Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 7

Hoofstuk 7 – ʼn Nuwe Aanvaarding

Die rit af teen die berg is glyerig, maar verloop voorspoedig. Die studente en die ander passasiers gesels aanhoudend, en Zuluika se gedagtes gaan terug na haar studente dae op Tukkies. Sy onthou veral die busritte van die Tukkies Filharmoniese Orkes wanneer hulle opgetree het, en sy verlang na die dae toe sy ook net ʼn student was.
Om die beurt wissel die insittendes plekke, en Zuluika besef elkeen neem ʼn beurt om met haar te gesels. Die toegeneentheid trek haar in die atmosfeer van sorgeloosheid in, sy weet iewers is daar ʼn God wat besig is om haar deur hierdie mense heel te maak.
Dit is laatmiddag wanneer hulle Corvallis binnery, en Zuluika is verlig maar ook gespanne, ‘kan sy alleen deur die drie dae kom?’
Hy wag vir hulle wanneer sy uit die voertuig klim voor die universiteit, skraal oop gesig, grys hare, en die mond wat effens optrek in ʼn glimlag, en die bekendheid is daar, ‘Hy lyk soos oom Louis’, flits dit deur Zuluika se gedagtes, en wanneer sy hand om hare vou is die warmte daarin.
“Bernhardt Crafford.”
“Zuluika Zuess.”
Sy voel ʼn oombliklike aangetrokkenheid, dieselfde gevoel wat sy baie jare gelede gekry het toe Louis Olivier haar hand as dertienjarige kind gevat het, en sy vertrou die gevoel.
“Hallo Professor,” kom dit van die studente om haar, en die ‘lankgelede’ vakuum waarin sy vir een oomblik vasgevang was, verdwyn, sy is terug in die hede, haar nuwe hede.
“Ek hoop nie u gee om nie Dokter, maar ek het vir u ʼn suite hier by ons in die personeeleenheid gereed gekry, eerder as in die hotel of gastehuis.”
Zuluika weet sy waardeer die gebaar, en haar stem sê dit, “Nee Professor, ek is dankbaar om hier tuis te gaan.”
“Bernhardt, indien jy kan,” sy knik, “Zuluika asseblief.”
Wanneer hulle die gebou instap, gaan staan Zuluika stil, sy sien al die memorabilia, soos by Tukkies, en sy verlang.
Terwyl almal saam deur die wye gange stap, wys Bernhardt sekere memorabilia aan Zuluika uit, en vertel met trots die geskiedenis daarvan. Hulle stap stadig van een artikel na die volgende, en Zuluika respekteer en geniet die openlike trots wat almal vir die universiteit het.
By haar suite neem Josh haar bagasie in, en Bernhardt laat haar daar met die versekering om oor ʼn uur haar te kom haal vir aandete in die Universiteit eetsaal, waar hy haar aan die ander fakulteitslede wil voorstel.
Onwetend gee hy haar die ondersteuning wat sy so nodig het, “Zuluika ons is totaal informeel, die klere wat jy nou aan het, is heeltemal gepas vir aandete. Saterdagaand kan jy effens optof vir die maandeinde dinee, indien jy wil.”
Zuluika kyk na hom, die vraag is in haar, ‘weet hy iets van my omstandighede?’
Hy druk haar hand saggies, skud sy kop en glimlag, “Sien binne ʼn uur, rus so bietjie.”
Die twyfel versmoor haar, ‘Kan sy inpas in hierdie omgewing en rol, het sy genoeg selfvertroue om dit te doen, en sy worstel met die onsekerheid in haar’.
Sy gaan lê op die bed, maak haar oë toe, en sy herroep die Superintendent se woorde haar laaste dag in die gevangenis, “Net jy kan jou toekoms bepaal Zuluika, net jy kan verseker dat jy weer die briljante mens sal wees wat jy was, en wat jy bedoel was om te wees. Gaan maak vir jou ʼn nuwe lewe, en maak dit ʼn mooi een, probeer die afgelope tien jaar agter jou sit, wees weer gelukkig.”

Sy herroep die belofte wat sy aan haarself gemaak het die nag in Lize se huis, ‘sy weet indien sy dit ooit weer in die wêreld wil maak, sy so vasbeslote soos daardie dertienjarige kind moet wees, en sy weet sy is, sy het dit toe gemaak, en sy sal weer, ongeag die tyd wat dit sal neem’.
Sy staan op, maak haar sak oop, haal die twee stelle klere uit wat Rhoda haar help inpak het, kyk na die uitrustings, sy weet, Rhoda het geweet van die program, Rhoda het haar voorberei vir die paar dae, en sy waardeer die mens se ondersteuning.
Sy trek aan vir aandete, spuit parfuum aan, neem die lipstiffie, en vir die eerste keer in meer as tien jaar sit sy dit aan, en sy voel goed, en sy maak ʼn belofte aan haarself, ‘Die pad na sosiale aanvaarding begin vandag’.
Hy kom haal haar met ʼn ligte klop aan die deur, wanneer sy uitstap en opkyk in sy gesig, sien sy die goedkeuring en trots, en hy sien die onmaats oë. Sy reaksie is verstommend, “Liewe Vader Zuluika, jy het unieke mooi oë, jy gaan ʼn treffer wees,” en nou beleef sy haar onmaats oë weer as ʼn pluspunt, en nie as onrein nie.
Die eetsaal is vol en hy neem haar aan haar arm en lei haar amper met ʼn vader se trots deur die tafels terwyl hy by elke tafel aandoen om haar voor te stel, en Zuluika voel welkom.
Na ete, terwyl hulle koffie drink is daar verskeie persone wat kom gesels, spesifiek oor die operasie wat sy op Pablo uitgevoer het, waar het sy ondervinding opgedoen, wat is haar spesifieke veld van fokus in chirurgie. Verskeie fakulteitslede dui aan hulle gaan haar lesing bywoon, en sy voel ʼn opgewondenheid wat vir ʼn baie lang tyd afwesig was.
Sy voel een met die mense, sy praat oor haar werk in die Gevangenis Hospitaal sonder om die instansie se naam te noem, niemand bevraagteken die naamlose hospitaal waar sy gewerk het nie, en sy ontspan. Sy hoef nie die diepste besonderhede van alles bekend te maak nie, net haar werk maak hier saak.
Met die nagsê voor haar kamerdeur, is sy aanvaar, sien hulle haar nie net as ʼn medikus nie, maar as een van hulle.
Wanneer sy gaan lê is sy ontspanne, geen vrees vir die volgende dag se lesing nie, haar gevangenisskap het dalk haar selfvertroue geknak, maar het haar mediese kennis en vaardigheid versterk, en dit is al wat sy op die oomblik nodig het, die res sal sy weer aanleer.

Gedurende ontbyt groet verskeie persone, terwyl ander hulle groet na haar wink vanaf hul tafels, “Dink jy is ʼn redelike groot treffer Zuluika, en dink nie dit is net jou vermoëns nie,” lag Bernhardt terwyl hy vir haar oogknip.
Josh vat liggies aan haar skouer, “Het Dokter die rekenaarskyfie met die operasie vir die lesing by Dokter?”
Zuluika haal dit uit haar tas en gee dit vir hom. “Ek sal die opstel van die rekenaar gaan doen voor die lesing, en indien Dokter wil, sal ek die hantering van die rekenaar behartig sodat u net op die lesing kan konsentreer.”
Sy druk sy hand een oomblik, “Dankie Josh, dit sal baie help.” Sy weet hy besef nie watter verligting dit vir haar is nie.
Die groot ouditorium is stampvol wanneer sy en Bernhardt instap, daar kom dadelik ʼn stilte oor die gehoor, en Zuluika besef die dissipline wat hier heers.
Bernhardt stel haar voor en gee ook vir haar onthalwe ʼn kort oorsig oor wie van die ander fakulteitslede in die gehoor is. Hy sit sy hand een oomblik in ʼn gerusstellende gebaar op haar skouer, en met ʼn glimlag sê hy: “Zuluika neem ons deur die operasie wat vir Josh Grube so betower het.”
Zuluika haal diep asem gedurende die kort applous en handeklap, dit gee haar die geleentheid om haar emosies onder beheer te kry. Sy vat aan haar baadjie se bosak, en voel Mauritz se ‘lysie’, en sy haal dit uit en vou dit oop.
‘Jy is die mees uitstaande mens wat ek ken, bring asseblief net jouself veilig terug’.
Die woorde tref haar, en die een sin tel haar op, sy lig haar ken, en die Zuluika Zuess wat alles kon doen, is terug.
Sy sit die nota terug in haar sak, lig haar hand, en die ouditorium word stil terwyl Josh die ligte verdoof oor die gehoor. Die woorde kom spontaan, en wanneer haar stem die ouditorium vul, sien sy hoe studente en personeel hul notaboeke oopmaak. Sy gaan terug in haar gedagtes na die teater, en dit is net sy en die beeld op die skerm.
Wanneer Josh die ouditorium se ligte aanskakel, is dit asof Zuluika uit ʼn ander wêreld waar sy die afgelope twee ure was, stap. Die applous is oorverdowend en hou net aan en aan.
Die volgende oomblik is Bernhardt by haar, neem haar in sy arms en druk haar teen hom vas. “Jy is alles, en meer, as wat Hermann Helder gesê het Zuluika,” fluister hy teen haar oor.
Haar wonder oor die ‘insig’ wat sy gedink het hy het, is ook nou opgeklaar, ‘Wat Joos of Laurie vir Hermann Helder gesê het, het hom vertroue in haar gegee’, en dit is genoeg vir haar.
Dit neem hulle amper dertig minute om uit die ouditorium te kom, almal vra vrae, wil meer weet van ‘Zuluika Zuess’, en sy praat om die tien jaar sonder die besonderhede van die plek, van die mens wat gemoor het, en die land se ‘skoon geheue’, waarvoor sy so gebid het, absorbeer dit wat sy deel sonder om dit te bevraagteken. Op hierdie oomblik dra sy net die ‘herinneringe’ van vandag, die afgelope vyf weke en die kennis van al die jare wat verby is in haar, en sy voel veilig.
Die middagete saam met die studente en personeel, gaan verby met gesprekke oor die operasie, haar werk in die hospitaal, en haar bydrae aan die universiteit en die studente, en sy word een daarmee.
Josh en Andrew kry haar voor die universiteit se ingang en hulle help haar tussen hulle in Josh se groot viertrek in, en met baie gesels en baie verduidelik van alles wat verby flits, ry hulle stadig na die middestad om die aankope te gaan doen.
In die vier ure neem hulle haar na verskeie winkels, en dit is ʼn wonderlike ondervinding vir Zuluika, in meer as tien jaar is dit die derde keer wat sy as ʼn vry mens inkopies kan doen, en dit lig haar gemoed.
Hulle kry ongeveer tagtig persent van alles wat sy moet koop, en die twee mans besluit dit is genoeg vir een dag. Hulle stap na die viertrek en die twee is baie beslis, ‘hulle neem haar vir aandete in een van die studente uithang restaurante’, en sy laat dit haar welgeval.
Sy is nie verbaas om baie van die oggend se gesigte in die restaurant te sien nie, en besef die samekoms is gereël, is nie ʼn ‘op die ingewing van die oomblik’ besluit nie.
Die atmosfeer, die studente wat spontaan by hulle op die banke en selfs op die tafel kom sit, vat Zuluika terug na Tukkies, en veral na die ‘uithang-aande’ na ʼn uitvoering, en sy vergeet vir die paar uur die wolk wat oor haar hang, word dit vir haar ʼn uitstappie wat haar terugneem na net jongmens wees, net lag en gesels en die wrede werklikheid vergeet.
Hulle laat die aankope in die viertrek, en wanneer hulle die kommer op haar gesig sien, lag Josh, “Dit sal veilig wees Dokter,” en sy weet, sy moet ophou om net altyd te dink wat verkeerd kan gaan, sy moet positiwiteit in haar denke inbou, en sy laat dit gaan.
Sy is uitgeput maar gelukkig wanneer sy in die bed klim. Sy tel Mauritz se nota op waar sy dit op die bedkassie neergesit het, vou dit oop, lees dit weer, en die warm gevoel om die boodskap van die wonderlike mens te lees, vul haar, sy skakel die lig af, draai op haar sy, en raak aan die slaap.
Met Bernhardt se klop aan die deur die volgende oggend, is sy gereed vir ontbyt, sy voel die honger aan haar knaag, en sy is effens verras daaroor. Sy weet, sy het die emosies en gevoelens wat gewone mense ondervind, doelbewus vir tien jaar onderdruk, omdat sy nie wou leef nie, en die ondervind van die honger knaagpyne herinner haar sy leef, en sy is vandag bly oor hierdie gevoel.
Die gesels is gemaklik, Bernhardt lig haar so ligweg in oor die maandeinde onthaal. Waaroor dit gaan, wie daar sal wees, en wat hulle probeer bereik, en sy hou van wat sy hoor. Hulle gesels oor die ondervindings wat hy hoop die studente in die hospitaal sal opdoen, in watter formaat hy graag haar terugvoer oor die studente se maand onder haar toesig sal waardeer, en dit is ook reg met haar.
Sy sien Josh en Andrew die eetsaal inkom, en met die opstaan en verskoning maak, gee Bernhardt haar weer die gevoel van ondersteuning, “Sal jou so seweuur by jou kamer kom haal vir die onthaal,” en sy knik instemmend.
Die jongmans ry deur die kampus gronde sodat sy die tuine en die geboue kan sien. Sy waardeer die erken van haar as persoon, as iemand wat tel, en sy weet, dit is iets wat sy nog aan moet werk, ‘die erken van haar eie waarde’.
Met die stilhou besluit hulle om elk ʼn lysie van die uitstaande aankope te neem, aangesien hulle soveel vinniger sal vorder. Die reëling pas Zuluika, en sy voel opgewonde oor die alleen wees tyd in die winkels.
Hulle spreek af waar hulle mekaar sal ontmoet om twee dertig, sy stap van winkel na winkel en werk haar lysie stelselmatig deur, en sy voel in beheer van haar dag, en dit is ʼn wonderlike gevoel.
Sy sien ʼn winkeltjie wat gedenkwaardighede verkoop, en besluit om te gaan kyk wat in die winkel aangebied word. Sy dink aan Mauritz se nota, en sy is lus om vir hom iets te koop. Sy weet sy wil iets gee wat waarde het, maar wat hy nie verkeerd sal opneem nie.
Sy sien die draairaam met sleutelhouers, en besluit dit val in die klas van ‘waardevol, maar nie te persoonlik nie’.
Sy draai die raam en sien die sleutelhouers met die swart en blou opaalstene, en sy weet dit is wat sy wil koop.
Soos soveel keer tevore, gaan die lank gelede woorde van Rudolph toe hy vir haar die borsspeldjie met die swart en blou opaalstene gegee het, deur haar gedagtes.
Sy onthou sy erns, sy liefde, en sy voel die trane in haar opstoot, ‘Here hy was so ʼn wonderlike genesing vir haar vertrapte gemoed’.
Sy maak haar oë toe en herroep sy woorde, ‘Moet nooit een dag weer dink jou oogkleur is ʼn vloek nie, want dit is nie, die kleure is ʼn seën, hulle is die kleur van swart en blou opaal’.
Hy het haar gesig tussen sy hande geneem, haar op haar swart oog gesoen, en haar gesig bly vashou sodat hy in haar oë kon kyk, en sag gesê, ‘Die volle spektrum van kleure in die swart opaalsteen simboliseer harmonie. Dit balanseer die energie van sy eienaar, simboliseer hoop, en dit gee jy my vir ons lewe saam’.
Toe het hy haar op haar blou oog gesoen en sag gesê, ‘Die blou opaal beteken geestelike genesing. Dit neem spanning weg en bring vrede. Dit is jy alles vir my, my liefste,’ en in hierdie een oomblik mis sy hom weer met die seerste seer, wat iemand kan ondervind.
Sy koop twee sleutelhouers, een vir haar, en een vir Mauritz, en sy hoop die stene in die sleutelhouers sal vir haar die spirituele genesing bring wat sy so nodig het, en vir Mauritz die harmonie wat hy nou het, sal behou.

Die twee jongmans ontmoet haar voor die koffiekroeg soos hulle afgespreek het, en hulle vra haar om saam met hulle ʼn ligte middagete te gaan nuttig. Sy is nie verbaas om die hoeveelheid studente wat die vorige dag ook in die restaurant vir hulle gewag het weer te sien nie, en daar word vinnig vir hulle plek gemaak om te sit.
Almal wil iets met haar bespreek, sy besef die jongmense geniet haar geselskap, en ʼn bietjie van die lank gelede student, is terug in haar.
Sodra hulle kos bedien is, leun Andrew vorentoe en almal word stil, “Dokter Zuluika, ons wil jou ʼn guns vra, ekskuus, twee gunste.”
Sy sit haar mes en vurk neer en gee hom haar volle aandag, “Goed Andrew, vra,” en sy glimlag vir die erns op sy gesig.
“As ʼn reël vat ou dokter Friedrich net drie studente per jaar, sal jy kans sien vir meer studente by die hospitaal?”
Sy weet sy sal, maar sy weet ook haar tyd is beperk tot ʼn paar maande vir eers, en sy sê hom dit.
“Ons weet, maar sal jy vir die oorblywende tyd kans sien vir ʼn paar meer, daar is geriewe vir tot ses studente.”
“Ek sal kans sien, maar ons sal eers toestemming van die hospitaal en van die universiteit moet kry.”
