Jongste aktiwiteit:

Wraak wat vrymaak

Wraak wat vrymaak

Die kragtige engin van die viersitplek vliegtuig kom met ‘n snik tot stilstand. Veronica sug.  Buiten die ritmiese gedraai van die propeller is dit grafstil om haar. Sy rek haar nek om die landskap vanuit die vliegtuigvenster te aanskou. Die bosveld  was nog altyd vir haar ‘n pleister vir ‘n gekneusde hart. Hierdie keer egter, ‘n middel tot ‘n doel. Sy staan vasberade op en gryp haar rugsak.

Veronica was al agttien.  Sy skep ‘n asemrowende mooi prentjie waar sy op die trap van die vliegtuig huiwer. Die liggroen broekpak beklemtoon haar groot groen oë, wat vandag troebel waters is. Sy het haar golwende blonde hare losweg in ‘n hoë poniestert op haar kop gestapel.

Sy lyk ouer as wat sy is – sy dra met opset klere wat haar volwassenheid beklemtoon.

Vir ‘n vinnige oomblik wonder sy wat sy eintlik hier soek.  Dan steek die pyn soos ‘n mes en ‘n ontsettende naarheid stoot op in haar keel.  Sy klou vas aan die reëlings om haar ewewig te behou.  Die afgelope vier jaar kelk oop in misrabele asemteue…

Van kleins af blom Veronica in haar pa, die bekende dokter Mike Heine, se kringe. Sy moes vroeg in haar lewe al gasvrou speel. Tydens die menigte onthale wat tuis gehou is vir haar pa se vennote moes sy haar stempel afdruk. Haar ma is oorlede tydens haar geboorte, dus is haar band met haar pa baie nou…altans…tot ‘n  maand gelede.

Hy was maar altyd daar.  Wikus Landman.  Dókter Wikus Landman. Pa se beste vriend – en vennoot. Pa Mike en dokter Wikus het mekaar getrou elke Woensdag by die gholfklub ontmoet vir ‘n uurtjie of twee se gholf genot.  Eers was hy vir haar soos ‘n ouboet, die lang man met die atletiese lyf en broeiende oë wat homself dokter noem.  Wanneer pa weg was op mediese kongresse het dokter Wikus haar onder sy vlerk geneem. Hulle was groot maats, daardie jare toe sy nog onder die toonbank van sy spreekkamer kon inpas. Hy het sy vrou pas na hulle wittebrood in ‘n fratsongeluk verloor, en pa sȇ hy rou steeds oor die mooi blondine wat so vroeg en wreed van hom af weggeruk is.

Veronica het gaandeweg rooi hakskene begin groei. Sy was pas in die hoërskool toe sy van hom as mán bewus begin word het.  Dokter Wikus Landman het Veronica se tienerdrome oorheers.  Hy was die held op die wit perd, die skim van die nag wat haar kon red uit haar klooster bestaan…

Sy het vasgegroei aan hom, soos mos aan ‘n boom.  Selfs toe die grys teen sy slape kom was sy lief vir hom. Op soveel geleenthede het sy haar liefde aan hom probeer verklaar.  Daar was lekkerruik briefies in koevertjies op sy lessenaar, weekliks vars blomme en  die fynste gebak.

Vir hom was Veronica die mooi opgeskote dogter van sy beste vriend.

Dis al.

As ‘n mens te lank skoene dra wat nie retig pas nie kry jy liddorings op jou kleintoontjies. Dan dra geen skoen lekker nie. Veronica moes op ‘n manier los raak van die knaende seer in haar skoen.

Sy moes wraak neem…Wraaksug, boosardige gedagtes ens…

Eendag het sy “per ongeluk” op ‘n foto van dokter Wikus se oorlede vrou afgekom. Sy het die foto lank bekyk. Elke stukkie van die foto daarvan ingedrink. Die blonde groenoog vrou het wyd gelag in die arms van haar minnaar.  Haar hals was slank en haar hare het sag daarom gegolf.  Haar lippe was vol en rooi en reg vir miljoene minnaarskuste.

Stadig is ‘n plan in Veronica se binneste gebore. ’n Meesterplan, ‘n plan wat nimmer sou misluk.

Drie volle jare later is die plan voltooi. Die resultaat is merkwaardig. As iemand haar nie geken het nie, sou hulle waaragtig kon dink dat Veronica dokter Wikus se oorlede vrou is.  Van haar kroontjie tot  haar toontjie is Veronica haar spieëlbeeld. Haar blonde hare golf teen haar nek, die groen kontaklense skitter in haar oë, en haar rondings is vol en vroulik.

Eendag het dokter Wikus terloops laat val dat hy hou van ‘n vrou wat iets het om aan te vat.

Op agttien was Veronica ‘n oorryp vrug. Oestyd het aangebreek. Drie jaar se drome, fantasieë en trane kook en borrel duiseligwekkend oor.

Veronica het ‘n doktersafspraak gemaak, by dokter Wikus. Eintlik het sy self haar naam in die afspraakboek ingeteken. Sy het gewag, soos al sy ander pasiënte in die wagkamer, met sy ry pers stoele en potplante in die hoek. Die tydskrif op haar skoot was twee jaar terug se huisgenoot. Haar hart het geklop in haar keel. Sy het haar mooigemaak vir hom.  Haar hare was syagtig en los, haar lippe was vol en granaatrooi en haar oë het gesmeul.

Toe dit haar beurt was het haar bene gebewe. Sy wou hom wys wat hy al die jare gemis het.

Pa kry altyd ‘n galaanval van te veel soetigheid eet.

Toe dokter Wikus haar liefdesverklaring so grapsgewys en bedaard van die hand wys het Veronica geweet sy sterf. Op daardie oomblik. Drie jaar se soet het in die bitterste galstene oorgekook.

Sy het sy spreekkamer naar verlaat.

Vir die eerste keer het Veronica en pa woorde gehad.  Die geweld van die woordvloed het haar weggedryf uit die warm kring van haar ouerhuis. Pa was briesend. Die aantygings het in dik kotsels van sy mondhoeke af gedrup en soos warm lawa moes sy dit sluk.

Hoe kon sy haarself so goedkoop maak voor sy vennoot, sy vriend?

Jarelange vriendskap en wedersydse respek hang swaar in die weegskaal. Is bloed dan nie dikker as water nie?

Veronica is geweeg en is te lig bevind.

Stert tussen die bene het Veronica haar kamer ingeskuifel.  Die skryfblok is nader getrek.  Dieselfde skryfblok wat male sonder tal haar liefde verklaar het…

“Liefste pa

Ek gaan weg. Moet my asseblief nie probeer opspoor nie.

Liefde

Veronica”

En nou is sy hier – in die bos waar niemand haar kan sien, pla of herinnervan wat was nie..

Skielik is sy vry, reken die jong tiener dame terwyl sy haar planne tot vryheid volg.

Veronica, Veronica weet jy wat jy doen? Waar is jy my kind? Vrae van n” Vader in skok, rou en bekommernis.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed