Nadat jy weg is
Nadat jy weg is…
Eens was jy my gelukkige plek gewees. Ons kon alles deel.
Eendag toe is jy net skielik weg. Die lag, die saam huil of soms net wees, het jy saam met jou gevat.
Tyd het aangehou loop met sy ou verweerde skoene en het ons toe saamgesleep.
Ek het weer gelag, ek het weer gedeel. Koffie-afsprake het gevolg, ek het weer begin om musiek te speel.
My lewe het aangegaan sonder jou. Woorde het weer klank en my hart is vol met ’n nuwe lewe gepak.
Tog kom die gedagtes iewers weer nes maak hier in my kop. Waar het die tyd jou neergesit?
Hier aan my hart se tafel is dit vol, maar jou sitplek bly nog leeg.
Ek wonder: dink jy steeds in jou hart aan my, is daar ook nog ’n plek vir my, of het jy my hart iewers langs jou pad neergesit?
©️ Ryno du Plessis 2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.