Jongste aktiwiteit:

Op die plaas “Ope Hande”

Op die Plaas “Ope Hande”
n’ Ewigheid ver maak ‘n plat stukkie grond ‘n eelt op die verweerde aarde. As die reën hiér val, dan
reën dit, wragtig veertig dae en veertig nagte aanéén! Maar die dróógte is meer as die reën hier,
vandaar die naam “Ope Hande”, wat Stefanus de Wet sy plasie, wat op die knoets van die eelt lê, by
die dorpsraad van George laat registreer het.
Stefanus is ‘n “deeltydse” melkboer. Hy voorsien die daaglikse melk aan die plaaslike supermark op
George. Hy is ook bankbestuurder in George, want wie sal dan vir sy kinders kos gee as die reën nie
die oes laat inkom nie?
Dié dat hy die weggooikind van oorle oubaas Daan, wat voor sy dood in die dorp se supermark rakke
gepak het, opgekommandeer het om in die ou opstal te kom bly. Stefanus kon net nie sien hoe ‘n
aangename seun soos Jakobus ook soos sy pa sy dae moes rakke pak nie!
Jakobus is seker so om en by vyf-en-twintig jaar oud. Hy is ‘n vriendelike, hardwerkende mens. Hy het
‘n “ambags” matriek gekry en daar is niks wat vir Jakobus se hande verkeerd staan nie. Hy is die sout
van die aarde, en Stefanus waardeer hom opreg. Al is hy nie baie intilegent nie, en al is hy nie eintlik
iets vir die oog nie, is daar darm nog ‘n oog wat kyk na sy goed en alles regmaak wat breek.
En al is Stefanus se seun Buksie nou klaar met skool op die dorp vertrou hy nie ‘n bosduif se lewe
naby hom nie!
Buksie is geen boer nie. Dáár het die appel darem vrééslik ver van die boom geval! Nee, sý kop staan
boeke toe. Hy is al ewig besig met somme maak. Hy sal seker vanaf volgende jaar die paadjie na die
bank toe ry saam met Stefanus.
Mieta, Stefanus se vrou, en Elmien, sy koringgeel- kop engel- van- ‘n- kind, bly tuis. Mieta is die distrik
se kwiltkampioen en sit haar dae om in die koelte van die groot voorstoep met haar lappieswerk.Sedert
die tragiese afsterwe van hulle jongste kind sowat drie jaar gelede het Mieta haar teruggetrek in haar
dop en is vir lang tye salig onbewus van wat om haar gebeur. Dan is sy in ‘n wêreld van haar eie waar
geen droogte of wind of koue haar kan raak nie.
Dis immers hoe die kwiltwerk begin het.
Klein Jaap het geloop in sy slaap. Een koue winternag was die voordeur nie gegrendel nie, en het hy
in sy slaap die deur oopgemaak en buite gaan loop. Hy moes ver geloop het. Sy verysde lyfie is die
volgende nag hoog teen die kloof gekry.
Na die begrafnis het Mieta haar eerste kwilt gemaak. Vanuit oorle klein Jaap se klere.
Ter herinnering aan ‘n kind wat te koud gekry het.
Dit is ‘n vlam wat hoog brand in haar hart, en wat deur niks of niemand die afgelope drie jaar geblus
kon word nie. Sy maak kwilts vir kinders van die kontrei om te voorkom dat hulle koud kry tydens die
geniepsige winterkoue.
Dis Elmién, Stefanus se vyftien jarige dogter met die koringgeel hare en blou oë, wat die pot aan die
kook hou, wat die gate in die kouse stop, en die hemde blink gestryk hou. Sy is een van die kinders
wat so geseënd is om tuisonderrig te ontvang. Sy is tans besig met haar graad tien eksamens, en so
tussendeur die huiswerkies pas sy elke dag ‘n paar lesse in.Elmienen Jakobus is ook lekker maats.

Stefanus merk soms hoe Elmien vir Jakobus ‘n melktert bak en ongesiens saam met sy elfuur koffie in
die meelsak sit. Hy hoor ook soms hoe die twee uitgelate in die dam baljaar. Dis vir Stefanus ‘n riem
onder die hart dat sy dogter so ‘n gawe maat het.
Dis vroeg al warm. Jakobus spoel sy papbak onder die kraan op die stoep van die ou opstal uit. Dan
lig hy sy keps van die stoel af en skop die sifdeur oop. Hy loop uit in die warm son en kyk nie eers
terug toe die sifdeur hard toeklap agter hom nie. Hy kyk stip op in die pad waar hy sien Pierewiet
aangedraf kom. Pierewiet is al seker in sy vyftigs, en het by sy oorle pa geleer hoe om vir die de Wets
te boer. Pierewiet se gesin is van die mìn gesinne wat nog oor is op die plaas. Die aanhoudende hitte
dryf die plaasarbeiders nader aan die dorpe, daar waar meer bome is, en hulle as tuinwerkers en
bediendes ligte handearbeid kan doen. Dis net dat die plaas vir Pierewiet en sy familie bloedgrond is.
Die plaas se hart klop in húlle are.
“Goeie more, Pierewiet.”
Jakobus haal sy hoed af en skreef sy oë in Pierewiet se gesig op. “En as jy dan soos ‘n springhaas wat
weghol hier aangedraf kom?”
“Jakobus, ek het problems by hierdie oggend…” Die oue versit sy velhoed onseker in sy vereelte
hande. Jakobus kyk hom nog steeds dom aan, wag dat hy verder verduidelik. Pierewiet staar
apologeties grondlangs en praat geen woord verder nie. Toe die stilte te lank na Jakobus se sin raak
spoeg hy ‘n dik straal spoeg na links.
“Kyk Pierewiet, die son staan nie stil nie. Praat laat ek hoor van die moeilikheid.” Jakobus wonder in
die stillegeit of Pierewiet en sy familie dan nou ook besluit het om te trek agter die vleispotte van Egipte
aan. Vir wat kan die ou dan nie sê wat fout is nie?
Pierewiet trippel rond. “Sien Jakobus, ek het ‘n klein problem, maar dit gaan groot werk vat…”
“Waar is die probleem?” Die son brand Jakobus se vellies en hy begin aanstap na die naaste koelte
toe. Pierewiet lyk onwillig om hom te volg.
Jakobus, positiewe mens wat hy is, probeer die man moed in praat. “Aag ou Pierewiet, daar was nog
nooit ‘n probleem so groot dat ek en jy dit nie kon baasraak nie! Dis nog vroegdag, vertel my wat pla
dan sort ons dit een-twee-drie uit!”
Nou kyk Pierewiet op in Jakobus se gesig. “Die ding is, hierdie problem hy soek nie net die muscles
nie, hy soek die breins ook.” Toe hy dit sê, kyk hy vinnig af en vrommel die velhoed weer tussen sy
hande.
Stories loop al die plaas vól van Jakobus wat nie veel tussen die ore het nie….
Jakobus skater dit uit dat die klipdassies verskrik in hulle gate terughol. “Jakobus, moenie worry nie
man. Jy het mos die muscle en ek het die breins!”
Pierewiet lag nie saam nie. Hy is skielik baie haastig. Hy plak sy hoed op sy kop sonder om Jakobus in
die oë te kyk. Hy mompel net vererg: “Nou kom kyk self!”
Hy trek al twee meter ver voor Jakobus eindelik begin besef dat daar rêrig groot fout iewers moet wees.
Pierewiet loop soos ‘n man van dertig jaar, sy stokstyf rug skoon vergete!

Hulle loop in die riging van die melkstal, ‘n ou gebou, nog met klip en modder aanmekaar gesit iewers
deur die voorgeslagte.
Soos wat hulle die ou geboutjie nader, hoor Jakobus stygende geluide van verskillende oorspronge.
Hy probeer die geluide oderskei van mekaar. Daar is die paniekerige gebulk van koeie, daar is die
geskree van die jonger werkers, asook iewers die hoë skril stem van Elmien.
Haar stem is een uit ‘n honderd. Dis net…nou is die lag daarin skoonveld.
Nes Pierewiet die sinkdeur wil oopstoot storm ‘n sopnat Elmien uit en loop beide Pierewiet en Jakobus
teen die drukgang vas. Sy is kwáád. Sy mik na Jakobus, en die kyk in haar oë is die kyk van ‘n
stoetbul wat ‘n rooi lap sien. Sy gluur dan na Pierewiet se kant toe en dan na Jakobus se kant toe.
“Vir wat draai julle so, hê?” “Ek is al sópnat en ýskoud!”
Jakobus reageer in lettergrepe. Hy sien eers die nat slierte blonde hare wat aan Elmien se wange klou.
Dan sien hy die vuur in haar blou oë. Dan sien hy haar mondhoeke wat van die koue bewe. Dan kyk
hy na haar druipnat rok wat elke vroulike ronding beklemtoon. Óórbeklemtoon. Jakobus voel dom en
is traag om te reageer. Die meisie staan en broei bo oor hom en gee hom nie eers kans om tot verhaal
te kom nie. Dan buk sy vorentoe en gryp hom met mening aan die hempsmou.
“Gaan net in, asseblief!! En help ons!! Voor pa hier kom!!”
Nou pleit die blou oë. “Ek het die verkeerde knoppie daar by die dam gedruk toe ek die tuin wou
natlei.. Toe raak die waterdruk hier na die melkstalle te groot en skiet die pype los…gaan kyk die
gemors Jakobus…Toe stuur ek gou vir Pierewiet oor na jou toe om jou te gaan roep. As pa vanmiddig
hiervan hoor slag hy eers vir my af en dan vir jou!!”
Al Elmien se gebabbel het Jakobus darm kans gegee om tot verhaal te kom. Nou stoot hy die melkstal
se deur stadig oop….Elmien loer oor sy skouer. Pierewiet staan daar doer eenkant en speel met sy
voet in ‘n misbol, bang vir dir blonde meisie se vuur.
Dis chaos in die melkstal.
Die koeie staan in die drukgange en stoei, die waterpypies na elke drukgang het losgeskiet vanweë die
te groot druk en spuit water soos kronkelende slange. Die twee jong werkers hardloop hot en haar om
te probeer om die pypies terug te druk met geen sukses, want die druk is steeds te groot en die pypies
spuit net weer los. Die misvloer is seepglad en die koeie skop wild sodra die werkers hulle nader en
hulle hardloop val-val en koes-koes en skree in onverstaanbare tale op mekaar.
Dis soos ‘n toneel uit ‘n komedie. Jakobus, bietjie traag van begrip, vat ‘n paar oomblike om die toneel
voor hom in te neem. Een kyk van Elmien wat ongeduldig rondtrippel en ‘n plan neem vorm aan.
Jakobus tree weer terug uit die bedompige melkstal na buite. Hy asem die vars lug in, en stap dan
fluit-fluit,onverstoord, met ‘n breë glimlag, af na die waterpompe se kant. Elmien staar hom agterna.
“Hoekom het ons nie daaraan gedink nie, Pierewiet?”
Pierewiet skud net sy kop heen en weer. “Nonnie, is oor ons die muscles het en nie die breins nie…”

Elmien se lag is weer in haar stem as sy klokhelder lag. Jakobus hoor dit daar by die waterpompe. En
sy dag is volmaak. Hy sit die pomp af. Eers die skade herstel en dan kan ek die regte knoppie kom
druk!! Hy glimlag in sy skik. Daar is niks wat hy van hierdie pompstelsel nie weet nie.
Terug by die melkstal is Elmien nie meer daar nie. Pierewiet laat weet dat die Nonnie haarself gaan
bymekaar maak het. Jakobus lag.
Die jong werkers hardloop-val verlig uit die melkstal. Druipnat en tot bokant die knieknoppe vol van
beesmis..
Jakobus se rede is terug. “Kry gou die koeie uit hierdie sopnat melkstal in die weiding in, dan gaan
maak julle vir julle droog. Later sal ons die skade gaan sien.”
Elmien kom later aan met boerbeskuit en soet swart koffie. Eers word daar goedig gelag en geterg,
maar na twee bekers koffie wag die werk. Jakobus groet, sit sy keps op en loop die melkstal binne.
Dit was waarlik maar ‘n klein probleempie, maar dit het die heeldag se regmaak gekos. Die melkstal
moes ordentlik skoon en droog gemaak word, al die pypies moes vervang word, en die onrustige koeie
moes gepaai word. Teen laatmiddig, toe die son water trek, stap die koeie kop in die lug soos
skoumateriaal, ‘n blinkskoon melkstal binne.
En so wrintiewaar, Stefanus kom in die paadjie afgestap in die rigting van die melkstal. Jakobus
glimlag breed. Die melkstal was nog nooit so skoon soos vandag nie. Die jong werkers groet uitbundig
toe Stefanus die deur oopstoot. Jakobus verbeel hom die koeie knipoog vir hom. Hy sug verlig. So
amper het hy groot moeilikheid gehad, en alles het begin met ‘n baie klein probleempie. ‘n Skakelaar
verkeerdelik gedruk…
Hy wip soos hy skrik toe Stefanus hom klop op die skouer. “Kyk net, so moet ‘n melkstal nou lyk! Julle
het werklik hard gewerk vandag Jakobus! Ek is so trots op julle!!” Jakobus sluk droog. Hy het nie
woorde nie. Sy hart sit in sy keel. Hy sal verdomp nie vir Elmien in die moeilikheid bring nie. ‘n Stilbek
is ‘n heelbek.
Stefanus merk Jakobus se ongemak.
“En as jy niks sê nie?”
Dis Jakobus se praatbeurt: “Ek dink maar net.Baie keer beplan die duiwel om ons te sink. Hy sit klein
probleempies voor ons voete neer en wag dat ons hard moet val sodat hy hom in ons wonde kan
verlekker. Dan kom die Here en verander dit wat die ou duiwel vir ons beplan het in ons grootste
oorwinnings.”
Stefanus laat val amper sy sigaret uit sy mond van verbasing. Sulke wyshede het hy nog nooit uit
jakobus se mond gehoor nie!! Miskien het hy hom al die tyd verkeerd geoordeel. Hy het miskien veel
meer tussen die ore as wat die mense hom toegee…
“Kom eet vanaand by ons. Ek dink Elmien maak doekpoeding vir nagereg. En ek dink tant Mieta het
vir jou ‘n kwilt gemaak”
Jakobus sluk droog. Dis die béste dag van sy léwe!




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed