Die Kalahari
sy fluister op die duintoppe
skryf haar mites en legendes
in die lyne van die wind
saans bêre sy stories in die sand
wat die dag se voete vergeet het
tsammas* groei hier uit verlange
waar skaduwees soos mak springbokke wei
tussen die vergeetkant van die duine
waar die watergate net in halfsinne praat
en die wolke nooit heeltemal antwoord nie
haar mense luister ook stadig
want elke stilte dra ’n storie
en elke storie word uiteindelik
’n fluistering wat in die wind reis
na more …
—–oooOooo——
©Pieter Mostert
(*Die tsamma = ’n vrug wat soos ’n waatlemoen lyk. Dit is ‘n belangrike bron van water en voedsel vir mense en diere in die Kalahari. Die vrugte groei natuurlik tussen die rooi sandduine op die oop duineveld en in die vlaktes tussen die duine).
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.