dié eienskappe wat die Heilige Gees in ons vorm: liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Weereens kan ons dit nie namens hulle doen nie, maar ons kan die saad plant en vertrou dat dit in hul lewens sal groei.
Dan, soos die arendkuiken, moet hulle uiteindelik die nes verlaat en hul vlerke sprei in die wye wêreld. So hoop en vertrou ons dan dat die goeie wat ons hulle geleer het, hul rigting sal gee. Ons bid dat hulle selfs uit ons foute sal leer – die dinge wat ons, in ons onkunde of onvolmaaktheid, moontlik verkeerd gedoen het.
Maar die nes is nie hul bestemming nie. Hulle doel is om voort te gaan, om self nes te bou, en om ander te lei soos ons hulle gelei het. En so gaan die siklus van lewe en liefde voort.
Net soos ons ons kinders grootmaak, so doen God met ons en sê: “Kom na My toe. Ek sal jou hand vat, ek sal jou optel en dra indien nodig, ek sal jou trane afvee, maar ek gaan nie jou lewe vir jou leef nie.” Hy wys ons deur die voorbeeld van sy Seun, Jesus, hoe om te leef. Hy fluister leiding wanneer ons afdwaal, wys ons terug na die regte pad, maar die keuses bly ons s’n.
Dan net soos God ons roep om Sy vrug in ons lewens te dra, verwag Hy van ons om dieselfde te doen vir ander: om te lei, op te hef en lief te hê soos Hy ons liefhet.
As ouer is ons taak om met liefde te versorg, met wysheid te leer, met geloof te laat gaan en met vertroue aan die liefdevolle hand van God oor te gee.
Christa Diederiks ©
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.