Jongste aktiwiteit:

Introspeksie-spieël

’n Spieël is soos ’n kas van jouself waarin die klere van jou lewe netjies opgehang en opgevou is. Wanneer jy in ’n daardie kas kyk, sien jy ’n weerspieëling van die ware beeld van jouself. Jy kan die ou in die spieël van jou lewe nie ’n rat voor die oë draai of omkoop nie.

Vir baie jare het ek dit vermy om my kas se deure oop te maak, deur die inhoud te gaan, te herrangskik en orde te skep. Op ’n pragtige herfsdag in Maart, tien jaar gelede, het daar iets drasties in my lewe gebeur.

Ek was in my bed in my kamer tussen vier mure vasgekluister, besig om te herstel na ’n traumatiese hartomleidingsoperasie. My lewe, so het dit vir my gevoel, het aan die dun draadjie van magtelose onsekerhede gehang.

Ek was selfsugtig en ongeduldig teenoor almal om my, het negatief begin raak en die blaam vir my benarde toestand voor die deur van almal behalwe myself gelê. Ek het ook sporadies in onbeheerste woedebuie teenoor my familie en vriende uitgebars.

Teen die muur aan die voetenent van my bed, was daar ’n groot spieël gemonteer. Ek het voor die spieël gaan staan en vir myself daarin gekyk. “Jy lyk pateties man!” het ek vir myself in die spieël gesê.

Ek wou net omdraai om weer selfbejammerend in die bed te klim, toe ek ’n stemmetjie in my brein gehoor sê het: “Maak bietjie oop die kas van jouself man, herrangskik en orden die inhoud!”

Ek het versteen gaan staan soos ’n soutpilaar, stadig omgedraai en lank na my eie beeld in die spieël gestaar … toe maak ek die deur van my kas oop. Daar hang toe my hemde wat ek oor die jare gedra het. Almal netjies opgehang en vertroetel oor die jare van my lewe. Elke hemp het ’n naam gehad: Depressief, selfbejammerend, lae selfbeeld, selfsugtig, foutvinderig, hardkoppig, klaerig, ongeduld, wantroue …

Ek het my hoof in skaamte laat sak en daardie hemde een vir een uit my kas gehaal om plek te maak vir: Geloof, hoop, lewenslus, selfaanvaarding, deernis, mededeelsaamheid, bemoediging, buigsaamheid, dankbaarheid, geduld …
Dan was daar daardie monderings wat ek so lief was om te dra, netjies opgevou, vertroetel en in die laaie van my verlede en my gewete toegevou, wat nie vir die gewone oog sigbaar was nie. Ondankbaarheid, ongevoeligheid, hoogmoed …
Ek het hulle uit die laaie en van die rakke afgehaal en versigtig oopgevou om plek te maak vir dankbaarheid en om dankie te sê; om jammer te sê, te vergewe, medelye te hê en nederig te wees …
Ek het met nuwe oë en baie trots op myself in die spieël gekyk, en vir myself geglimlag. Ek het nie meer soos die patetiese figuur van vroeër gelyk nie.
Van die oomblik wat ek my kas in die spieël oopgemaak het en dit ordelik herrangskik het, het ek met rasse skrede begin gesond word. Ek het elke dag ’n nuwe kledingstuk uit my kas aangetrek. Ek het my daarin berus dat ek nie oornag die eienskap van die hemp wat ek aanhet sal aanneem nie, maar dat dit met tyd en volharding sal gebeur.
Sedertdien het dit by my ’n vaste instelling geword om elke jaar met die aanvangs van herfs in Maart, my kas in die spieël van my lewe oop te maak en introspeksie van die inhoud daarvan te doen.
———————————————-oooOooo————————————————–
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 517]




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed