Villa Octavia
Villa Octavia
Brons
Ek was nog altyd een vir vaste grond onder my voete, vir rondkrap in die tuin en vir oor-die-muur kuiertjies met die buurman. Daardie om-die-blok wandeling met my hondekinders en die jaarlikse bring-en-braai straatbraai. Om nie eers te praat van die braai in my eie lapa nie. Maar dit het skielik, feitlik oornag, verander en my hele wêreld omgekeer. Want die eienaar van die plekkie wat ek nou al vir tien jaar huur, plat op moeder aarde natuurlik, het besluit om te verkoop. Die aanbod is aan my gemaak om te koop, maar geld daarvoor het ek nie. Ek moes dringend ‘n ander plekkie soek.
Daar is baie faktore om in ag te neem as daar, om watter rede ookal, op ‘n nuwe blyplek besluit moet word, maar die belangrikste daarvan kon ek nie akkomodeer nie – die voorreg van ‘n woonplek op straatvlak, daar waar ek die klippe en grond tussen my tone kan voel, standvastig op moeder aarde. Nee, al plek wat beskikbaar was wat voldoen het aan my kriteria en vereistes van bekostigbaarheid, groote, en omgewing, was die woonstel op die tiende vloer van Villa Octavia.
Eers, met die aanhoor van my lot was daar die skok, toe die nee-dankie, die dit-kan-nie-wees-nie en die laat-ek-maar-nog-so- bietjie-rondkyk. Dan die hoopvolle lieg vir myself ek-sal-op-‘n-ander-plek-regkom. Maar dan, na die skok, kom die realiteit, die berusting en die aanvaarding onwillekeurig – dis wat dit is! Ek. moet die beste daarvan maak. Daar is nie iets anders nie. En dan die emosionele losmaak (en gereedmaak) en die finale intrek by Villa Octavia nommer 110. Hoog in die lug. Op die tiende vloer! Ver van moeder aarde af. En boonop het ek nog hoogtevrees ook! Tuingereedskap word verkoop, want wie wil dan nou tuinmaak op die tiende vloer! Met hartseer en trane neem ek afskeid van my grassnyer, my getroue bondgenoot die afgelope tien jaar. En dis asof ek ook die trane in sy oë gewaar. Die einde van ‘n era! Dan die tuinslang, die kruiwa, die potplante.
Maar dan is daar my dierekinders. Appels, my boerboelseun en Lilly, sy sussie. En Grietjie, my skilpad. Hoe gee ‘n mens jou kinders weg? Maar ek kan ook nie hulle die straf van ‘n tiende verdieping aandoen nie. Ek voel amper soos ‘n buite-egtelike moeder wat haar kinders “dump”. Ek sien die hartseer in hul oë toe hulle nuwe ouers hulle kom haal. Sal hulle okay wees? Sal die nuwe ouers net so mooi na hulle kyk soos ek? Sal hulle my onthou of dalk helaas vergeet? Sal hulle my vergewe?
En dan het ek ‘n ding oor trappe. Veral as daar getrek word. Daardie vrieskas en rusbank wat maar net nie heeltemal gemaklik is met die opdra nie. Daardie dubbelbed en ekstra klerekas. En die boksvrieskas wat nog uit ouma se kombuis kom. Gelukkig darem vir “flat screen” TV’s.
Gelukkig is daar darem iets soos ‘n vervoermaatskappy. Dit lyk voorwaar of hulle dit geniet en of hulle weet wat hulle doen. Maar ek moet sê ek dink oorle ouma se vleuelklavier was selfs vir hulle maar ‘n uitdaging. Dalk was dit my verbeelding, maar miskien was daar tog ‘n swets of twee. 100 keer het hulle vandag die trappe opgeklim en 100 keer af, vir my net een te veel. Die jare het al met my aangestap en rus-rus en tree vir tree hanteer ek die hierdie uitdaging. Die flinke manne van die vervoermaatskappy was al die vierde maal op pad af toe ek uiteindelik bo uitkom. My uitgaan wil ek in die toekoms tot die minimum beperk, want wie wil dan nou elke dag 100 trappe klim, eintlik 200, want as ek afgaan moet ek weer opgaan ook. Checkers 60-60 doen dit ook nie vir my nie, want hulle kom net tot by ontvangs. Maar vir lank sal die trappe nog soos ‘n onoorkomelike berg voor my kom lê, want ek moet nog vir tien jaar elke oggend werk toe gaan voor ek aftrede kan geniet… en elke aand terug.
Gelukkig darem is die wassery op die elfde vloer. En ‘n restaurant met groot vensters wat oor die hele stad uitkyk. En die gym, wat ek so een maal per week wil besoek, is skuins oorkant my woonstel op die tiende vloer. Daar is selfs ‘n dokter somaar baie naby aan my. Dis nou vir wanneer die gym my onderkry!
Daar is altyd so ‘n stukkie geluk by die ongeluk, want so ontmoet ek toe mos die instruktrise by die gym, niemand anders nie as die wilpse blondekop by nommer 111, die woonstel net langs my. En deel van haar oefenprogram is trappe klim! Skielik word trappe klim ‘n aktiwiteit waarna ek uitsien. Want sy draf hulle lag-lag uit. En sy het my belowe as ek haar dit kan meedoen, kan ek haar kry!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.