Jongste aktiwiteit:

Klein ritmes, groot stilte

Klein ritmes, groot stilte

Daar is plekke wat mens se liggaam en siel as een herken. Myne het ’n huis — ’n kasarm van ’n plaashuis vol gepak met aardse besittings wat oor jare bymekaar gemaak is, geërf is en geskenk is, ’n breë stoep waar die oggendson goue bane oor die vloer trek, ’n ruim kombuis met ’n spens waarop rye en rye ingemaakte goed staan wat ek self in die flesse gesit het, asembenemende sonsondergange en ’n windpomp wat ritmies saam met die wind sing op die agtergrond. Daar is ook ’n boer, troeteldiere en ’n tuin. Toe ek moes weggaan, het dit gevoel asof my ribbekas verwyder is en alles binne my vloeibaar geraak het. Soos water.

Ek het nie ’n keuse gekry nie. Die besluit het oor my gekom soos ’n laaste stormweerlig: skerp en beslissend. Ek het my tasse gepak met hande wat bewe wanneer ek moes kies tussen dit wat moet bly en dit wat moet saamgaan. Die feit dat dit (hopelik) tydelik sal wees het niks van die vrees weggeneem nie. Daar was geen versekering van tydsduur nie. Om te gaan was nie net om ’n plek te verlaat nie; dit was ’n ontbinding van weefsel waarin ek geleef het.

Die dae ná my vertrek was ’n warboel van klank en leegte. Ek het in ’n ander kamer wakker geword, in ’n ander bed, en selfs die stiltes het vreemd geklink. Die nimmereindigende gedruis van verkeer en sirenes dag en nag was ’n ewige dreuning in my ore wat my gek wou maak. En ek was skielik alleen. Verlange het verstikkend om my gehang. Daar was ’n konstante gewaarwording van iets wat ek nie kon terugkry nie. Byna asof ek iets kosbaars verloor het. My hande het gesoek na die gunstelingbeker waaruit ek soggens koffie gedrink het, na die sagte pels van my kat en die hande van my boer, maar alles was anders. Ek het gevoel ek beweeg deur ’n ongekarteerde landskap.

En tog, in daardie verwarring, het ek begin klou aan die klein dingetjies wat ek nog kon beheer. Ek het myself gedwing om my bed soggens op te maak in die nuwe kamer, omdat hierdie eenvoudige daad my ’n klein stukkie vaste grond teruggegee het. Ek het ’n beker koffie geskink en dit met beide hande vasgehou asof dit my ou beker was. Ek het plante gekoop en dit versorg — ’n klein vervanging vir die tuin wat ek moes agterlaat. Al hierdie dingetjies, hoe nietig dit ook mag wees, het voorspelbaarheid gebied. Dit het weer sin na my lewe teruggebring.

Roetine het nie die plek teruggebring nie. Niks sou ooit die tuisgevoel herbou wat my huis aan my gegee het nie. Maar die herhaling van daaglikse take het soos ’n fyn sydraadjie begin werk: dit het die rafels van my dag aanmekaar gewerk en ’n raamwerk geskep wat die gewig van die chaos kon dra. Elke eenvoudige gebaar — die bed wat reg getrek word, die beker wat gevul word, die plante se versorging — het my gehelp om regop te bly. Dit het my seer se rande sag gemaak tot ’n vorm wat ek kon hanteer sonder om wonde op te doen.

Daar was breekdae: ek het soms ure lank gehuil wanneer herinneringe my verswelg het. Ek het soos ’n ontheemde gevoel. En daar is steeds sulke dae, maar selfs op daardie dae trek ek my bed reg, pof ek die kussings uit en draai ek my plantjies op my lessenaar sodat hul oraloor lig kry. Die roetine het my die moed gegee om weer te begin leef. Die wete dat daar môre weer ’n koppie koffie sal wees en ’n bed om op te maak, was genoeg om my deur elke dag te dra.

Uiteindelik het orde nie gekom as ’n triomfantlike wedergeboorte nie. Dit het gekom as ’n reeks eenvoudige, volgehoue takies wat my dag-na-dag geanker het. Ek ervaar nog steeds die gevoel van verlies — die geliefdes, die geure en die klanke wat ek moes agter laat — maar daar was nou ook ’n klein bietjie struktuur wat ek self geskep het in die nuwe plek.

Om orde uit die chaotiese gevoelens te skep het nie my huis teruggebring nie; dit het my teruggebring na myself deur my hande iets te gee om te doen. En dit was genoeg: die ritme van gewone dae wat my gehelp het om weer rigting te kry. Om meer standvastig te voel.

My voete trap weer op vaste grond en my ribbekas is besig om stadig maar seker terug te keer, rib vir rib, hoewel ek die steeds die dae tel wanneer ek kan terugkeer na daardie plek waar ek weet volkome vrede en vryheid, maar veral orde, oor my binnekant heers.

© Hester Steenkamp, 2025




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed