Jongste aktiwiteit:

  • Juanri het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van JuanriJuanri is nou vriende

  • Charné de Beer het n geregistreerde lid geword

  • Jesica het n geregistreerde lid geword

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Adel het n geregistreerde lid geword

  • Juanri Lid se profiel foto het verander

  • Juanri het n geregistreerde lid geword

’N EKOLOGIESE PIEKNIEK IN DIE KALAHARI

Op ’n heerlike lentedag in die Kalahari, het ’n groep diere besluit om ’n ekologiese piekniek te hou. Hierdie besonderse piekniek is geïnisieer deur die versamelvoëls.

Ek was in die bevoorregte posisie om vanuit ’n wildskuiling die diere se piekniekbedrywighede deur die lense van my verkyker dop te hou en te dokumenteer. Wat ’n wonderlike ervaring was dit nie gewees nie!

Elke dier moes iets saambring om te eet. Dis mos waarvoor piekniek staan? ‘Elkeen bring iets saam’. Ja! maar, in hiedie geval voorsien elke dier uit ʼn bepaalde bioom, kos vir die piekniek aan ’n ander dier.

Die piekniekgangers het bestaan uit onder andere die volgende diere:
• Bobbejane;
• ’n Jakkals;
• ’n Kameelperd;
• ’n Dwergvalkie;
• Koringvoëls;
• Meerkatte;
• ’n Renoster;
• Skoenlappers;
• Versamelvoëls;
• Verskeie insekte;
• Vlakvarke; en ’n
• Vlermuis.

Ek deel vervolgens graag my waarneming en verwondering van hierdie diere se ekologiese piekniekbedrywighede met die leser.

Die versamelvoëls het besluit dat die mees geskikte plek vir hul piekniek tussen ’n reuse ou kremetart- en ’n kameeldoringboom op die duineveld sal wees.

Die vraag wat in my kop bly maal het, was: Waarom juis ’n kremetart- en ’n kameeldoringboom uitkies as ’n ekologiese ‘piekniekterrein’?

Wel, die kriteria vir die kies van die piekniekterrein was soos volg:
• Daar moes ’n boom wees wat skaduwee maak in die skroeiende Kalaharison, waaronder hulle veilig kan voel en rustig hulle piekniekmaal kan geniet;
• Dit moet ’n boom wees wat ook as waterbron kan dien om die genooide diere se dors te kan les; en
• Laastens moet die boom ‘piekniekgangers’ deurlopend ook van piekniekvoorraad kan voorsien, hetsy deur vrugte, blomme of blare te dra.

Die reuse ou kremetartboom was die enigste boom in die duineveld wat aan al hierdie kriteria voldoen. Die kremetartboom is inderwaarheid meer as net ’n plant. Dit is ’n lewens ondersteuningsisteem vir die diere as piekniekgangers. Laasgemelde blyk duidelik uit die onderskeie diere se deelname aan hierdie ekologiese piekniek.

Die bobbejane eet die boom se sade en versprei dit dan weer.

Met hul knielende ‘soektoere’ grawe vlakvarke met hul snuite wat soos stofsuiers werk, op soek na wortels, knolle en insekte. Terwyl hulle die grond omdelf in hul soektog na voorraad, ‘spit’ hulle ast’ware die grond weer om. Dít het dan weer tot gevolg dat saadontkieming makliker plaasvind en plantegroei sodoende bevorder word. Maar vlakvarke versamel nie alleen piekniekvoorraad nie.

Dit is hier waar die versamelvoëls inkom. Hulle speel nie maar net die rol van ‘piekniek organiseerders’ nie. Terwyl vlakvarke die grond omdelf in hul soektog na kos, kom die versamelvoëls nader om saam te smul aan die wurms en goggas wat ontbloot word. Hulle eet insekte wat hulle vind naby waar ‘n vlakvark die grond omdolwe.

Van die versamelvoëls sit ook op die vlakvarke se lywe en eet parasiete soos bosluise en vlieë van hul velle af. Sodoende raak die vlakvark ontslae van irriterende parasiete, terwyl die versamelvoëls kos vir hul piekniekmaal kry.

Die volgende oomblik stap ‘n renosterbul uit die bos. Die renoster besluit om onder die ou kremetartboom rond te snuffel. Aan die voet van die boom is minerale en sout in die grond, wat die boom se wortels uit die grond opgetrek het.

In die proses smul hy sommer ook aan ’n klein struikie en ’n kolletjie gras, wat in die skadu van die boom groei, want onder groot boom is die grond ryk aan voedingstowwe. Dus ’n heerlike piekniekmaal vir hom onder die ou kremetartboom. Maar dit is nie al nie. ’n Jakkals kom al agter die renoster aangedraf. Hy snuffel-snuffel aan die renoster se ou mishoop. Binne is kewers en sappige larwes, piekniekvoeding vir hom.

Skoenlappers fladder uitgelate van blom tot blom en bestuif sodoende die plante.
Muggies en wurms breek afval. Sodoende hou hulle die grond van die piekniekterrein gesond.

Die termiete belug weer die grond van die piekniekterrein, en word in die proses self kos vir voëls en meerkatte.

Teen laatmiddag begin die kremetartboom se groot wit blomme oopmaak en ’n vlermuis kom aangevlieg. Sy taak is om die blom te bestuif terwyl hy die soet nektar opslurp as sy piekniekmaal.

Wat die keuse van die kameeldoringboom betref is daar ’n paar interessante dinge wat na vore kom.
• Die versamelvoëls het ’n reuse nes in die kameeldoringboom gebou uit stokkies, gras en doringtakke. Dit lyk vir my kompleet soos ’n ‘stad’ vir voëls, wat van strooistene in die kameeldoringboom gebou is.
• Binne hierdie nes, wat tot 100 pare versamelvoëls kan huisves, is daar kamers en gange, koel kompartemente en warm slaapruimtes, met goeie isolasie teen die hitte, en selfs reënwateropvangs in sekere holtes.
• Wat egter wonderlik is, is die feit dat ander spesies ook welkom is om hulle ekologiese ‘pieknieknes’ te bewoon.
• In die buitenste gedeelte van die groot strooidak het ’n dwergvalkie vir homself ’n nessie gemaak. Hy jag vir miere, kewers en muise in die omliggende duineveld. Laasgenoemde is dus sy kos vir die piekniek.
• Bo-op die nes sit twee koringvoëls wat los grassade uit die nes ‘steel’. Dít dien dan ook as hul piekniekvoorraad.
• Onder die boom waarin die versamelvoëls se nes gebou is lê uitgevalle eiers, kosreste en dooie kuikens. Dit dien dan as die meerkatte se kos.
• Die meerkatte is ook skoonmakers van die piekniekterrein in die sin dat hulle afval verwyder wat moontlike siektes kan veroorsaak.
• Die kameeldoringboom ontvang weer sy piekniekvoorraad van die versamelvoëls se nes in die sin dat die mis van die voëls die grond bemes rondom sy stam, en as die nes ou word en afval, voed dít weer die boom.

Dít alles inaggenome is die rede waarom die diere die kameeldoringboom as deel van hulle piekniekterrein gekies het.

’n Kameelperd kom deur die duineveld aangestap, al smullend aan die blare van die bome rondom die piekniekterrein. Elke keer as die kameelperd die blare afruk, val klein insekte en blaarvreters af grond toe, waar hulle maklik bekombare kos vir insekvretende diere is.

Die interaksie tussen die kremetartboom, kameeldoringboom en die verskillende diere, (piekniekgangers), is ‘n voorbeeld van ekologiese interafhanklikheid wat hul piekniekvoorraad betref.
Ten slotte: Hierdie besonderse ekologiese piekniek van die diere, in die hart van die Kalahari, se dade spreek harder as wat woorde ooit, vir die mens sal kan sê.
——————————–ooo00ooo———————————
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 1039]
                                                      Bronnelys
• Carruthers, V., 2001. The Wildlife of Southern Africa: A Field Guide to the Animals and Plants of the Region. Cape Town: Struik Publishers.
• Hockey, P.A.R. Dean, W.R.J. &. Ryan P.G. 2005. Roberts Birds of Southern Africa (VII Ed). Trustees of the John Voelker Bird Book Fund, 9 Churh Square, Cape.
• Skinner, J.D. & Chimimba, C.T., 2005. The Mammals of the Southern African Subregion. 3rd ed. Cambridge: Cambridge University Press.
• Van Wyk, B. & Van Wyk, P., 1997. Field Guide to Trees of Southern Africa. Cape Town: Struik.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed