Jongste aktiwiteit:

Die einde van een gedig word die eerste woord van die volgende.

Die getal tien het deur die eeue ’n betekenis gekry wat veel verder as sy numeriese waarde strek. Tien sluit ’n reeks af, maar juis daarin lê die moontlikheid van ’n nuwe begin.
Wanneer ’n mens by tien treë uitkom, kan jy terugkyk na die spore van die nege wat jy reeds gegee het. Elke spoor vertel iets van die pad wat jy geloop het. Voltooiing beteken nie stilstand nie. Dit is die oomblik waarop iets nuuts gebore kan word. Die tiende tree bring die eerste nege treë tot voltooiing, maar wanneer jy jou voet vir die volgende tree oplig, begin ’n nuwe reis, weer by een. Só word tien ’n drumpel tussen dit wat voltooi is en dit wat nog voorlê. Die waarde van die tiende tree lê daarin dat jy jou voet oplig vir die elfde.
Dít herinner my ook aan die skepping. Genesis begin met ’n wêreld wat woes en leeg is. Dan klink God se skeppingswoord: “Laat daar lig wees.” Uit die woeste en leë toestand ontstaan orde, ritme en onderskeid. Die skeppingsdae ontvou in ’n bepaalde orde, soos ’n groot goddelike gedig wat na voltooiing beweeg.
Wanneer die skeppingswerk voltooi is, eindig God se bedoeling daarmee egter nie. Die mens word binne die voltooide skepping geplaas en ontvang ’n opdrag om dit te bewerk en te bewaar. Die voltooiing van die skepping word dus terselfdertyd die begin van die mens se verantwoordelikheid daarin.
Vir my kry tien ook ’n besondere betekenis binne die wêreld van digkuns. ’n Digter neem gedagtes, beelde en herinneringe uit die lewe en vorm dit volgens die beginsels van ars poetica tot ’n gedig. Wanneer die laaste woord geskryf is, is die gedig voltooi, maar die betekenis daarvan eindig egter nie daar nie. Die leser neem die gedig na sy eie wêreld en ontdek daarin nuwe betekenisse. Dit kan as ’n poëtiese kringloop verstaan word. Die laaste versreël sluit die gedig af, maar die stilte daarna is nie leeg nie. Dit word ’n ruimte waarin ’n volgende gedagte ontstaan. Die einde dra reeds die moontlikheid van ’n nuwe begin.
Miskien is die diepste geheim van tien dat die einde van een gedig die eerste woord van die volgende word.

————————oooOooo————————
© Pieter Mostert
[woordtelling: ongeveer 399]
[Nota: kortom is Ars Poetica “Die Kuns van Poësie”]




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed