Jongste aktiwiteit:

Dag Zero

(Woordtelling : 793)

 

Dit was seker een van die vreesaanjaendste frases wat ek nog ooit gehoor het – Dag Zero. Om te dink dat daar ʼn dag kon aanbreek waar daar geen water uit die krane sou loop nie is nogal skrikwekkend. Mens kan immers vir ʼn redelike tyd sonder kos klaarkom, maar sonder water? Afhangende van jou metabolisme, kan ʼn persoon tussen twee dae en ʼn week sonder drinkwater oorleef. En, al oorleef jy vir ʼn week, sal jou liggaam soveel skade opdoen dat jy heel waarskynlik steeds aan nierversaking of iets dergeliks sal sterf.

Die voorspelling was dat daar teen Junie 2022 geen bruikbare water in die opgaardamme van die Oos-Kaap sou wees nie. Die inwoners was dus ernstig versoek om elke moontlike druppel te spaar. Die vorige verdoemende voorspelling was vir die Wes-Kaap en hul krane sou teen April 2018 opgedroog het. Op ʼn wonderbaarlike manier het daar net-net betyds genoeg reën geval en die opgaardamme was gou weer vol en Dag Zero het nooit gerealiseer nie.

Die distrik was beperk tot 50L water per persoon, per dag. Dit is eers wanneer mens elke druppel moet tel wat jy bewus raak dat mens eintlik maar lekker met water kan mors. Om dit net bietjie in perspektief te stel, ons wasmasjien gebruik aansienlik meer as 50L op enige gegewe wasdag. Dit help ook nie om die klere en beddegoed op te gaar nie, want die bondel word net groter en die wasmasjien tap doodeenvoudig net meer water. Die nuutste masjiene kan mos weeg, somme doen, en self besluit hoeveel nodig is. En moet nie dink mens kan daai ou blikbrein flous nie!

Ons het geleer om vinnig te stort. Gebruik net genoeg water om jouself nat te maak, draai die krane toe sodat jy kan seep en skrop, en vinnig afspoel. Teen daardie tempo kan jy in minder as 60 sekondes klaar stort en sommer terselfdertyd heelwat water bespaar.

Alle koue water was eers in ʼn emmertjie opgevang en in die toilet se spoelbak gegooi. Ons het geleer om die toilet aansienlik minder te spoel. Ons het geleer dat ons nie dood sou gaan indien die vloere minder gewas word nie. Ons het geleer om hare in ʼn emmer te was en slegs in die stort met skoon water af te spoel. As die skottelgoedwater nie vetterig was nie, kon dit ook in die toilet gebruik word.

Dit is wel so dat water na die verskillende buurtes aangery was, maar wanneer jy vir ʼn uur of langer in ʼn lang ry moet staan met ʼn paar 5L kannetjies, begin jy ook petrolgeld bytel. Wanneer jy genoeg water vir jou huishouding moet gaan haal, besef jy dat 5L letterlik ʼn druppel in die emmer is. Uit respek het niemand ooit 50L op ʼn slag geneem nie.

In daardie rye het ons die ryk en die arm saam gesien. Sommige was opgetof met pêrels en diamantringe, ander het met vuil, stukkende klere opgedaag. Ons het gou geleer dat die lewe van die ryk man nie vreeslik verskil van die bosslaper sʼn nie, al is Gertruida se beddegoed ʼn bietjie skoner as Maria sʼn .

Oor die algemeen is hierdie reëls sonder groot teëstribbeling ondersteun, behalwe vir buurvrou. Miskien besit sy nie ʼn radio of TV nie. Dalk lees sy nie koerant nie. Dalk gebruik sy nie sosiale media nie en het nooit gehoor dat daar ʼn ernstige waterkrisis aan die gebeur was nie. Dalk lewe sy in La-la-land, maar dit is meer waarskynlik dat sy heeltemal te belangrik is om haar aan sulke nietighede te steur. Ek twyfel of sy ooit ʼn enkele keer met haar spykerhakkies in ʼn ry gestaan het om ʼn bottel water huis toe te karwei.

Terwyl die hele omgewing se gordyne maar taamlik stokstyf van die stof gestaan het, het buurvrou sʼn skitterwit en geurig agter die oop vensters gewapper. Komberse en badkamermatjies het nie agterweë gebly nie. Haar perfekte huishouding het voortgegaan asof daar nie ʼn bekommernis in wêreld was nie. En ja, dit het my diep gegrief, maar ek is ook nie die waterpolisie nie. Terwyl almal die krane stywer toedraai, het sy oënskynlik uit haar pad gegaan om nog meer te gebruik. Indien ek dit sou waag om haar te verkla, sou sy geweet het wie dit was omdat ek die enigste persoon is wat ʼn uitsig op haar wasgoeddraad het!

Intussen het die damme alweer meer as een maal oorgeloop en ons is diep dankbaar. Tog beteken dit nie dat ons weer kan mors en die tuine natspuit van die more tot die aand nie. Of ʼn tuinslang gebruik om jou motor te was nie. Al was dit moeilik, het ons ook goeie gewoontes aangeleer. Soms het mens bietjie aansporing nodig om ʼn blywende verandering teweeg te bring.

©Susann Moolman

 




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed