Jongste aktiwiteit:

Agter elke voltooiing wag daar ’n nuwe begin

Oktober is die tiende maand. Die syfer 10 op die kalender is ’n klein teken, maar is inderwaarheid die draer van groot betekenis. Tien vingers, tien gebooie, tien syfers waarmee die mens leer tel, meet en orde skep. Tien sluit ’n reeks af. Dit dui op voltooiing, maar agter elke voltooiing wag ’n nuwe begin.
Hierdie Oktober laat die syfer tien my egter aan my eie onvoltooide take dink.
Een daarvan is ’n manuskrip waaraan ek reeds etlike jare werk. Ek het dit geskryf, herskryf, oor en oor gelees en weer herskryf. Ek weet presies waar ek nog kan skaaf verander en verbeter, maar miskien is dit juis die probleem.
Solank die manuskrip op my tafel lê, behoort dit aan my en kan ek altyd nog iets verander.
Sodra ek dit aan my dosent voorlê, word ek blootgestel aan oordeel, kritiek en moontlik ’n swak punt. Daarom stel ek die einde uit.
Ek het myself wysgemaak dat dit nog nie goed genoeg is nie. Die waarheid is dalk eerder dat ek bang is om iets wat vir my betekenisvol is, los te laat.
Tien wys my egter daarop dat voltooiing nie volmaaktheid beteken nie. Voltooiing kan plaasvind terwyl daar steeds ruimte vir verbetering bestaan. Die laaste woord hoef nie die beste woord te wees wat ooit geskryf is nie. Dit kan die woord wees waarmee jy bereid is om jou werk mee los te laat.
Ek dink aan al die kere wat ek gesê het: môre.. ek sal môre …
Hierdie Oktober wil ek hê tien moet anders wees. Nie die tiende hersiening nie, maar die finale besluit. Ek wil die punt plaas waar ek tot nou toe telkens ’n komma gesit het.
Alhoewel 10 op voltooiing dui, wag daar agter elke voltooiing vir my ’n nuwe begin.
—————————-oooOooo————————————
©Pieter Mostert
[woordtelling =311]

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed