Jongste aktiwiteit:

Aura

Aura

Een bloedige, bloedige middag in Januarie, skuins na 14:00, staan ek in ’n poskantoor om seëls te koop. Seëls, van alle dinge. En in Mariental, van alle plekke. Enige een wat al ’n Januarie in Mariental beleef het, sal verstaan dat die hitte onbeskryflik is. Dit skroei jou van buite en kook jou van binne. Dis dodelik.

Ons het pas terug gekom van Stampriet af, waar ons die kinders by die koshuis gaan haal het vir die naweek. Retseh, ons oudste dogter, wil opsluit seëls hê sodat sy haar boeke vir Afrikaans kan oortrek, want so aan die begin van die jaar is dit mos wat ons doen. Afrikaans was haar gunsteling vak en sy het altyd ekstra moeite met daardie boeke gedoen. So, terwyl ek die gelukkige wenner is wat die seëls moet gaan koop, sit Pa en die dogters in die kar voor die poskantoor.

Daar staan ek toe, hoogs gefrustreerd met die feit dat daar net een persoon agter die toonbank is terwyl daar ’n ellelange ry is, angstig oor ek weet my gesin sit en smelt in die kar, kort duskant kookpunt van die hitte en baie lywe in die gebou en uiters ongeduldig, want ons moet tuis kom voor dit donker raak, want die wasgoed moet gewas word met sonkrag en daar lê nog ’n ver grondpad voor. So ek staan daar met dun nerwe. Baie, baie dun nerwe.

Voor my in die ry was seker ’n goeie agt of nege mense, en agter my ook soveel. Die volgende oomblik stap daar ’n Rasta-man in. ’n Regte, egte Rasta, kompleet met die “dreadlocks”, die veelkleurige gestreepte mus en ’n heldergeel t-hemp met Jimi Hendrix se gesig lewensgroot daarop. Ek het my so bietjie verkyk aan hom, want in al my jare wat ek in die suide bly, het ek nog nooit ’n Nama Rasta (of is dit dalk ’n Rasta Nama?) gesien nie. Ek was egter gou weer terug op my frustrasievlak wat diep in die rooi was, want vandat ek daar gaan staan het, het die ry nog nie een aks vorentoe beweeg nie. Die verergdheid het in my binneste geborrel. Ek het gekook, my gesin het gesmelt, die tyd het uitgeloop en die ry het botstil gestaan.

Na ‘n paar minute het iemand sag aan my skouer gevat en met die omkyk het ek gesien dit was Rasta-man. Hy het my intens in my oë gekyk met ’n uitdrukking op sy gesig wat ek net as besorgdheid kan beskryf. Hy het effens nader geleun en gesê: “Mevrou? Mevrou moet bedaar. Mevrou se aura is swart. Pikswart!”

Vir ’n paar lang oomblikke het ons net na mekaar gekyk, want woorde het ek nie gehad nie. Toe my brein weer begin werk, het ek net my kop geknik en gesê: “Ek glo jou. Ek het nie die gawe om auras te sien nie, maar ek kan vóél my aura is swart.” Ek het net daar in my spore omgedraai, uitgestap, in die kar geklim en vir Retseh gesê: “Jammer Pop, my aura is swart. Die seël-ding gaan nie vandag gebeur nie.”

Na daardie dag het ek hom nooit weer gesien nie. Dit was ’n vreemde en onverwagse ontmoeting, en ek het lank daarna nog uitgekyk vir hom, maar geen teken ooit weer van hom gesien nie. Ek sou graag vir hom wou vra watter kleur my aura tans is. Die swart aura het my nogal bekommer.

Ek het hom ook nooit vergeet nie, want sodra ek effe opgewerk raak oor dinge, herinner my boerman my graag aan my swart aura.

Die laaste tyd dink ek egter weer gereeld aan my Rasta-man, want met al die dinge ek elke dag sien, hoor en lees, kan ek voel my aura is weer swart. Pikswart!

© Hester Steenkamp




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed