
Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 6
Hoofstuk 6 – Dertig Dae se Vryheid
Soos die nuus rakende die nuwe dokter versprei, kom die mense van die gemeenskap vir behandeling by die kliniek en Zuluika se dae word voller en voller, en sy word een met haar werk, haar personeel, haar omstandighede, en die wete is in haar, vir eers is sy waar sy wil wees, wie sy wil wees, en dit is genoeg.
Wanneer Zuluika en Rhoda een oggend in haar kantoor koffie drink, vra Zuluika die vraag wat sy ʼn hele paar keer oor gewonder het, “Mauritz is werklik baie betrokke hier in die hospitaal?”
Rhoda glimlag, “Ja, en dit moet vir jou vreemd wees, maar Mauritz se verantwoordelikhede in die hospitaal en gemeenskap is soveel meer as net leraar. Hy is die voorsitter van die hospitaal raad, en ook die beskermheer van die hospitaal en die skool. Die Maatskappy het verfrissende nuwe idees betreffende die bedryf van die dorp, en veral die hospitaal, soos die opnames van elke operasie, maar ook die voortgesette verbetering van diens aan die gemeenskap,” Sy glimlag, “Mauritz is ook ʼn gekwalifiseerde Strukturele Ingenieur, nie net ʼn predikant nie.”
Zuluika se gesig moes haar verbasing gewys het, en Rhoda lag, “Hy is uitsonderlik, en die Maatskappy gebruik sy kennis en kwaliteite op so baie gebiede. Daarom is hy soos ons, amper vol dae hier in die hospitaal. Jy sal daaraan gewoond raak.”
Zuluika voel hoe haar gesig effens warm word, en sy weet dit wys, “Nee, dit pla my geensins nie, inteendeel, sy teenwoordigheid bring ʼn rustigheid in my. Ek het net daaroor gewonder.”
Rhoda kyk na die onmaats oë, sien die blos, en die effense glimlag, maar laat dit gaan.
In die volgende week, bring Josh en Andrew ʼn bekendstellingsbrief van die fakulteitshoof, professor Bernhardt Crafford, waarin hy haar welkom heet, en haar bedank vir die neem van die studente dokters onder haar vlerk vir opleiding. Hy sluit ʼn skedule in, wat aandui wat die studente moet meemaak indien moontlik, en nooi haar uit om hom die einde van die maand in Corvallis te kom besoek wanneer die studente vir ʼn twee dae periode terug universiteit toe gaan.
Zuluika twyfel oor die afgaan universiteit toe, maar sy laat dit gaan, sy weet, tyd sal ook die besluit vir haar maak. Met die ontvang van hierdie bewys van erkenning, weet sy, sy is nou weer die persoon wat sy wil wees, iemand wat ander kan leer om lief te wees vir hul beroep, maar veral vir hul medemens, en sy is diep dankbaar vir die geleentheid om dit te doen.
Hulle volg haar elke dag, die hele dag, sy leer hulle die klein dingetjies wat haar so ʼn besondere geneesheer maak, en hulle en die personeel raak in die paar weke totaal versot op haar, sy word die persoon waarom alles draai, en sy is die een wat hulle as ʼn span saamsmee.
Sy loop Hugo Grant een oggend raak wanneer hy die hoësorg afdeling instap, en hy ignoreer haar. Zuluika knik ʼn groet en laat hom begaan.
“Suster hoe gaan dit met my mense?” Kom dit amper bars.
Zuluika wag en terwyl Rhoda verby hom uit die hoësorg eenheid stap, kom dit kalm, “Ek glo dokter Zuess kan u die beste inligting gee op die stadium Hugo, vra haar gerus?”
Zuluika voel hoe die lag in haar opstoot, maar sy hou haar gesig weggedraai van hom af en wag. Met ʼn bietjie meer respek kom dit, “Dokter Zuess kan u my asseblief sê hoe dit met die pasiënte gaan?”
Zuluika kyk op, sien Mauritz se effens vraende blik waar hy in die saal se ingang staan, wink met haar kop, “Môre meneer Grant, stap saam met my deur na die pasiënte.” Sy weet, sy het werklik geen begeerte om alleen met Hugo Grant te wees nie, en kyk amper smekend na Mauritz, “Sal jy saamstap Mauritz?” Hy glimlag, knik sy kop, en sy is verlig.
Nie by magte om die duiweltjie in haar te keer nie, neem sy haar tyd by elke pasiënt, gee sy professioneel die status in gewone taal sodat sy weet Hugo sal verstaan. Mauritz kan sy lag amper nie bedwing nie en vind dit baie moeilik om sy gesig ernstig te hou.
Zuluika waardeer Hugo Grant se belangstelling, al is dit dalk net om haar effens by te kom, en met die groet is hy heelwat meer bedeesd as voorheen. Hugo bly in die dae wat volg ʼn gereelde besoeker en Zuluika maak seker dat die studente in die saal is wanneer hy inkom. In die volgende weke, gee sy Rhoda toestemming om hom wel in te lig oor die pasiënte se toestand en vordering, indien sy en die studente nie daar is nie.
Sy begin formele lesingsessies met die studente, en ken pasiënte in die hoësorg eenheid, sowel as in die algemene sale toe aan elkeen vir waarneming en terugvoer. Hulle begin om die beurt assisteer met kleiner roetine operasies, en dit bring ʼn wonderlike positiwiteit by almal.
Die hoof van die hospitaal Administrasie afdeling, Joyce Cameron, kom sien haar in haar spreekkamer, rakende die opening van ʼn bankrekening vir die betaling van haar salaris, en die vrees vir vrae is terug, ʼn adres, ʼn verwysing, enige iets wat kan oopmaak wie sy is.
Daar is geen vrae nie, net raad, “Ons het ʼn tak van Wells Fargo hier in die dorp,” en met ʼn glimlag, “Hulle mag ʼn groot bose finansiële maatskappy wees, maar die personeel hier, en in Corvallis, loop altyd die ekstra myl vir hulle kliënte, en hulle is internasionaal vir wanneer jy buite die USA is om toegang tot jou fondse te kry.”
“Mag ek ʼn rekening hier oopmaak?”
“Ja, jy mag, en ek sal jou bystaan met al die nodige dokumentasie. Indien jy jou paspoort by jou het, kan ons moontlik nou deurstap, hulle is in die hospitaal kleinhandelsarea in die oostelike vleuel geleë.”
Zuluika voel die verligting in haar, en stap gewillig saam met Joyce deur die hospitaal na die oostelike vleuel. Sy is verbaas, hier is sy al weke in die hospitaal en sy het nie besef daar is ʼn klein winkelsentrum amper binne die hospitaal geleë nie.
Sy sien verskeie winkels, ʼn haarsalon, kruideniers winkel, klere winkel met skoene en allerhande snuisterye, ʼn hardeware winkel en nog ʼn paar winkels anderkant die bank wat sy nie dadelik kan eien nie.
“Wow, ek het nie hiervan geweet nie, dit is wonderlik.”
“Ja, dit is een ding van die maatskappy, hulle sorg vir hulle mense. Behalwe vir die kleinhandel area, het die maatskappy ook aan die suide van die ontwikkeling twintig gemeubileerde woonstelle waar besoekers aan die maatskappy tuisgaan wanneer hulle hier is.”
Zuluika hoor die wonderlike dinge, sy weet, daar is so baie dinge wat sy nog wil weet van hierdie maatskappy en mense wat haar ʼn geleentheid gegee het om weer haarself te wees.
Joyce voorsien die nodige dokumentasie, en die oopmaak van die rekening en die uitreik van die kaart verloop sonder probleme. Zuluika voel verlig, sy besef, sonder vrae is sy weer deel van die daaglikse finansiële wêreld.
Met afskrifte van die dokumentasie, en haar nuwe kaart, stap sy saam met Joyce tot by die administrasie afdeling, en sy waardeer die ondersteuning, “Joyce, baie dankie vir die hulp, ek sou nie sonder jou so maklik hierdeur gekom het nie.”
“Jy is welkom Dokter, onthou ons is hier indien jy ons nodig het.”
Wanneer Zuluika die dokumente en bankkaart in haar aktetas sit, voel sy die spanning uit haar gaan, ‘Jy is amper weer ʼn gewone mens Zuluika’, flits dit deur haar gedagtes, en sy glimlag.
Zuluika hoor die stemme, en met die opkyk van die verslag waarmee sy besig is, is die klein swanger vroutjie in haar spreekkamer se deur. “Ek is Margret Grant, Hugo se vrou,” kom dit sag, en die woorde wat volg is amper verskonend, “Hugo wil nie hê ek moet hiernatoe kom nie, maar sal u na my kyk, net om seker te maak alles is reg, asseblief Dokter?”
Zuluika laat die waarskuwing verby gaan, sy is gevra vir ʼn mediese opinie, en dit sal sy gee, ongeag die waarskuwing. Sy wink haar na binne met die swaai van haar hand, terwyl sy opstaan en om die lessenaar stap.
“Dokter Zuluika Zuess, bly te kenne mevrou Grant,” en sy voel die koue handjie in hare, “Margret, asseblief Dokter.”
“Zuluika dan, indien dit reg is met jou, sit asseblief,” en sy voel die mensie se vrees aan.
“Hoe ver is die swangerskap gevorder?”
“So ongeveer vyf, ses maande.”
Die onsekerheid val Zuluika op, maak ʼn effense kommer in haar wakker, ‘wanneer ʼn moeder onseker is oor ʼn swangerskap wat ooglopend ver gevorder is, is daar fout’, maar sy laat dit vir nou.
“Nou laat ons bietjie kyk,” en sy wuif haar na die aangrensende vertrek.
“Trek die japon aan en roep my sodra u gereed is.”
Sy sien die skadu van vrees in die grys oë, wanneer die klein vroutjie uiteindelik op die bed lê en opkyk na haar, maar sy bêre die waarneming ook weg.
Zuluika doen ʼn deeglike ondersoek, gooi ʼn kombersie oor die vroutjie en vra, “Het jou dokter wat jy gereeld sien reeds ʼn sonar geneem?”
Met die heen-en-weer swaai van die blonde kop, “Nee, Hugo wil nie, hy wil nie die geslag weet nie, hy wil ʼn seun hê en wil nie weet indien dit nie ʼn seun is nie. So my besoeke aan die dokter in Corvallis is nie te gereeld nie.”
Zuluika voel ʼn oorweldigende woede gekoppel aan ʼn baie lank gelede herinnering, maar sy onderdruk die gevoel, fokus op hier en nou, en sy is verstom oor die onkunde van ʼn blykbaar geleerde man.
“Ek dink egter jou swangerskap is op die stadium waar jy baie gereeld by ʼn geneesheer moet uitkom, jy sal baie versigtig moet wees. Jou swangerskap is ʼn multi-fetus swangerskap, en het dus baie meer aandag nodig. Het jy vrugbaarheidsmiddels gebruik?”
Sy sien die aanvanklike skok, gevolg deur verwondering en vreugde op die bleek gesiggie, en sy is verwonderd oor die onkunde van die vroutjie rakende haar eie swangerskap, “Ja ons probeer al tien jaar vir ʼn baba, ek het verskeie middels gebruik. Indien ek ʼn tweeling verwag hoop ek dit is ʼn seun en ʼn dogter.”
Zuluika hoor die begeerte in die stemmetjie, sy weet nie of dit vir die seun of die dogter is nie, en sy bly stil oor die moontlikheid van meer as twee fetusse. Sy doen ʼn berekening en reken die swangerskap is verder as ses maande. Sy weet, die veelvuldige fetusse gaan nie net ʼn premature kraam genoodsaak nie, maar die moontlikheid van geboorte defekte is ook nie uitgesluit nie.
Sy tree terug, glimlag, en help Margret van die bed af. “Wel soos ons albei kan sien, het dit gewerk, maar die multi-fetus situasie vereis dat jy baie versigtig moet wees, baie moet rus, en indien jy die geringste ongesteld voel, moet jy by ʼn geneesheer uitkom.”
Sy kyk Margret in die oë, “Ek sal nie omgee om na jou te kyk nie, jy kan mos so weekliks ʼn koppie tee hier by die personeel kom drink, net vir die wis en die onwis,” en haar glimlag is warm en gerusstellend.
Margret weet, hier is iemand wat sy kan vertrou, iemand wat haar vrees verstaan, en sy stem bewoë in.
“Kom deur sodra jy aangetrek en gereed is.”
Zuluika open ʼn lêer en maak notas, sy en Margret werk deur die medikasie wat die dokter in Corvallis voorgeskryf het, en sy is tevrede, vir nou is die voorskrif korrek.
Sodra Margret weg is, stap Zuluika deur na Rhoda se kantoor. “Het ons genoegsame broeimasjiene in die kraam afdeling?” en Rhoda kyk verbaas op, “Ja, hoekom?”
“Vir die wis en die onwis,” sê sy met ʼn knipoog, “Margret Grant is swanger met meer as een baba, en al het Hugo haar belet om my te spreek, weet ʼn mens nooit wat kan gebeur nie,” en Rhoda sien die liefde vir ander, wat die mens so besonders maak.
“Ons het genoeg broeikaste, en hulle is definitief in ʼn baie goeie toestand, maar ek sal die tegnikus vra om hulle te versien vir indien daar wel ʼn gebeurtenis is.” Kom dit met ʼn skalkse glimlag van die statige vrou.
“Drie van my personeel is opgeleide kraamverpleegsters, ek sal hulle bedag maak op die feit, en seker maak hulle hou dit geheim,” en met lag in haar stem, “Die spul mans het baie min anders om te doen as om kinders te maak in hul af dae, so ons is nogal baie goed geoefen in baba vang hier.”
Zuluika lag, “Dankie tog daarvoor. Ek het Margret genooi om weekliks ʼn teetjie hier te kom drink, so ek het bietjie steun nodig indien die kwaai man begin agterdogtig raak,” sê Zuluika terwyl sy knipoog en uitstap. Rhoda weet, Hugo Grant staan geen kans teen hierdie vrou nie, en sy geniet die gedagte.
Met die studente se terugkeer van Corvallis, na afloop van hulle naweek, bring hulle ʼn boodskap van Professor Crafford, ‘Sal sy bereid wees om ʼn lesing oor Pablo se operasie aan te bied wanneer sy die einde van die maand die universiteit besoek’, met ʼn datum van die Vrydag oor twee weke.
Terwyl Zuluika die afgaan na Corvallis onmiddellik afgemaak het, en geensins weer aan ʼn besoek gedink het nie, is die besoek aan Corvallis nou ʼn werklikheid.
Sy sien die afwagting op die studente se gesigte, sy glimlag en knik haar kop, en hulle applous is spontaan.
Na afloop van die besoek aan die pasiënte, stap Zuluika deur na die spreekkamers. Sy kry Neville en Werner by Rhoda se kantoor, en herhaal professor Crafford se versoek, en hulle is openlik ingenome.
Dit kom spontaan van Neville, “Definitief Zuluika, jy moet gaan, dit gaan soveel vir hulle, en vir ons beteken. Ek, Werner en die ander twee algemene praktisyns sal hier wees. Hopelik duik daar geen ernstige operasies op nie,” en hy knipoog vir die ander.
“Jy kan saam met die studente Donderdag oggend afgaan Corvallis toe, en weer die Sondag middag saam met hulle terugkeer. Glo my Zuluika, om te verseker jy hardloop nie weg vir al die werk nie, sal jy oor twee weke in elk geval ʼn kort wegbreek nodig hê,” lag Rhoda, wanneer sy Zuluika se twyfel sien.
“Ek sal professor Crafford laat weet jy sal saam met die studente die Donderdag afkom, sodat hy vir jou verblyf kan reël.” kom dit van Werner.
Zuluika knik haar kop en besef, die besoek is spontaan en sonder ophaal klaar gereël.
Wanneer sy omdraai, sê Werner, “Ek sal vir jou ʼn kopie van die operasie video gee, wat jy kan gebruik vir die aanbieding.” Zuluika draai terug en kyk na Werner, “Dankie Werner, ek het daarvan vergeet, dit sal baie help.”
Mauritz is elke dag by die hospitaal, Zuluika glo dit is sy gewone patroon, maar sy is bly om hom te sien, geniet die gesprekke wat hulle voer, en sy besef haar geneentheid het te doen met die swart krulhare en die blou oë, soos sy Rudolph onthou. Sy betig haarself, sy weet, Mauritz Melville is nie Rudolph nie, hy is ʼn eie unieke mens, en sy moet hom as ʼn individu respekteer en waardeer, maar hy hou iets dierbaar vir haar lewendig, en vir eers is dit genoeg.
Hy sê-vra, “Jy is baie welkom by die erediens Sondag, indien jy wil kom.”
Sy sê dankie, maar sy weet, sy kan nie gaan nie.
Mauritz sien die hartseer, die wegskram, hy weet, hier is iemand wat pyn het, wat broos is, en hy kry haar uit die diepte van sy hart jammer, ‘Here hoe diep het die mensie nie in ons harte ingekruip nie’, gaan dit deur hom.
Sy sit in haar huis, luister na die gewyde sang, sy weet, sy is skaam vir die aangesig van haar God, want sy het gemoor, en sy kan nie in Sy huis ingaan nie, haar sonde is te groot.
Die gewyde sang bring die begeerte in haar om die klank van die liedere uit haar viool te hoor, sy veg daarteen, maar laataand, wanneer dit stil word oor die wit geysde wêreld, druk sy die viool met liefde onder haar ken vas, en stryk sy sag maar seker oor die snare.
Sy maak haar oë toe, voel Rudolph se nabyheid, en die wondersoete klank van ‘Amazing Grace’ vul die vertrek, vloei uit oor die sneeubedekte landskap tot waar Mauritz voor die venster staan, en met ʼn hartseer wat uit sy siel kom staar hy na die huis waar sy alleen met haar hartseer worstel.
Rhoda en die personeel kom tot stilstand in die saal, hulle weet, daardie musiek kan net ʼn wêreldklas musikant maak.
Die toewyding van Zuluika, die personeel en die studente, aan die pasiënte, bring ʼn toegeneentheid van die families sowel as die Grosvenor Lumbar Maatskappy se bestuur.
Hulle word oorval met lekkernye elke dag wanneer die gesinne hul mense kom besoek, en baie gou ken Zuluika en die studente almal by die naam.
Drie van die pasiënte word ontslaan en die maatskappy voorsien voertuie om hulle huis toe te neem, en ook om hulle weer ʼn week later vir ʼn opvolg besoek terug hospitaal toe te bring.
Zuluika weet hierdie tipe reëlings en ondersteuning bestaan sekerlik net in kleiner gemeenskappe. Sy beleef weer die hartseer toe sy op haar knieë langs Rudolph in die straat, waar hy doodgebloei het, gewag het vir ʼn ambulans en die polisie, wat meer as vyf en veertig minute geneem het om by hulle te kom.
Sy weer die woede met beslistheid uit haar gestel uit, dit is juis die woede wat haar verhoed het deur al die verlore jare om te genees, toe het dit nie saak gemaak nie, want daar was niks behalwe die verwyt nie, maar nou het sy weer ʼn kans om met oorgawe te leef, en sy weet, sy wil die haat nie verder troetel nie.
ʼn Week na die ander drie ontslaan sy Maxwell, en dring hy daarop aan om op sy eie bene uit die hospitaal te stap. Soos met die ontslag van die ander drie pasiënte, word sy en die personeel vasgegryp en bedank vir dit wat hulle gedoen het, vir die lewe wat hulle gered het, en Zuluika voel die rus in haar.
Eenkeer per week laataand, skakel Zuluika vir Lize, haar skoonouers en Laurie, en die blydskap oor haar omstandighede, en veral haar verbeterde gemoedstemming bring almal tot rus.
Ongeag of Zuluika dit wou hoor, of nie, lig Lize haar weekliks in oor die vordering van die span. Zuluika luister, neem dit in, maar maak geen aanmerking nie, nog nie, nie nou al nie.
Met die aflui een aand is dit wat sy geweet het in die ope, Lize se laaste opmerking, en Zuluika weet dit het durf van haar geneem om dit te sê, “Die feite wat ons reeds bymekaar gemaak het, het ʼn verbintenis tussen die groepe en Ziegfried Cordier bevestig, nie in die nabye verlede nie, maar baie ver terug.” Net dit, net die vroeë waarskuwing vir wat moontlik gaan uitkom, dit wat moontlik vir Zuluika sal skok, en Zuluika sê niks, niks van die mens sal haar ooit skok nie.
Haar skoonouers en Laurie se gesprekke is gevul met liefde, dit wat haar weer heelmaak, en Zuluika beloof elke week wanneer hulle vra, “Ek sal wanneer ek terug is in Suid Afrika, julle kom sien, tyd by julle op die plase kom deurbring.”
James Bruyns bring haar op hoogte van sy navrae na haar moeder, “Ons het sover die rekords van die voorsate van Ziegfried Cordiersohn gevind en dit gevolg tot in die tagtigs. Ons sal voortgaan daarmee. Ons is ook besig om stelselmatig deur die rekords te werk om vas te stel of daar enige huweliksrekords is van Cordier, sowel as waar en wanneer jy gebore is. Ons sal nie ophou nie my kind.”
Zuluika weet, al het dit nie saak gemaak tot voor die tien jaar in die tronk nie, maak dit nou saak.
Zuluika en haar kollegas leer mekaar ken en verstaan, en die hegte werksverhouding gaan oor in vriendskap. Vriendskappe wat hulle saamwees ure in die hospitaalsale vul, wat hulle saam vinnige teetye laat neem, saambind in laataand geselssessies in die spreekkamers of in die kafeteria, en die hospitaal met al die bekende herinneringe word vir Zuluika haar wêreld.
Tydens een van die gesamentlike middagetes in die hospitaal se groot eetsaal, kyk Zuluika weer na die klavier wat in die hoek teen een muur staan, en vra terwyl sy na Rhoda kyk, “Die klavier, wat presies is die storie daarvan?”
“O, ons gebruik die saal vir funksies, en een keer per maand vir Mauritz om ʼn erediens vir die personeel en die pasiënte te hou.”
Zuluika se verbasing laat Rhoda glimlag, “Maar die klavier is lanklaas gespeel aangesien ou dokter Friedrich die persoon is wat die begeleiding hier doen, en met sy ongesteldheid het Mauritz nog nie weer hier ʼn diens gehou nie.”
Zuluika knik haar kop, glimlag terwyl sy opstaan en in die rigting van die klavier stap. Sy lig die kleed wat oor die klavier is, en sien dit is ʼn Steinway & Sons Model ‘Z’, sy knik haar kop en sê, “Wel, wel, dit is ʼn pragstuk.”
Spontaan lig sy die klawerdeksel op, en oudergewoonte is dit Beethoven se ‘Ode to Joy’ wat sy deur haar musiek loopbaan as opwarming gebruik het, wat suiwer en helder uit die klavier kom.
Daar kom ʼn doodse stilte in die saal, almal weet, hierdie mens het so ontsettend baie talent, soveel meer as enige iemand anders in hierdie dorp, en die vraag is in meer as een se gedagtes, ‘wat het haar na die afsondering gedryf?’
Sy maak die klavier toe, draai om, en sien die verbasing op die gesigte, sy lag, “So, miskien is daar nog iemand wat klavier kan speel.” Die applous kom spontaan en Zuluika voel die blos op haar wange, en neem weer haar sitplek aan die tafel in.
“Ek dink Mauritz kan sodra jy terug van Corvallis is, weer sy dienste hier in die saal begin.” Kom dit van ʼn glimlaggende Rhoda, en almal aan tafel stem saam.
Laatmiddag wanneer Zuluika en Mauritz opstap na haar huis, sê-vra hy met ʼn grootoog trek op sy gesig, terwyl hy na haar kyk, “Ek hoor jy kan ook klavier speel, waarom is ek nie eers verbaas daaroor nie.” Hy kyk na haar, “Jy is ʼn geweldig begaafde musikant Zuluika, ek glo jy kan moontlik enige instrument bespeel.”
Sy kry vir een oomblik die gevoel om dit te ontken, maar sy weet, teenoor Mauritz wil sy eerlik wees, “Ja ek is begaafd, kan meeste instrumente speel,” en na ʼn kort pose, “Het meeste instrumente gespeel toe ek nog oorweeg het om wel musiek ʼn loopbaan te maak, maar dit was baie lank gelede.”
Hy hoor die hartseer, sien die effense verlorenheid in die pragtige onmaats oë, en hy begeer om haar te ken, alles van haar te weet, “Jy praat nooit oor jouself nie, nie eers waar jy vandaan kom nie.”
Zuluika gaan staan een oomblik stil, kyk na Mauritz, skud haar kop, en gemaak opgewek sê sy, “Jy praat ook nie oor jouself nie Mauritz,” en Mauritz se gesig wys dieselfde verlorenheid, en dit vat aan haar.
Hulle laat dit verbygaan, stap deur kombuis toe, maak koffie saam, en die wete is in albei, ‘nie een van hulle kan nou hulle geheim oopmaak nie’.
Die sit met ʼn koppie koffie langs haar kaggel, bring die rus in hom, bring die gemoedelikheid terug, dryf die hartseer uit haar oë, en hy sien dit.
Hulle sit stil, starend na die vlamme in die kaggel, en hulle voel die rus wat die ander se teenwoordigheid bring.
Die Dinsdag voor haar vertrek na Corvallis, vyf weke na die ongeluksdag, is Pablo gereed om ontslaan te word.
Sy gaan sien hom vroegoggend met haar rondte, hy vat haar hande, met trane wat oor sy wange loop bedank hy haar weer vir sy lewe, en Zuluika weet, iets goeds het uit die tien jaar se werk in die gevangenis hospitaal gekom. Daar waar so baie steekwonde voorgekom het, die operasies wat haar die geleentheid gegee het om die buik en alles wat daarin is, soos die binnekant van haar hand te ken, en daar is weer ʼn dankbaarheid vir die tien jaar geleentheid wat Jean Roux haar gegee het.
Hy kyk haar in die oë, “Indien Dokter ooit iets nodig het, vra net.” Zuluika is verstom, maar die glimlag en die knik van haar kop is genoeg vir die jongman.
In die laaste paar dae voordat sy Corvallis toe gaan, bring verskeie personeel hulle ’lysies‘ van artikels wat Zuluika asseblief vir hulle moet saambring. Die gebaar gee Zuluika die gevoel van deel wees van die gemeenskap, en sy geniet dit.
Die studente is openlik meer opgewonde as in die weke tevore, en met hulle versekering om haar met die aankope te help, versterk dit die warme toegeneentheid wat sy vir hulle voel.
Die aand voor sy afgaan na Corvallis, nooi Rhoda haar en Mauritz om by haar familie te kom eet na werk.
Alhoewel sy Rhoda se man en twee kinders reeds verskeie kere by die hospitaal ontmoet het, bring die besoek aan hulle huis nuwe insig in die mense se lewens. Bring dit ou herinneringe terug van haar en Laurie by oom Louis se kombuistafel langs die koolstoof, en sy mis die mense, en die geluk en liefde van haar jeug.
Die ander volwassenes aan die tafel sien die vlietende hartseer op die gesig en hulle bid woordeloos.
Rhoda neem haar deur na haar kamer en sê gelykmatig, terwyl sy reguit in Zuluika se oë kyk, “Ek dink jy sal een stelletjie uitgaan klere benodig vir die maandeinde ete, het jy ietsie?”
“Nie regtig nie.”
“Laat my jou iets leen,” en die weiering in die onmaats oë bring Rhoda se “asseblief” spontaan.
“Goed, dit sal help.”
Die uitsoek van die klere is gemaklik, en Zuluika voeg Rhoda se naam by die lys van mense wat haar tot hier ondersteun het.
Met die stap van Rhoda se huis na haar huis, voel sy hoe Mauritz haar liggies aan haar arm neem, “Net om seker te maak, jy slaan nie met die klere in die sneeu neer nie.” Sy voel ʼn warm toegeneentheid tot hom, en sy waardeer sy omgee.
Hulle drink ʼn laaste koffie voor die kaggel, en hy sê, “Ek gaan ons gesels verskriklik mis die volgende paar dae wanneer jy in Corvallis is.”
Sy kyk na hom en sê eerlik, “Ek ook.”
Daar is ʼn onwilligheid in albei om die samesyn te beëindig, maar albei weet, hulle moet gaan rus. Sy staan in die deur en volg hom tot hy omdraai en wuif, sy wuif terug, voel ʼn diepe vreugde oor sy vriendskap, en sy is gelukkig.
Sy glimlag spontaan wanneer Andrew Grube, die bestuurder wat haar vyf weke gelede in Portland opgelaai het, gemaak voor haar buig en haar hand na sy mond bring, “Welkom Dokter, dit is goed om te sien u is nog hier,” en die lag in sy stem verseker haar, dit is goed bedoel, en speel sy saam deur effens te buig in sy rigting, en die ander persone lag ewe saam.
Net voor sy die groot viertrek voertuig se trappe wil bestyg, kom Werner uit en gee haar die rekenaarskyfie van Pablo se operasie, “Amper vergeet ons jou operasie Zuluika, geniet die lesing en gee my groete vir professor Crafford.”
Zuluika glimlag, “Dankie Werner, wat sal ek sonder julle doen?”
Mauritz wag tot Werner terugstap, hy sit sy ‘lysie’, in haar baadjie se bo-sak, “Kyk daarna wanneer jy onder is, en bring dit vir my terug.” Sy druk sy hand een oomblik en knik instemmend.
Die volgende oomblik is hulle op pad, en onwillekeurig voel sy ʼn hartseer om die mense vir drie dae nie te sien nie, sy weet, sy het aan hulle vasgegroei, hulle is haar ondersteuningspan, en Mauritz is die spesiale persoon in haar groep met wie sy so maklik kan gesels, of net rustig kan ontspan.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.