As dit popcorn reen
Brons
Gisteraand sit ek rustig voor die TV, minding my own business, toe daar skielik ‘n helse slag van buite in die tuin my begroet. Dit klink soos crackers wat afgaan, en ek wil-wil my net vervies vir die buurt se kinders wat so vir kwaadgeld rondloop. Dis mos weer Halloweentyd! Eers wil ek opvlieg, my windbuks kry en somaar die blou wiks onder hulle uitskiet, maar toe bedink ek my. Wat as ek een sou beseer? Ek is nie lus vir hofsake nie.
Ek sluk toe maar my woede en sit die TV harder.
Die klappers het seker so vir 20 minute aangehou en toe raak dit stil. Toe eers is ek buitentoe om te gaan kyk of hulle enige skade aangerig het nie. Maar toe ek buite kom, sien ek dit is hael wat die hele tuin vol lê. Dit was toe nooit die kinders nie. Maar dit was steeds vir my vreemd, want ek het glad nie die reen gehoor nie en my stoep is droog.
Dronkgeslaan oor die verskynsel tel ek toe maar van die hael op en weereens verbaas ek my. Dit lyk nie soos hael nie. Dis sag en amper wollerig, amper soos die manna in die woestyn, as ek nou die vertelling kan glo. Die hele tuin is oortrek daarvan.
Maar dis mos eers toe ek daaraan proe, dat die werklikheid van wat hier gebeur het, tot my deurdring. Dit was toe nooit klappers of hael nie. Dit was toe al die tyd my mielies wat gespring en “popcorn” geword het. Want daar was mos ‘n verskriklike hittegolf.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.