Jongste aktiwiteit:

‘n Gevlerkte lewensles #silwer

‘n Gevlerkte lewensles

Dis ‘n heerlike sonskyndag in Mieliemuur. Die sonnetjie kom lê sy spore op die sitkamermat. Die voëls kwetter vrolik in die bome. Ek is seker daar word vergadering gehou tussen die takke oor die somer wat hier is. Daar is ‘n getwiet-twiet dié kant en dan weer gekirrr-kirrr daai kant. In die verte hoor ek ook die seemeeu sy stem dik maak.

So nou en dan kom my vlerkvriende ‘n lafenis soek op die houtdek. Vet en uitgevrete Juffrou duif land met ‘n geklap van vlerke. As die bak leeg is kom tik sy teen die ruit om te sê: “Moet net nie van ons vergeet nie”. Klein rooibors Robin en sy maatjie loer-loer so met kantelkoppies, tot hulle seker is dis veilig. Dan duik hulle vinnig op die bak af en voor jy jou oë kan knip is hulle weer weg. Die vaalbruin Dunnock (of hegmossie) soos ek onlangs uitgevind het, sit heerlik en pik-pik tussen die sade tot die geelbekswartgewaad hom wegjaag met sy morsige tafelmaniere. As hy daar was dan weet ek dit, want dan lyk dit soos die storie van “as boetie bad is alles nat wat in die kamer staan”, die saadomhulsels lê wydverspreid om die kosbak. Hy jaag ook al die ander gevlerktes weg met sy vlerkgeflap.

Die groot vet besige hommelbye laat my skoon skuldig voel soos hulle van blom tot blom zoom-zoom. Dan sien ek die klein heuningby wat ongelukkig sy laaste asem op die drumpel uitgeblaas het toe hy nie die uitgang kon vind nie.

Dit laat my dink mens wil altyd iets of iemand anders wees. Ek het aanvanklik gedink hoe lekker dit moet wees om van geur tot geur te vlieg om soete nektar te versamel. ‘n Lewe tussen die kleurvolle blomme, hoe salig. Maar as ‘n bytjie vasgedruk of onveilig voel offer hy sy lewe op. Hy moet baie hard werk in die somer wanneer daar nog blomme is. Maar teen watter prys kom daardie soet aroma?

Of wat van as ek ‘n swaeltjie kon wees. Vry, kry kans om twee keer ‘n jaar oor oseane te vlieg en nuwe plekke te besoek. Hulle vang goggas en insekte sommer so in vlug. Tog elke keer voor hulle vertrek breek hulle die nes af om te verhoed dat ongewenste indringers nie hulle nes oorneem nie. Oor en oor word daar korreltjie vir korreltjie modder aangedra om weer hulle huis te bou. Dit laat my wonder: Is dit regtig so lekker om weer en weer van voor af huis op te sit.

Ek wil tog nie ‘n spierwit uitgerysde seemeeu wees nie. Steel jou kos uit jou hand as jy nie kyk nie. Tog lyk dit of hulle baie vriende het. Hulle is gedurig deur besig om in mekaar se persoonlike ruimte te wees en te kibbel-kibbel oor ‘n verlore stukkie brood. Dit word sommer so donker as hulle neerdaal op die gras. Maar ‘n eiland is nie ‘n eiland sonder die roep van die seemeeue.

Die een gevlerkte wat ek tog graag sou wou wees is ‘n arend. Dit lyk so vredevol as hy doodstil sweef oor die landerye en van ver af sy prooi gewaar. Geen wind of storm lyk of dit hom ooit pla nie. Soms word selfs sy nes geruk en gepluk doer bo in die bome. Maar hoe hartseer is dit nie, dat hy baie keer net een kleintjie kan grootmaak en dié sommer uit die nes geskop word sodra hy sterk genoeg is.

Miskien, net miskien moet ek maar net my eie nessie koester. My vlerke vind, my unieke gawes en talente ontdek sodat ek ook ‘n verskil kan maak in ander se lewens.

Die sonnetjie skuifel-skuifel uit die sitkamer en roep my na buite waar die voëlkoor nou uit volle bors die laatmiddag skoonheid besing. Ek voel son se soentjies op my vel en is dankbaar en tevrede vir wie en wat ek is.

Christa Diederiks ©




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed