Wie is jy?
Wie is jy?
Ek verdwaal in die gange van gister, om die hoeke van môre. Soek die stukke van wat ek was en moet wees.
Jy wil swem in die see van die lewe, maar verdrink nog in die poele van die hede.
Ek soek na iemand wat my kan verstaan en my hart sal kan bewaar.
Jy is ’n swerwer op jou hart se stoep. ’n Bedelaar vir liefde, want jou byl van selfaanvaarding hang swaar oor jou kop.
As iemand net my hart wil hê en beskerm, sal ek myself kan wees.
Jou hart lê buite vir die wêreld gestrooi. Soos ’n roofvoël ’n skilpad uitmekaar sou skeur, doen die vreemde met jou hart en los vir jou net die dop.
Wie is jy?
Ek is die stem in jou wat jouself teen jou moet beskerm. Jou hart te bewaar en jou te leer: dit is al wat jy het. Die les wat jy met alles in jou wil vermy.
Wie is ek?
Die swerwer wat leun op simpatie oor wat eens was. ’n Soeker na môre sonder ’n kompas.
’n Rower wat ander se harte wil steel, want joune is vir jouself toegeseël.
©️ Ryno du Plessis 2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.