Jongste aktiwiteit:

Die gekreukelde klere en die droë rangskikking

In ’n predikant se loopbaan kry hy sekerlik met baie komiese insidente te doen, en soms ongemaklike situasies waarin jy jou waardigheid moet behou. Met my as deeltydse aflos-predikant was dit ook nie anders nie.

Ek het op ’n stadium gereeld diens gedoen by ’n Ouetehuis op ’n dorpie in Noordwes.

Een oggend na die diens het ons almal saam tee geniet in die sitkamer van die Ouetehuis. Almal was stil, baie stiller as gewoonlik. Heelwaarskynlik, altans so het ek geglo, was elkeen besig om introspeksie van sy of haar eie lewe te doen na aanleiding van die boodskap tydens diens. Om die waarheid te sê, die atmosfeer was ongemaklik styf.

Oom Jurie, wat bekend gestaan het as “ou grapjas Jurie”, het besluit om die ongemaklike stilte te breek. Met ’n ondeunde glimlag op sy gesig vra hy toe vir my: “Dominee, het jy al hierdie een gehoor? Laat ek jou vertel. Dit het wrintiewaar hier in ons Ouetehuis gebeur.”

Oom Jurie het ’n ondeunde blik in sy hemelblou oë gehad en ek het geweet hier kom ’n ding, want ’n Paar van die ou tannies het geglimlag en aan mekaar gestamp.

“Dominee, jy kan mos vir oorle oom Thys en oorle oom lang Hans onthou wat ons so maand terug begrawe het. Dominee het nog die ter aarde bestelling gedoen.”

“Ja, ek onthou hulle, oom Jurie,” het ek geantwoord terwyl ek gewonder het waarop oom Jurie nou afstuur.

“Wel, jy sien Dominee, soos jy weet was oom Thys en oom lang Hans soos Dawid en Jonatan gewees. Hulle was altyd saam. Hulle het veral daarvan gehou om hier te sit en koffie drink gedurende die dag, terwyl hulle oor die ou dae gepraat het.”

Nou jy sien Dominee, die saak staan so … Daar was ’n tannie wat ook eertyds ’n inwoner van ons Ouetehuis was. Ek kan ongelukkig nie haar naam onthou nie, maar sy was ʼn regte Delila wat haar flikkers gegooi het vir al wat ’n man is in ons Ouetehuis. Boonop het sy geloop en rondvertel dat ons Ouetehuis te gevrek is en dat sy nie hier inpas nie.”

Van die ou tannies het benoud vir mekaar gekyk, so al asof hulle geweet het waarop oom Jurie afstuur.

“Hierdie Delila tannie het toe besluit om poedelnakend deur die teekamer te hardloop terwyl oom Thys en oom lang Hans daar sit en koffie drink.”

Oom Thys het tannie Delila, wat soos blits voor hulle verby gehardloop het, vraend agterna gekyk, en toe vir oom lang Hans gevra: Is dit nie tannie Delila wat nounet hier verby gehardloop het nie?
Ja, dit is sy,” het oom lang Hans gesê. “Sjoe!” het oom Thys gesê en bygevoeg: “Ek wonder hoekom is haar klere so gekreukel vandag?”

Almal in die teekamer het geskok met hul hande voor hul monde na hul asems gesnak.

Sies! oom Jurie, hoe durf jy so iets vir Dominee vertel,” het een van die statige ou tannies geskok, gesê, terwyl almal in die teekamer luidkeels uitgebars het van die lag.

Ek moes myself egter as waardige predikant gestand hou en het net skaam-verleë geglimlag, alhoewel ek ook wou uitbars van die lag.

En toe, tot almal se verbasing, sê Mevrou Nortjé wat alom bekend gestaan het as die Ouetehuis se “hoofmeisie,” omdat sy altyd alles geweet het van almal se persoonlike sake en ook links en regs vermanings uitgedeel het: “Dominee, dis nog niks. Ou grapjas Jurie se storie eindig nie daar nie. Onthou julle die keer toe ou blink Ben kaal genael het deur die dames se privaat sitkamer? Mev Nel en Matrone het ook heerlik gesit en skerts toe ou blink Ben in sy adamsgewaad soos ’n wafferse nudis voor hulle verby draf na sy kamer toe.

Matrone het nog verontwaardig en vies vir Mev Nel gevra of ou blink Ben nounet hier voor hulle verby gedraf het en of haar oë haar nie bedrieg nie.
Ek weet nie Matrone,” het Mev Nel gesê, “maar wie of wat dit ook al was, dit wat ons gesien het sal goed aangewend kan word as ’n droë rangskikking.”

Hierdie keer het dit gevoel of die Ouetehuis se dak lig soos wat almal, ek inkluis, geskater het van die lag.
———————————————-000O000—————————————–
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 712]




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed