Pad deur die Storms
die môreson sprei sag oor die ruit
oor hande wat grys van lewe geword het
kyk hy vandag oor sy skouer terug
sien hy kronkels, stof en die kronkel pad
waarlangs hy stelselmatig moes stap
gevorm in ’n tyd van swaar skoene en stof
waar reëls en bevele aan die orde van die dag was
hy ken die stilte van ’n bang, donker nag
die gewig van ’n drag wat te swaar was vir skouers
vriende wie se name te vroeg net herinnering geword het
daardie merke dra hy vandag nog in stilte saam
later het die bord en die kryt hom geëis
tussen ryk en arm banke en oë vol môres
dáár het hy sy siel vir die kinders gegee
baklei vir ’n toekoms wat swakkeres ophef
soms was sy eie kragte reeds op die droesem
wou hy hulle net leer om reguit te loop
lewe het nie altyd sag met hom gewerk nie
sterk storms het gewaai om sy wortels te breek
maar soos ’n ou bergboom wat koue wind ken
het hy net dieper in die rotse in gegroei
die winters een-vir-een agter hom gelaat
die oes wat die jare gebring het is ryp
sy kinders staan stewig, eie mense in die wêreld
sy kleinkinders hardloop die stilte uit die tuin
húlle is sy rykdom, sy stilste en grootste trots—
die rede waarom die storm nooit kon wen nie
die soetste vrug van ’n leeftyd se arbeid
skemer kom lê nou rustig oor sy hand
stof van die stryd begin eindelik gaan lê
kyk hy na sy hande: moeg, maar vervul
kan hy sê: hy het alles probeer gee
wat een mens in een lewe kan gee
© Tearlach.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.