Jongste aktiwiteit:

Chaotiese vrede #Silwer

Chaotiese vrede

Op die vooraand van die sogenaamde voorspelde wegraping, skarrel my gedagtes deur die chaos van my siel. Die stilte van die voornag, dra ‘n tasbare misterie. Die vraag: “Is ek reg vir die ewigheid?”, bring ‘n vulkaniese uitbarsting van emosies.

Naarstiglik skribbel ek woorde van bemoediging en aanmoediging aan vriend, familie en vyand.

Maar ek besef: dis te laat! ‘n Ewigheid te laat.

Die warm lawa van sonde, spyt en verwyte brand my uit my geloof uit. Ek krap verward rond in die grot van Waarheid. Telkemale verbrand ek my vingers in die haastigheid van besluite. My woorde het oor tyd gifpyle afgevuur, waar geen water hul kon afwas. Selfbejammering vreet my van binne op soos ‘n septiese blindederm. Selfs die waarskuwende sinjaal van ‘n Rigtingwyser kan my nie stop nie.

Tog het ek in die wanorde van my bestaan, in die warboel van my emosies, gehunker na die onderskeid tussen reg en verkeerd. Die warrelwind van my siel, verdoesel my regdenkende brein.

Maar iewers het my trein ontspoor. Ek het probeer om die verrinneweerde waens van geloof, hoop en liefde, weer agter mekaar te hak.

Die chaos in my siel het soos etter alles besoedel wat eens mooi was. Onvergenoegheid, selfsug en ‘n swak selfbeeld het my gewurg, my neergegooi en vertrap. My binne-mure het dit uitgebasuin: “Jy is nie goed genoeg vir dié wêreld.” My opstaan en gaan slaap was ‘n aanhoudende spiraal van negatiwiteit. In die etterwalms het ek my pad verloor.

Tog het ek vasgehou aan die duif se groen takkie in die vloedwaters van Noag. Ek het bly swem, al het, al wat ‘n storm, my rond en bond laat skommel in ‘n donker oseaan. Ek het bly soek na die kruis op Golgotha. Ek het myself neergegooi by die oopgraf in Jerusalem.

Ek besef nou, vandag is die dag om my pad oop te krap deur die chaos wat ek self binne in my siel veroorsaak het. Dis net ek en ek alleen wat deur die taai modder kan ontsnap. Dis net ek wat die wag by my mond ‘n kans kan gee om sy werk te doen. Dis net ek, wat deur die rookwalms van veragting, oor berg en dal kan voortstu.

Dis tyd om my trein weer op die spoor te sit. My trane vloei vrylik, my kop klop soos die trein tik-tak op die spoor. My hart bloei, my liggaam krul van pyn en seer en my siel ruk tot stilstand in die storm van my innerlike rumoer.

Ek smeek. Ek skree: “God help my!”. Ek soek my hulp by die Een wat hemel en aarde gemaak het en nooit die werke van Sy hande laat vaar nie. Die Een wat spreek en die storms bedaar. Die Een wat uit chaos orde skep, en ‘n stille vrede bring. Die Een wat getrou bly tot in ewigheid. Die Een wat nie in storm in my chaos, maar wag totdat ek reg is om die deur vir Hom oop te maak.

Was dit te laat? Is dit ooit te laat? Het Hy nie in Sy donkerste oomblik nogsteeds ‘n man vol sonde genooi na Sy ewige Koninkryk?

Ek skarrel deur die mistigheid van my chaotiese siel en weet dat geloof, hoop en liefde weer die oorhand moet kry. Ek val op my knieë en vind Sy allesomvattende vrede.

Met die breek van die dag en die son wat vrolik teen my kamermuur speel, besef ek: ek het nog ‘n kans. ‘n Wit duif kom koer-koer op my vensterbank. Sy teenwoordigheid vul gees, siel en liggaam. En ek kan my chaotiese vrede by Sy voete vind.

Christa Diederiks ©




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed