
Die aarde se oproep tot aksie. 636 woorde
Die aarde se oproep tot aksie.
Die aarde. Nie net ’n klomp grond en klippe onder ons voete nie – dit is ons tuiste. Ons enigste een. Sy gee vir ons asem, skoonheid, water en lewe. En wat doen ons in ruil? Gebruik haar asof sy ons skuld. Asof sy onuitputlik is. Die waarheid is: sy is nie!
Deur hierdie wrede werklikheid te aanvaar, besef ons dat die tyd vir versuim verby is, ons verhouding met die aarde vereis onmiddellik verandering.
Ek glo nie ons doen genoeg om die aarde te beskerm nie. Dis nie net my vae gevoel nie, dit is ’n feit wat ek glo. Jy sien dit in die oseane vol plastiek. In riviere wat ruik soos riool. In lug wat dikker word met elke asemteug. En in die ongemaklike waarheid dat ons gemak baie keer bo verantwoordelikheid verkies.
Ons leef op skuld
Ons leef vinnig. Alles moet nóú gebeur. Vinnig ry, vinnig eet, vinnig koop, vinnig weggooi. En die aarde probeer byhou by ons. Maar sy raak moeg. Olie, steenkool, aardgas – dié bronne is nie oneindig nie. Hulle is geskape oor miljoene jare en ons verbruik dit op in eeue, dalk selfs dekades. Wat dan?
Elke boom wat val, elke rivier wat droog loop, laat ’n litteken. Ek kan jou wetenskap wys wat dit bewys. Maar ek kan jou ook vra: sou jy wil hê jou kind moet grootword in ’n wêreld waar vars lug ’n luukse is?
Hierdie dolle lewenstempo breek nie net die aarde af nie, dit ruk ook aan ons harte. Ons moet leer hoe om weer saam te dink én saam te voel. ’n Samewerking tussen die kop en die hart.
Die kop en die hart moet saamwerk
Ek weet daar is mense wat sê: “Tegnologie sal dit kan uitsorteer.” En ja, tegnologie is deel van die antwoord, maar nie die hele antwoord nie. ’n Sonpaneel los nie alle probleme op nie. ’n Elektriese motor verander nie ’n samelewing wat méér wil hê, ten alle koste, nie.
Die probleem is nie net wat ons gebruik nie. Dit is ook hoe ons dink. Dis ’n ingesteldheid van neem, vat, verbruik, en dan vra ons hoekom dinge nie werk nie. Ons het meer as wetenskap nodig. Ons het wysheid nodig. En dalk ook ’n bietjie skaamte.
Die aarde is nie net grond nie
Ons praat maklik van die aarde asof sy net ’n winkel is – een waar jy vinnig heen kan gaan, vat wat jy nodig het en uitstap. Maar sy is veel meer. Sy’s ’n ekosisteem, ’n balans, ’n natuurwonder en ons enigste behoud op oorlewing. En as ons die balans breek, raak ons self ongebalanseerd.
Ons moet onthou dat die aarde nie net ’n verbruiksartikel is nie. Sy is ’n erfdeel. En jy los nie ’n erfdeel agter in ’n gemors nie.
Wat nou?
So wat doen ons? Gaan ons bly kla oor die toestand van die wêreld, of gaan ons iets doen?
Herwin. Spaar energie. Sê nee vir nog ’n plastieksak. Kweek jou eie vars groente, of leer jou kinders hoekom bome belangrik is. Stem met jou kop én jou hart. Druk die regte knoppies op die regte plekke – en nie net op jou televisie se afstandbeheer nie.
Ek sê nie jy moet jou hele lewe omkeer nie. Ek sê net: kom ons begin iewers. Klein. Konsekwent. Want as genoeg mense iets kleins reg doen, word dit iets groots.
Laat die aarde weer asemhaal
As jy vanaand buite staan, kyk ’n oomblik op. Voel jy die vrede? Of voel jy iets is nie heeltemal reg nie? Die aarde praat nie met woorde nie, sy fluister deur droogtes, stormwinde en ook stiltes. En soms skree sy. Ek dink sy skree nou.
My vraag is eenvoudig: Hoor jy haar?
En as jy haar hoor – wat gaan jy doen?
©MarleneErasmus
30/04/2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir April 2025 – AARDE projek