Gamkaskloof se kronkelpad. Goudklas
Wie die slimjan is wat vir Charles gesê het die Hel is ‘n moet op ons emmerlys, kort ‘n klap. Kyk mooi was nog nooit lelik nie, maar mooi kan ook gevaarlik wees.
So pak ons mos op dag drie of dalk vier, (ek is nog steeds getraumatiseerd so ek wil nie onthou nie) die pad aan Hel toe. Swartberg is speletjies en vrek mooi. Die bordjie wys links. Charles gaan links. Die bordjie wys ‘Very Dangerous road’. Charles sien dit nie. Ek beduie van agter af dat hierdie pad rof lyk maar die motorfiets grom voort. Nou sit ek maar. Die eerste paar kilometer verkyk ek my aan die klipspringers en dassies. Dan droog my lippe. Die son bak. Die pad slinger. “Hoe vêr nog?” Kilometers van stofpad slinger voor ons uit. My ore sing Jan Pierewiet op drie verskillende wysies en my hart speel trom. Die afgrond grynslag oopbek langs ons. Ek bid. Soos in my lewe nog nooit nie. Die pad krul en draai soos n bemoerde rinkhals voor ons uit. Die stilte is voelbaar. Die watersak lê agter ‘n toe deur by die gastehuis. Ons lippe proe na stof en grond. Dan, na meer as twee ure se kronkel en bid bereik ons die Hel, letterlik en figuurlik. Dood. Morsdood. Geen mens in sig nie. Die huisies sielloos. Die krane leeg soos ‘n na krismis koekblik. My moed sak saam met my teen die naaste klipmuur af. Charles troos maar ek kan sien hy is gedaan. Dan draai ons maar om. Terug beskawing toe. Stop daar ‘n barmhartige Samaritaan. Die water is louwarm maar dit smaak soos hemel. Ons drink twee bekers elk voor ons verder aansukkel. En toe val ons. Hard. Bloed en beenbreek hard. Die 1250 GS rus bo op ons, so asof hy ook moeg is. 247kg moeg. Ons sukkel maar ons tel hom op. Afgeval, seer gekry. Opgeklim, weer gery. Na die derde val gee ek op. Gooi duim. Ek los Charles net daar op die rinkhals se rug. Die hel is nie vir sussies nie. Ook nie vir passasiers op ‘n 1250 GS nie. Die Hel is nie! PUNT! Ons is okay. Die bike is okay! Twee wiele vervang. Die volle storie los ons vir ‘n laataand kampvuur. Afgeval. Weer gery. Saam maak ons ‘memories’ vir ons oudag stoepsit dae.
©️ Amanda de Meillon
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir FEBRUARIE 2026 – OOP projek