ʼn Spontane gejuig volg, “Dankie Dokter, ons het reeds professor Crafford se toestemming, en matrone Rhoda en dokter Werner het ook ja gesê, indien Dokter kans sien.”
“Nou ja, lyk my dit is reeds gereël, wat is die ander guns?” Sy lag wanneer sy, sy ongemak sien.
“Ons finale jaar konsert is volgende maand gedurende die maandeinde dinee naweek, sal Dokter saam met ons in ons sanggroep optree.” Wanneer hy die twyfel in haar oë sien kom dit van verskeie studente, “Asseblief Dokter, ons wil die eerste prys wen.”
“So voor ek instem tot enigiets, waaroor gaan dit, en wat is die prys?”
Dit is Josh wat antwoord, “Dit moet ʼn groepsangitem, en ʼn groepdansitem wees, moet oorspronklik wees, en mag net persone uit die mediese beroep insluit.”
Zuluika knik haar kop en hy gaan angstig voort, “Die eerste prys is tien duisend dollar vir die welsynsorganisasie van ons keuse. Ons wil dit vir die skool vir serebraal verlamde leerlinge skenk vir toerusting.”
Hulle sit doodstil met alle oë op haar gerig, Zuluika weet, om nee te sê sal amper krimineel van haar wees.
“Goed, julle het my, ek sal help.”
Die applous is spontaan, “Dit is ook waarom ons nog drie studente wil saamneem, ons groep wil almal vir die maand by die hospitaal wees sodat ons saam kan oefen, wat sê Dokter?”
Zuluika besef hoe absoluut spontaan sy ingetrek word in die mense se lewens in, en sy weet indien sy oor die struikelblokke in haarself kan kom, sy weer normaal kan leef, en hierdie is ʼn geleentheid om dit te begin doen.
“Nog een struikelblok, ons moet ʼn bestuurder ook hê, iemand uit die gemeenskap,” en Josh plooi sy voorkop.
Zuluika weet wie sy graag by hulle wil betrek, maar ook dit weet sy, is hulle keuse, “Wel daar bo is definitief baie kandidate tussen die mediese personeel, die skool, en die gemeenskap. Ek glo julle gaan baie vinnig iemand kry,” en sy glimlag en begin eet, maar sy hoop dit sal Mauritz wees.
Soos die vorige aand, dring hulle daarop aan om haar deel van die rekening te betaal, en sy laat dit daar, sy weet hulle is trots en dankbaar en wil dit wys, sy was ook lank gelede ʼn student.

Die terugtog na die universiteit word afgelê terwyl Josh en Andrew aanhoudend oor die konsert gesels. Hulle bespiegel oor die groepsdans wat opgewek en ritmies moet wees, terwyl die sangnommer ʼn groepsang sowel as ʼn solo gedeelte moet insluit.
Zuluika luister, maar lewer geen kommentaar nie, sy sal hulle eers geleentheid gee om self daardeur te worstel. Indien hulle nie kan besluit nie, sal sy haar insette gee. Sy weet, sy kan enige lied baie vinnig onder die knie kry.

Dit is klokslag seweuur wanneer die klop aan die deur is. Sy kyk een oomblik vir haarself in die spieël, sy is tevrede, geen grimering nie, behalwe die lipstiffie, terwyl die tabberd wat Rhoda haar geleen het, haar perfek pas. Sy maak een oomblik haar oë toe, bedank Rhoda in haar afwesigheid, en vra sterkte vir die aand.
Dit is ʼn glimlaggende Bernhardt Crafford, wat ʼn sagte fluit gee voor die deur, “Liewe Vader Zuluika, jy lyk pragtig,” en met ʼn knipoog, “Indien ek nou ongetroud en twintig jaar jonger was,” en sy weet daar is geen bybedoeling nie, dit is net sy manier om haar te ondersteun.
“Dankie Bernhardt, ek waardeer dit.”
Sy trek die deur toe, sit haar hand op die arm wat hy uithou na haar, en saam stap hulle geselsend na die saal.
Die saal is gevul met laggende, geselsende mense, en die atmosfeer van uitgelatenheid omvou Zuluika soos hulle deur die saal stap na hul tafel.
Hulle word deur verskeie persone voorgekeer en Zuluika is bly vir die kort gesprekke wat haar help om oor haar senuweeagtigheid te kom.
Sodra hulle sit, vra Bernhardt haar of sy ʼn drankie wil hê, en sy vra vir ʼn vrugtesap. Hy trek sy oë gemaak groot, en sy weet, ‘die geheelonthouding van alkohol’, kry altyd ʼn oogtrek. Sy wuif dit weg met ʼn glimlag en ʼn swaai van haar kop, en hy knik en stap in die rigting van die kroeg aan die sykant van die saal.
Zuluika neem die geleentheid waar om deur die saal te kyk na die mense, herken van die fakulteitslede wat sy reeds ontmoet het, en besef daar is baie persone wat sy definitief nog nie in die twee dae gesien het nie.
Die ligte word effens verdoof die oomblik wanneer Bernhardt terug by die tafel kom. Hy sit haar glas sap neer en vra verskoning, aangesien hy die verrigtinge moet open.
Zuluika besef sy is bevoorreg om Bernhardt se aandag te kry, en sy sê in haar gedagtes dankie vir wie ook al die welwillendheid teenoor haar bewerkstellig het.
Bernhardt is ʼn gemaklike en spontane spreker, wat die gehoor bind met sy spitsvondige openingsrede. Hy gaan oor in ʼn ernstiger luim, terwyl hy verskeie aankondigings maak rakende die universiteit en die fakulteit, en ook die doel van die maandeinde verrigtinge.
Zuluika besef die maandeindfunksies word amper uitsluitlik toegespits op die finale jaar mediese studente, en sy hou van wat sy hoor.
Sodra die formele opening afgehandel is en Bernhardt weer sit word die ete bedien. Zuluika besef weer sy is honger en geniet die kos, geniet die gemoedelike gesels en samesyn met die mense wat die mediese beroep en die mense in en om die beroep so respekteer.
Na die hoofgereg bedien is, kondig die seremoniemeester die opening van die dansbaan deur die dekaan en sy gade aan. Zuluika voel die beklemming in haar, die vrees indien iemand haar sal vra om te dans, en sy weet nie of sy dit sal kan doen nie.
Sy probeer haar aandag wegneem van die dans, met die hoop dat dit enigiemand wat in haar rigting mik sal ontmoedig, maar helaas is dit Josh wat gemaak galant buig en sy hand uitsteek.
“Dokter Zuluika, sal jy my die eer aandoen asseblief?”
Die vrees is in haar, en Bernhardt vat haar sag aan die arm en sê gemaak ernstig, “Hy is ʼn hopelose danser Zuluika, al kan jy geensins dans nie, sal jy beter as hy vaar.”
Josh is gemaak seergemaak, maar hy verander nie sy pleitende houding nie.
Zuluika weet indien sy nou aandag op haarself wil vestig, moet sy die aanbod van die hand wys. Sy neem haar servet, vou hom op en sit hom met ʼn gemaakte gebaar op die tafel neer. Sy staan op, maak ʼn ligte buiging en sit haar hand in Josh se hand. Hy vat dit vas en lag, “Dankie Dokter.”
So ver hulle loop voel Zuluika hoe die bloed deur haar kop spoed, voel sy die vrees om te faal. Sy hoor oom Louis se woorde van lank, lank gelede, ‘Nooi jy moet jouself vertrou, net jy alleen kan Zuluika Zuess laat faal, of laat slaag, onthou altyd, jy is ʼn wenner’.
Die oomblik wanneer Josh haar liggies in die rondte swaai is die selfvertroue terug, ‘Sy kan dans, sy kan wen’.
Hulle sweef oor die dansvloer, en sy verbeel haar dit is Rudolph wat haar vashou, en sy kom tot rus.
Wanneer die musiek eindig draai Josh haar in die rondte en hy swaai sy kop heen en weer, “Jy is so lig soos ʼn veertjie Dokter,” en terwyl sy weet wat hy bedoel, spot sy terug, “Wel ek sal effens meer moet eet.”
Hy lag en klap sy hande, “Jy kan baie goed dans Dokter, soos met alles wat jy doen.”
Die handeklap is ook daar wanneer hulle terug stap tafel toe, en wanneer sy sit voel sy die spanning uit haar gaan.
“Welgedaan Zuluika, ek is bevrees jy gaan gedaan wees na vanaand, want ek sien ʼn hele paar jongmans op pad om die volgende dans op te eis.”
Sy kyk hulpsoekend na hom, “Dans met nog so ʼn paar jongmans, voor ek jou red.” Hy lag wanneer die volgende student voor haar buk.
Die aand gaan gou verby tussen die dans, die vele persone wat by die tafel kom gesels, en die eet van die wonderlike geregte wat verder bedien word.
Wanneer Bernhardt opstaan, sy hand uitsteek, en knipogend sê, ‘Om te verseker dat sy nie tot na middernag moet dans nie’, is Zuluika verlig, en sy sê hom dit.
Met die groet by haar deur is hy ernstig, “Dankie vir die neem van die drie addisionele studente, by jou weet ek gaan hulle kwaliteit aandag kry, dankie daarvoor.”
“Dit is nie net ʼn plesier nie Bernhardt, dit is ʼn voorreg vir my.”
“Ek weet hulle het so ʼn effense agenda met die werk, dankie ook vir jou meelewing.”
Zuluika weet, tussen die middagete en vanaand se geselligheid, het Josh reeds haar instemming aan Bernhardt bevestig, so ook haar deelname aan die konsert items, en sy glimlag vir die vindingrykheid van die jeug.
Sondagoggend probeer sy laat lê, maar die klop om half agt aan die deur, bring ʼn einde aan die voorneme. Sy stap in haar nagklere na die deur, sy reken dit is Josh of Andrew, maar dit is ʼn glimlaggende Bernhardt wat voor die deur staan.
Sy is effens verleë en hy lag dit weg, “Indien daar een iets is waaraan ʼn geneesheer gewoond is, is dit mense in nagklere, so ontspan Zuluika.”
Sy lag verleë, “Kan ek help?”
“Ja, jy kan aantrek en saam met my en twee van my kollegas ontbyt gaan eet,” Hy sien hoe sy twyfel en sê laggend, “Glo my Zuluika, indien jy nie nou ontbyt eet nie, gaan jy morsdood van die honger wees wanneer julle laatmiddag by die hospitaal aankom.”
Zuluika besef hy is reg, maar kry tog die gevoel daar is ʼn ‘versteekte agenda’, wanneer sy, sy openlike plesier sien sodra sy haar kop instemmend knik.
“Gee my dertig minute om te stort en aan te trek.”
“Wonderlik, ons wag in die ontvangsportaal by die hoofingang vir jou,” kom dit terwyl hy in sy skik omdraai en wegstap.
Zuluika haas haar deur die stort en aantrek roetine, sy besef sy sien uit om tyd met Bernhardt deur te bring.
Die twee ‘kollegas’, is twee van die professors van die Universiteit in Portland wat die vorige aand aan haar voorgestel is.
Bernhardt stel hulle weer voor, net om seker te maak Zuluika onthou wie hulle is, en sy verras hulle wanneer sy hulle by die naam noem. Hy trek gemaak groot oë en sê ewe ernstig, “Moet asseblief net nie sê jy het ʼn fotografiese geheue nie, jy het tientalle mense ontmoet en onthou tien teen een elkeen se naam.”
Sy voel die ou lus om net saam te skerts, “Jy weet wat hulle van mense met twee verskillende kleur oë sê Bernhardt.”
Hy kyk haar stip aan, “Nee, skerts jy, of is jy ernstig?”
Sy lag, draai om, en met die eerste treë sê sy laggend, “Skerts ek, of is ek ernstig? Vir my om te weet, en vir jou om uit te vind,” en sy is verstom oor die nuwe durf wat in haar is.
Bernhardt staan nog een oomblik effens verras, voor hy hulle vinnig volg. “Zuluika, jy is by alles nog ʼn terggees ook,” en sy lag dit weg.
“Ons stap sommer die honderd meter, na die restaurant,” sê hy, en Zuluika en die twee mans knik hulle koppe en hulle stap gemaklik met die sneeu knarsend onder hulle skoene.
Die gesels is die uitwys van algemene plekke, en Zuluika geniet die spontane deel van hulle omgewing met haar terdeë.
Zuluika merk hoe die luim in ʼn meer ernstige gemoed oorgaan, sodra hulle koffie bedien is. Dit is Bernhardt wat met ʼn knik in die ander twee se rigting begin met die gesprek.
“Zuluika daar is iets wat ons by jou wil laat, sodat jy dit kan saamneem en daaraan dink.”
Zuluika sien die blik tussen die drie en is effens verwonderd, “Ons weet jy behartig slegs vir die paar maande die Locum posisie vir Friedrich.” Hy wag so ʼn oomblik vir die bevestigende knik van haar kop.
“Sal jy oorweeg om iewers in die toekoms dalk medies te doseer aan ʼn Universiteit?”
Zuluika is uit die veld geslaan, ‘Hulle ken haar nie eers nie, en nou die versoek, of weet Bernhardt iets van haar loopbaan af?’
Dit is Professor Grant wat voortgaan, “Jy is briljant en het ʼn natuurlike aanleg vir opleiding wat nie maklik te vinde is nie. Ons kan sien jy is effens onkant gevang, maar ons wou met jou gesels voor enige van die ander universiteite ons voorspring.” Hy sien die ongeloof op haar gesig, “Jou sukses met die operasie met die instap in die hospitaal in, is reeds deur verskeie van die familielede, en Pablo oorvertel.” Hy glimlag, “Verder die aandag en opleiding wat jy Josh en Andrew tot nou gebied het, is natuurlik al wat die twee oor wou gesels, so Zuluika, jy is perfek vir die posisie.”
Zuluika skud haar kop, “Wel, wel, en hier dink ek ons werk in afsondering daar bo in die berge,” en sy glimlag met ʼn oog trek.
“So sal jy daaraan dink, en oorweging daaraan gee?”
Sy sien die erns op Bernhardt se gesig, sy weet, indien die omstandighede anders was, sou sy so ʼn geleentheid onmiddellik aangryp, maar die ‘oopmaak van die waarheid’, is vir eers haar prioriteit, daar sonder kan sy nie heel wees nie.
“Ek sal definitief daaraan dink, maar ek het eers ʼn paar belangrike sake wat ek moet gaan afhandel voor ek myself aan so ʼn geleentheid kan verbind.”
Sy sien die verstaan in die knik van hulle koppe, wat hulle ‘verstaan’, weet sy nie, maar vir nou is dit ook genoeg.
“Wonderlik, dit is al wat ons wou hoor, kom ons eet.” Daarmee stap die twee kelners na hulle met hul bestelling, en Zuluika weet hulle het gewag vir die gesprek om afgehandel te word.”
Die ontbyt verloop verder gemaklik, en Bernhardt stap later saam met haar, om haar tas te gaan haal. Hy wag vir haar, en stap saam tot voor die ingang waar die viertrek reeds aangekom het, en die studente soos ʼn ‘afvaardiging’ reeds wag, en sy glimlag wanneer sy die onsekerheid sien. Sy weet dit is hoe sy oor die volgende paar weke aan hulle sal dink, ‘die vyf’.
“Die aankope wat in my viertrek was, het ons reeds ingelaai Dokter,” sê Josh vinnig, wanneer sy vraend na hom kyk.
Josh roep die drie jongmans nader en stel hulle voor as die ‘ander lede van die groep’, Jeremy Searle, D’Artnel Baker en Craig Bond, en Zuluika hou van die drie jong mense.
Bernhardt druk haar hand met die groet, “Dankie nogmaals vir die meelewing, en die addisionele studente Zuluika,” en sy voel werklik goed oor haar besluit.
Die terugtog is so stamperig en glyerig soos die rit ses weke gelede, maar Zuluika sit dit deur sonder om enigsins spanning te wys, en sy sien die glimlag op die gesigte, maar laat dit gaan.
Hulle kom sterk skemer by die hospitaal aan, Zuluika sien Mauritz onmiddellik tussen die ander personeel, en daar is vreugde in haar. Terwyl almal help met die uithaal en indra van die aankope, buk Mauritz vooroor om haar tas te neem, “Regtig baie bly jy is terug Zuluika.” Sy hou haar blik op sy gesig, sien die erns, en voel ʼn geneentheid tot hom.
Deur die uitsorteer van die aankope oorval hulle haar met vrae oor die drie dae, en sy voel deel van die gemeenskap, sy het ʼn groep vriende gevind, en sy is gelukkig.
Mauritz dra haar tas, terwyl hulle stil langs mekaar opstap na haar huis. Hy maak koffie terwyl sy hom stilswyend dophou, en dit voel so normaal vir haar. Hulle stap deur na die sitkamer en wanneer hulle sit, vra hy met ʼn glimlag, “So, beteken die addisionele studente viool musiek elke aand?”
Sy skud haar kop en glimlag, “Lyk my ek was die enigste een wat in die duister gehou was.”
Hy sê met ʼn gemaakte erns in sy stem, “Toemaar Dokter, selfs mense so slim en oplettend soos jy, mis soms ietsie.” Dit voel vir haar of hy iets meer as die studente ‘agenda’ bedoel, maar sy laat dit gaan, wil nie iets meer daarin lees nie.
Voor die slaap haar oorval, herroep sy die afgelope paar dae se gebeure, en sy voel ʼn blydskap, ‘Ongeag wat gebeur, sy gaan altyd ʼn geleentheid hier iewers in die berge hê’, en sy raak aan die slaap.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed