Om ‘n ouma te wees
Om ’n ouma te wees
Daar gebeur baie dinge in die lewe wat jou fondamente skud en jou verskrik laat kantel, maar daar gebeur ook dinge wat jou na asem laat snak en jou verdwaas laat terugsit van lekkerkry.
Een van daardie dinge wat jou asemloos laat van verwondering, is om ’n ouma te word. Die verdwasing is meestal te wyte aan die feit dat jy so oud moes word voor jy kon leer dat jy selfs nóg liewer kan hê. Nog ’n ding is die volslae verstomming waarmee jy toekyk hoe jou dogter oornag in ’n sorgsame en verantwoordelike ma verander. Dis bykans magies.
Snags, wanneer die slaap wye draaie om my loop en ek alles lê en bedink wat bedink moet word, dink ek aan die tipe ouma wat ek graag sal wil wees vir ons splinternuwe kleinseuntjie. Dan dink ek aan al die goed wat ek graag vir hom wil wys en leer, en al die dinge wat ek saam met hom wil doen.
Ek wil graag die tipe ouma wees wat tyd saam met hom spandeer. Ek wil vir hom wys dat hy belangrik is. Ek wil hê hy moet weet sy stem tel en ek wil hê hy moet voel dat hy gesien en gehoor word.
Ek sal graag saam met hom deur die veld wil stap en vir hom wys waar die patryse hul nes versteek en hoe skerpioene se gaatjies lyk. Ek wil vir hom die name van bosse en grasse leer en ek wil vir hom die groot gruisgat gaan wys wat soms, in genadejare, vol reën en waar ons al gesien het hoe bleshoenders met hulle kleintjies swem. En wil vir hom wys hoe plat ons aarde hier op die Kalkplato is as jy tot bo in die baken klim en hoe jy die son kan sien opkom en ondergaan sonder dat daar ooit ’n skaduwee oor jou hoef te val. Ek wil hom na ’n tweedehandseboekwinkel toe vat en vir hom sê dat hy enige boek kan kies wat sy hart begeer, en ek hoop hy kies een oor wense en drome en dat dit sy verbeelding sal oopkloof en blootlê sodat daar allerhande soorte lieflikheid kan uitloop. Ek sal graag saam met hom op die gras wil lê op donkermaan en vir hom wys waar Orion is en hoe die Drie Susters oor hom waak.
Ek sal vir hom wil vertel dat dit onwaar is dat slegs mense wat vroeg gaan slaap en vroeg opstaan, fluks en hardwerkend is. Ek wil hom vertel dat dit oukei is om soms koek vir ontbyt en spek en eiers vir aandete te eet. Ek wil vir hom wys waar houtkappers ’n koeëlronde gat in die seringboom se stam gemaak het. Ook hoe die Suidwes-parakiete saam met die versamelvoëls nesmaak en wys dat hulle in vrede saamwoon. Ek wil vir hom wys hoe witgatbome deur kalkbanke beur en reuse rotse oopbreek sodat hulle son toe kan groei. Dan wil ek vir hom verduidelik dat waar daar ’n wil is, is daar ’n weg en dat jy kan floreer in selfs die mees ongunstige omstandighede.
Ek wil vir ons ‘n piekniekmandjie pak met koekies en koeldrank en ek wil onder ‘n lemoendoring ‘n kombers oopgooi sodat ons na die geluide van die veld kan luister. En sodat hy kan hoor hoe stilte klink. Ek wil hê hy moet weet hoe die bessies van noeniebosse smaak en dat hy sien hoe geel die geel is van soetdoringblomme en wys dat dit nes kuikentjies lyk. Ek sal vir hom wil laat voel hoe sag die sade van blinkhaargrasse voel wanneer jy dit deur jou vingers trek, en hoe geniepsig die sade van velskoengras kan wees.
Ek wil saam met hom skulpe optel en sandkastele bou, roomys eet en luister na sy stories. Ek wil die lewe deur sy oë sien. Ek wil vir hom Twee vir ’n Stuiwer en Brolloks en Bittergal voorlees en ek wil vir hom leer van Elizabeth Eybers en Eugene Marais, van Antjie Krog en Uys Krige.
Ek wil vir hom leer om te kyk waar hy loop en wys hoe sag hy op die aarde moet trap sodat hy nie die klein vingerpolletjies verniel wat na ’n lang droogte dapper uit die grond breek nie. Ek wil hê hy moet sien hoe dankbaarheid lyk in die oë van ander as hulle weet dat jy hulle werklik raaksien.
En ek sal graag wil hê hy moet weet hoe dit voel om liefgehê te word. Hy moet weet hoe onvoorwaardelike liefde voel, sodat hy dit eendag kan gee.
Dis die ouma wat ek graag wil wees. En gaan wees.
© Hester Steenkamp
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Junie 2025 – PIEKNIEK projek