Jongste aktiwiteit:

  • Juanri het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van JuanriJuanri is nou vriende

  • Charné de Beer het n geregistreerde lid geword

  • Jesica het n geregistreerde lid geword

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Adel het n geregistreerde lid geword

  • Juanri Lid se profiel foto het verander

  • Juanri het n geregistreerde lid geword

Die huis waar stilte woon – silwer

Jare lank het lag deur dié kamers gespoel soos lig deur oop gordyne op ’n somersoggend. Dit het vrylik beweeg, sonder vrees om vasgevang te word. Kinderstemme het teen die mure gebons en in die plafonne vasgesteek. Elke kamer het sy eie eggo gehad en sy eie warmte.

Daar was geselsies oor oggendkoffie wat lank geduur het, selfs wanneer die koppies al leeg was. Gelag het by die etenstafel gerol, soms oor niks besonders nie, net die eenvoudige vreugde van saamwees. Die kombuis was gevul met kruie geure en op reëndae die aroma van kaneel.

Trane het ook gekom. Nie altyd met geraas nie, maar stil en aanhoudend. Hulle het deur die nagte gesypel, saam met die druppende krane in die kombuis. In die metaal van die pype het die seer gaan sit, en elke dag het die roes ’n bietjie verder gevreet, asof verdriet self ’n vorm van veroudering is.

Met verloop van tyd het die geluide van menswees begin verdwyn. Die lagdae het verder uitmekaar begin lê. Fotos was vasgevang in ’n ou album wat nie meer oopgemaak word nie. Die geselsure het al hoe korter geraak. Stiltes het begin rek tussen woorde. Hande het begin bewe, bene wou nie meer loop nie, oë het stadig verdof en gedagtes het gesweef in die lang vergete dae van al die gisters.

Toe het stilte gekom.

Dit was somber stilte, gevul met onuitgesproke gedagtes en emosies wat nie meer name gekry het nie. Sy het haarself in elke hoek gevestig, op elke trap gaan sit, teen elke deurkosyn geleun en deur elke venster geloer.

Klanke word swaar wanneer dit te lank alleen bly. Hulle begin afskilfer saam met die verf: dun lae wat van die mure loskom en op die vloer stort soos ou vel. Die spore van asems wat nêrens meer heen gaan nie, word wasem teen die vuil ruite. Die huis se hart, eens sterk en vol ritme, begin stadig verkrummel onder die gewig van vergete dae.

Skielik, op ’n dag, word die vensters oopgemaak.

Warm sonlig val oor die vloerplanke wat skaars onthou hoe hitte voel. Stofdeeltjies dans soos klein beloftes in die lig. ’n Ketel fluit in die kombuis. Dit is ’n eenvoudige klank, maar een wat stilte laat terugdeins. Mense se stemme vul weer die ruimtes. Daar word gelag, nie hard of uitbundig nie, maar opreg. Die mure neem dit gretig in, versigtig, asof hulle bang is dit verdamp.

Die verf is nog af. Die pype is nog roesbruin. Die lug is steeds swaar van ou herinneringe en stilte sluip nog deur die vertrekke.

Tog begin nuwe lewe tussen al daardie ou dinge inkruip.

Kinders se voetstappe trippel oor die houtblokvloer. Gister se lag en trane word toegeverf, die kombuis kry ‘n moderne uitleg met nuwe kaste. Die kat slaap op die vensterbank waar die son instroom, rustig, asof sy nog altyd daar hoort.

Die huis begin weer asemhaal. En diep binne-in, waar die hout kraak en die stof lê, begin iets herstel: ’n hartklop. ’n Ritme van nuwe lewe.

Stilte, wat haar koninkryk hier so lank gehandhaaf het, trek terug. Nie uit onmin nie, maar met ’n gevoel van verligting. Sy weet haar tyd hier is verby.

Sy skuif nader aan die agterdeur, glimlag halfhartseer, laat die sleutel aan die binnekant agter en stap stadig weg.




4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed