Lewe se vere
“Kom binne! Maak of hierdie jóú huis is,” het ek alte braaf vir Lewe gesê, want sy voet was alreeds ongenooid binne my deur. Hy het immers gekom om saam met my te bly en daarom trek ek ‘n stoel vir hom nader. Ons twee was nie voëls van eenderse vere nie.
Hy word my skaduwee en sit met sy bene agterstevoor bo-oor ‘n tuinstoel terwyl ek vir Lig en wit in al die kleure van die spektrum plant. Dít is soos wat my gees graag sal wil dans. Ek verlustig my en sê: “Kyk net … die ene skitterblink!”
“Kaf!” skree Lewe daar vanaf sy tuinstoel. “Jy is so lig soos kaf. My eerste ou stormpie waai jou sommer heeltemal weg!” Hy klik-klik met sy tong. “Té oppervlakkig!” en die voël van ‘n verkeerde veer griffel grafiet-skadu’s in Donker. “Dáársy, laat jou gees nou dans met diepte en baie emosies. Gaan strooi diepte en betekenis!”
Ek groei toe Namakwalandse madeliefies en vele ander bont blomme, elkeen met diepte in hul kern. Ek ontdek my lewensgrond was al die tyd gevul met geofiete, want daar waar Donker trap ontkiem Hoop, Geloof en Liefde. Alles wat ek nodig het was alreeds hier binne my.
“Al die veld is vro-ho-lik,” sing ek vir Vreugde terwyl ek my gees vol windharpe hang. Haar uitbundigheid klingel op die ritme van elke briesie. Lewe wag egter nie lank voordat hy my kom roep nie.
“Hartseer staan hier by jou voordeur,” sê die voël met die vreemde veer.
Ek bekyk vir Hartseer en haar oorvloed bagasie. Sy het beslís gekom om te bly. “Kom binne! Maak of hierdie jóú huis is,” sê ek terwyl ek haar omhels.
Só word sy deel van my lewenstuin en ek trek ook vir háár ‘n stoel aan my tafel uit. Ek en Vreugde raak so stilweg hier by ons aan haar gewoond. Waar Hartseer stap, begin Deernis en Insig stadig groei.
Ek nooi Lewe vir ‘n fees, gooi die hele kaboedel in ‘n pot en geur hulle met hande vol Gesindheid en ’n goeie skeut Dankbaarheid. My lewenstuin word soms ‘n kermis. “Kom gerus binne! Hier is iets vir ‘n ieder en ‘n elk.”
Lewe loop rond en eet kermispoeding. Ek dink daar woon ‘n haas onder sy hoed. Sulke tye raak Hartseer verveeld en swaai aan die windharpe rond.
“Wat sê jy nóú?” troef ek vir Lewe. “My tuin is perfek uitgelê.”
Hy sit net stil. Sy kop hang onderstebo.
“Ons wag nog vir Wysheid om te arriveer. Sy het verdwaal en ry saam met Sondebesef.”
Vermakerig wys hy na die eelte op my knieë. “Ek sien jy het geleer om baie te bid.” Lewe draai sy kop skuins en takseer my deur ‘n skrefiesoog.
“Nou ja,” sê die ou voël van ‘n eenderse veer, “die tyd is min en ek moet eersdaags weer vertrek … nog net ‘n paar hoekies en randjies om af te beitel, dán is jou lewenstuin gereed.”
© Rika Gerryts
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek