Gesinne, vandag.
Gesinne, vandag.
Ek onthou die dae toe gesinne standaard-rolle gespeel het: Pa was die broodwinner, Ma die tuisteskepper wat altyd daar was vir die kinders. Dan: kinders – die professionele eksperimenteerders – altyd gereed om ’n nuwe manier te vind om die huis se vrede te ontstig. In daardie dae was dit ’n eenvoudige resep, net soos Ouma se ou resepteboek: ’n bietjie dissipline, twee skeppies liefde en ‘n tikkie “Wag net tot julle pa vandag by die huis kom en hoor wat julle aangevang het.”
Tye het egter baie verander. Deesdae is ’n gesinsfoto amper soos ’n legkaart, een stuk in Dubai of iewers oorsee, een in ’n ander stad (vir werk) en een op ’n Zoom-oproep. Vervreemding is ’n nuwe realiteit in moderne tyd. Waar gesinne saans om die etenstafel gesit en gesels het, is dit nou ’n spesiale geleentheid as almal gelyktydig op dieselfde WhatsApp groep-oproep reageer. Die tradisionele gesin, waar Pa saans sy aktetas neersit en Ma se kos waardeer, het plek gemaak vir ’n nuwe realiteit waar ouers mekaar per e-pos groet en kinders deur Google groot gemaak word.
Die uitdaging vir baie gesinne: Ma is nou bestuurder, berader, afrigter, en soms sommer loodgieter ook (want ’n pa in ’n ander stad kan nie ’n lek regmaak deur ’n video-oproep nie). Dit beteken dat kinders soms grootword met ’n selfstandigheid wat handgranate laat lyk soos skaam weeskinders. Hulle leer vroeg-vroeg hoe om probleme self op te los, of hoe om dit op TikTok te soek. Die ouers, aan die ander kant, leer om by ’n nuwe manier van ouerskap aan te pas – een wat ’n fyn balans tussen tegnologie, werkverpligtinge en emosionele ondersteuning vra.
Daar was ’n tyd toe gesinne op Saterdae saam winkels toe gegaan het en Sondae saam kerk toe; ’n roetine wat ’n gevoel van samehorigheid geskep het. Warm omgee-tye wat gesinne saam gesnoer het. Nou is selfs ’n vinnige oproep (of stemboodskap) op ’n besige dag ’n seën. Saamwees het ’n ander definisie gekry. Dit is nou om jou gesin se lewens deur sosiale media dop te hou, om ’n même te stuur as ’n teken van liefde, en om mekaar se stemme oor ’n luidspreker te hoor terwyl jy alleen aan jou derde koppie koffie vir die dag teug.
Tog, ten spyte van hierdie veranderinge, bly die behoefte aan konneksie nog dieselfde. Kinders verlang steeds na ouers se aandag, en ouers, maak nie saak hoe besig nie, verlang steeds na hul kinders se glimlagte – al is dit soms net ’n foto op jou foon. Dit het my laat besef dat gesinstyd nie meer net oor fisiese nabyheid gaan nie, maar oor doelbewuste verbondenheid. Dit vra vir ’n goeie skeut kreatiwiteit, ’n paar reëls rondom skermtyd en miskien, net miskien, die dapper besluit om ’n bordspel uit die kas te haal.
Tye mag verander het, maar gesin bly gesin – al is dit met ’n bietjie buffer-tyd op ’n slegte internetverbinding. Wat saak maak, is nie hoé ons “saam” is nie, maar dát ons steeds ’n manier sal vind om mekaar te bereik, selfs al is dit met ’n GIF wat sê: “Ek mis jou.”
©MarleneErasmus
31/03/2025
(523 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Maart 2025 – OOP projek