’n Ma se Waarneming
Ek het gou agtergekom my dogter, Lien, beleef die wêreld anders. Sy skryf met haar linkerhand. Wat vir ander kinders ’n maklike beweging was, die gladde gly van ’n potlood oor papier, het vir haar ’n inspanning geword. Ek onthou hoe sy in graad een die bladsy heeltyd met haar palm vee, die woorde verander in ’n grys waas. Sy sou dan frons, die pen optel, draai, en weer probeer. Ek het daar gesit, my asem opgehou, en gedink: hier leer sy nie net skryf nie, sy leer haar eie metode vind.
Ek het later gelees dat net sowat tien persent van mense linkshandig is. Tien uit honderd! Skielik het alles vir my sin gemaak: hoekom sy dikwels soos ’n seiljag teen die wind moes koers hou, hoekom sy die wêreld effens anders moes aanpak. Dit was nie dat sy “verkeerd” was nie; dit was bloot dat die wêreld nie vir haar hand-voorkeur gemaak is nie.
Ek onthou hoe sy in die klas probeer sit het by ’n lessenaar met die tafelrand wat ongemaklik teen haar arm druk. In die kunslokaal wou die skêre eenvoudig nie saamwerk nie, en sy het linksom, teen die grein, geknip. Vir my was dit klein voorvalle, maar ek het gesien hoe sy dit beleef: asof sy elke dag ’n nuwe strategie moes uitdink net om gelyk met ander te wees.
Een middag het die onderwyser aangekondig hulle gaan koek bak vir ’n klasprojek. Die resepte, die meetbekers, selfs die elektriese klitser was duidelik vir regshandiges ontwerp. Ek het gaan help toesig hou. Ek sien haar terugdeins toe die ander kinders die klitser voor haar kant neersit, amper asof hulle wou toets of sy dit reg kan kry. Sy het haar hand posisioneer, linksom die knop gedraai, en vir ’n oomblik het dit snaaks gelyk, baie lomp. Maar toe die klitser begin draai, het sy haar ritme gevind. Ek onthou die flikkering van trots in haar oë toe die beslag glad en romerig word, sy kry dit reg op haar eie manier.
Daar was dae dat ek kwaad geword het vir die wêreld, ’n wêreld wat sonder denke alles vir regshandiges bou. Maar dan kyk ek hoe Lien haar blad skuins draai en stadig leer om sonder strepe op haar boek te skryf. Hoe sy haar eie posisie aan die tafel vind, selfs al lyk dit vreemd vir ander. Hierdie klein uitvindings leer my meer oor volharding as enige iets anders.
Ek het ook gelees dat linkshandiges se breine soms ’n ander bedradingspatroon het, dat taal en beelde op verrassende maniere georganiseer word. Ek dink daaraan as ek sien hoe Lien gemaklik oorskakel tussen musiek en teken, of hoe sy patrone raaksien waar ek net chaos sien. Maar as ek eerlik is, glo ek haar kreatiwiteit kom net soseer uit noodsaak as uit biologie: sy moes van kleins af leer dink, “As dit nie vir my gemaak is nie, hoe maak ek dit vir my werk?”
Op die sportveld het dieselfde patroon voor gekom. Toe sy vir die eerste keer met ’n kolf instap, het die afrigter sy kop gekrap: “Jy hou hom dan heel verkeerd vas, meisiekind?” Ek het my asem ingehou, gewoond daaraan dat “verkeerd” die etiket sou wees wat aan haar sou kleef. Maar Lien het eenvoudig gesê: “Dit ís my reg.” Sy het links gestaan, haar lyf gedraai soos net sy dit kon, en die bal reguit oor die veld gejaag. Die span het stil geraak, toe geskree van opgewondenheid. Vir my was dit ’n openbaring: dat wat anders lyk, nie net aanvaar kan word nie, maar selfs ’n voordeel kan wees.
Ek weet daar was tye waar die linkerhand gesien is as vreemd, selfs onrein! Vandag nog trek mense soms hul wenkbroue op as Lien links haar hand uitsteek. Ek sien haar huiwer onder daardie stille oordele, maar ook regop staan. Sy het besluit sy sal nie haar uniekheid inruil vir aanvaarding nie.
By die huis, snags wanneer die stilte neerdaal, sit sy dikwels by haar lessenaar en teken. Ek kyk hoe haar linkerhand die potlood lig, draai, weer vat. Daar is ’n sekere grasie in daardie beweging, ’n dans wat ek nie kan uitvoer nie. Die lyne word patrone en die patrone word haar stories. Ek staan agter haar, sien hoe die skadu’s van die lamp haar hand vergroot op die muur. En ek besef: sy het voorwaar haar eie wêreld geskep, een wat nie deur regshandige reëls bepaal word nie.
En dan is daar humor, geluk. Soos die dag toe sy vir haar pa gesê het sy dink linksom by skaak, en toe wen sy hom inderdaad. Of hoe sy by partytjies glimlaggend vra of sy die “linkerkant van die koek” mag kry, sê sy, “dit smaak altyd beter.” Hierdie humorsin lig die swaar oomblikke, herinner my dat andersheid nie altyd ’n las is nie, soms is dit pure plesier.
Wanneer ek van bekende linkshandiges lees: Leonardo da Vinci, Marie Curie, Barack Obama, dan dink ek: ja, die wêreld onthou hulle, maar ek meet my trots aan die stil sukses van Lien. ’n Skoon bladsy sonder vlekke. ’n Netjiese knip-lyn. ’n Nuwe manier om ’n probleem te benader. Daarin lê die krag van ’n minderheid wat nie toegegee het nie.
Vir my is haar linkshandigheid nie meer net ’n eienskap nie; dit is ’n metafoor. Dit wys my hoe mens anders kan wees in ’n wêreld wat jou nie altyd verstaan nie. Hoe jy steeds jou eie pad kan bepaal, selfs teen die stroom of teen die wind op.
Lien leer my elke dag dat uniekheid nie ’n gebrek is nie. Dit is ’n geskenk. En as ek deur haar oë kyk, sien ek dat die wêreld, hoe regshandig ook al, altyd ruimte het vir hande wat links kies.
En in daardie linksheid wys sy my die regte pad in die lewe.
©MarleneErasmus
26/08/2025
(974 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Augustus 2025 - Linkshandige projek