Waar Liefde Eindig – Hoofstuk 5
Hoofstuk 5 – Bekendheid in die Chaos
Met die instap in die teater se opwaskamer, is die teater suster gereed met die jas, en sy stap in hom in asof hulle dit al tevore saam gedoen het. Die bekende skrop roetine bring die gevoel van, ‘dit is hier waar ek wil wees’, terug in haar gemoed, en die klap geluid van die chirurgiese handskoene wanneer sy hulle oor haar hande trek, bring die gerusstelling, ‘ek is opgewasse hiervoor’.
Sodra hulle langs die operasietafel gereed staan, wink Werner met sy kop na die kameras wat op strategiese plekke bo die operasie tafel geïnstalleer is, “ʼn Maatreël vereis deur die maatskappy, alle operasies word vasgelê,” en sy is gemaklik daarmee.
Met die oopmaak van Pablo se buik, is die chaos wat vroeër in die ongevalle afdeling geheers het, ook hier diep in sy ingewande sigbaar, en die onderdrukte skok is op die personeel se gesigte.
Zuluika begin stelselmatig werk deur die volgende vyf ure, eers die groot perforasies wat vrylik bloei heg, die verwyder van wat in totaal vernietig is, die stop van die kleiner bloeding en die presiese verpakking van die ingewande in hul plek.
Hulle wat uur na uur instrumente en mediese materiaal aangee, aanvat en noteer op die kontrole bord, en die hande so versekerd sien werk, is sprakeloos, hierdie mensie wat van nêrens hier ingestap het, verstom hulle. Haar vaardigheid en die tegnieke wat sy gebruik laat hulle stom, laat elkeen wonder waarom so ʼn begaafde mens hier in die berge vir ʼn paar maande wil kom werk.
Na die operasie bly Zuluika by Werner Graff en die hoësorg suster tot Werner haar verseker Pablo se tekens is bestendig. Hulle stap saam na die hoësorg saal waarheen Pablo verskuif word, en Zuluika weet, sy het definitief die dertig minute ruskans en koffie en toebroodjies nodig.
Neville May voeg hom by die span, en Zuluika bedank hom vir sy welwillendheid om gedurende sy rus dae wel in te kom. Sy, Werner, Peter, en die span bespreek vinnig die vordering en verdere beplanning om Neville op hoogte te bring van die situasie en elke pasiënt se toestand en beserings, maar ook om te verseker almal stem saam oor die volgende aksies.
Zuluika sien hoe Mauritz Melville help om koffie en broodjies te bedien, en sy kan dit nie verhelp nie maar dit bring ou herinnering aan Rudolph en oom Louis terug.
Hy hou sy oë op haar gesig, sien die een oomblik se hartseer en wonder of die hartseer haar na die ysbedekte wêreld gebring het. Wonder hy oor die verbasende mensie wat hier ingestap het en alles oorgeneem het asof dit net nog ʼn dag se werk is, terwyl hy weet wat die wanhoop en chaos was tot voor sy ingekom het.
Zuluika en die personeel besoek die ander pasiënte, dui aan wie na Maxwell sal ingaan en gee instruksies vir die verdere behandeling van elkeen tot hul beurt in die teater kom.
Terwyl Zuluika onverpoosd voort werk, wissel die personeel om langer rusperiodes te neem. Terwyl die res van die span ooglopend uitgeput raak, wil dit vir hulle voorkom asof sy geen vermoeienis voel nie, en die bewondering groei.
Dit is middag van die volgende dag wanneer sy die laaste pasiënt deurstuur na die hoësorg afdeling, en sy, Rhoda en die ander dokters stap saam. Hulle laat die personeel hul werk voltooi en Rhoda wink Mauritz om saam met hulle te stap.
“Is die families hier, en is hulle versorg?” Daarin sien albei die ’omgee‘ in Zuluika Zuess, dit wat Zuluika oor die afgelope tien jaar geglo het nie meer in haar bestaan nie, en sy weet dit is die passie wat die nuutgevonde vryheid terug in haar gebring het.
“Ja, hulle wag vir terugvoer Dokter.”
“Noem my Zuluika, indien jy kan,” en hy glimlag. “Zuluika,” en vir hom is dit ʼn pragtige naam. “Ernstig, maar bestendig, niks wat ons nie kan hanteer nie, maar ons sal gereed moet wees vir enige verandering in die pasiënte se toestand.”
Hulle drie stap verder in stilte deur na die hoësorg eenheid en Mauritz en Rhoda stap die rondte saam met Zuluika en die span. Sy ondersoek elke pasiënt weer, vra vir Josh en Neville om hulle diagnoses te gee, en sy is beïndruk oor die akkuraatheid van die bevinding, en sy sê hulle dit.
Die ander persone in die groep sien die trots op die jong Josh se gesig, en besef, dit wat Zuluika Zuess nou doen, die grootste respek wat enige persoon kan kry, verdien, respek vir ʼn ander se menswees, hul selfrespek, en hulle besef die diepte van die mens se waardes.
Sy skryf die behandeling en roetine observasies vir elke pasiënt neer sodra die groep dit bespreek het, en in die kyk na die ander sien Zuluika die uitputting op Josh en Neville se gesigte, “Gaan lê julle twee so ʼn uur of wat, ons weet nooit wat verder vandag gaan gebeur nie.”
Albei knik en stap deur na die enkelkwartiere om te gaan rus.
“Is daar enige ander pasiënte wat onmiddellik aandag nodig het?”
Rhoda Ross antwoord amper verskonend, “Ja Dokter daar is twee kinders wat ek glo jy na moet kyk, mangelontsteking, en ons vermoed ʼn blindederm. Die ander pasiënte in die algemene sale is bestendig en hulle kan u later besoek, vir nou is alles onder beheer.”
“Nou laat ons gou na die twee kinders kyk.”
Die twee seuns is wakker en albei ooglopend siek. Zuluika neem die lêers wat op die trollie by die ingang van die kamer is, en lees beide lêers vinnig deur.
Sy stap na die ouer outjie, wat volgens die lêer se inligting agt jaar oud is, gesels met hom en vra of sy gou kan kyk of sy kan sien wat hom so siek laat voel. Hy glimlag verleë en skuif regop teen die kussing.
Zuluika ondersoek hom deeglik, draai na Rhoda en die saalsuster wat haar by hulle gevoeg het, “Het die pasiënt reeds geëet vanoggend?”
Die saalsuster skud haar kop, “Nee Dokter, hy wou van gistermiddag af niks eet of drink nie.”
Zuluika draai na Rhoda, “Kan ons teater drie in gereedheid bring vir die blindederm, indien die ouers van die pasiënt hier is, kan julle hulle asseblief gou laat inkom.”
Rhoda roep die ouers van die blindederm pasiënt nader en Zuluika verduidelik aan hulle wat haar diagnose is, en deel haar voorneme om nog vandag te opereer. Beide knik dadelik hulle instemming, en Rhoda vra hulle om deur te kom na die saal ontvangs om die nodige vorms te voltooi en toestemming vir die operasie te gee.
Zuluika en die saalsuster stap deur na die volgende pasiënt, sy sien Mauritz deurstap na die spreekkamers, dit laat haar ʼn verlies voel, en sy weet nie waarom nie.
Zuluika volg dieselfde prosedure, gesels met die seuntjie om sy vertroue te wen, terwyl sy ʼn volledige ondersoek doen. Sy kyk weer na die kaart en sê gelykmatig, “Ons sal voortgaan met die konserwatiewe behandeling van die mangels vir vandag, en die situasie heroorweeg môre. Ek sal die behandeling en die operasie met die seuntjie se ouers bespreek sodra hulle hier is.”
Sy draai na die saalsuster, “Suster sal jy asseblief reël vir Neville en Josh om na so vyf ure wakker gemaak te word en vra hulle hoe laat hulle kans sal sien vir die blindederm operasie.”
Suster Delia McKenzie glimlag en onderneem om die reëling te tref.
Zuluika skryf vinnig die medisyne en behandeling vir die mangel pasiënt voor en stap deur na die algemene wagkamer waar die dokters se spreekkamers en Rhoda se kantoor is.
Sodra sy by Rhoda, Werner en Mauritz aansluit vra sy, “Rhoda, is hier ʼn vertrek waar ons met die gesinne van die pasiënte kan gesels?”
“Ja hier langs die wagkamer is u spreekkamer, u kan dit gebruik.”
Zuluika glimlag, maar is verlig oor die ‘spreekkamer’, “Dankie Rhoda, laat ek net eers almal saam groet voor ons die families in die volgorde van die operasies sal toespreek.”
Mauritz, Rhoda en Werner deel in die kyk na mekaar dieselfde respek vir die klein mensie wat sonder enige teken van vermoeienis na sestien ure se aaneen werk, net voortgaan.
Zuluika kyk na die mens wat van die oomblik toe sy haar in die nag ontmoet het, net sonder ophou haar dra en ondersteun, en die waardering is in haar stem, “Dankie Matrone, baie dankie vir die hantering van alles.”
Rhoda Ross voel die trots oor haar span se werk, maar dit word oorskadu deur haar bewondering vir die vrou wat haar by hulle gevoeg het.
Sodra Zuluika instap, kom daar ʼn stilte in die vertrek, ‘Kinders, vroue, moeders en vaders’, flits dit deur haar gedagtes sodra sy die versameling bekommerde gesigte sien. “Goeie middag, ek is dokter Zuluika Zuess,” en die groet kom terug in ʼn koor.
“Al vyf pasiënte is op die oomblik stabiel, ek sal elke familie in die spreekkamer inlig oor die beserings en toestand van hul familielid.”
Sy volg Werner en Mauritz na die spreekkamer, terwyl Rhoda Ross, Pablo se familie vra om haar te vergesel.
Zuluika verduidelik in leke taal aan elke pasiënt se familie presies wat die beserings is, en wat die huidige toestand en behandeling is. Werner, Mauritz en Rhoda slaan dit alles gade, en die gedagte is by hulle, ‘wat sal sy, wat blykbaar in die woorde van die teaterpersoneel die beste ooit is’, hier soek, en al drie wonder daaroor, maar laat dit vir nou eers gaan.
Zuluika gee toestemming vir die families om twee-twee, vir twee minute elk by hul geliefde deur te bring.
“Beperk die gesprekke, en indien julle kan, geen trane nie asseblief.” Almal lag verleë en sy trek groot oë wat die spanning vir een oomblik verlig.
Wanneer die laaste mense saam met Rhoda en Werner uitstap, vat Mauritz haar hand vas, “Dankie, en miskien wil ek net voel of jy ʼn werklikheid is, en nie net ʼn engel is wat weer gaan wegvlieg die donker nag in soos jy gekom het nie.”
Sy glimlag, “ʼn Engel, nee, wegvlieg, ook nee, julle gaan minstens ʼn paar maande met my sit, ek is die ’Locum‘, tot julle dokter Friedrich terugkom, onthou.” Mauritz voel ʼn beklemming in hom, ‘kan hulle bekostig om haar te laat gaan na ʼn paar maande, na wat sy oor die afgelope ure gedoen het?’
Mauritz dring daarop aan dat Werner en Zuluika saam met hom en Rhoda eers iets gaan eet, en koffie drink. Sodra hulle opstaan in die kafeteria, stap Zuluika terug na die hoësorg eenheid, terwyl Rhoda, Werner en Mauritz ʼn bietjie gaan rus. Hulle kyk die klein mensie agterna, wat net aangaan, en hulle is oorstelp.
Vyf ure later, soos gereël, is Werner, Josh en Neville terug. Die blindederm operasie verloop vinnig en glad en Zuluika gee Josh die geleentheid om die hegting van die snytjie te doen. Werner en Neville knik hulle koppe en glimlag terwyl Zuluika die warmte van hul goedkeuring voel.
Na nog ʼn vinnige draai by die pasiënte in die hoësorg eenheid, voel Zuluika die doodsheid in haar liggaam, die amper drie dae sonder slaap, die treinrit, en die ure teen die berg op, het sy tol geëis.
Mauritz wat terug is van sy paar uur se rus, sien die moegheid op die gesig, hy kyk op in haar oë, sien die een swart oog en die een blou oog onder die pikswart kuif, en hy weet, dit is hoe sy is, ‘uitsonderlik’.
Zuluika glimlag op in sy gesig, “Jy sal daaraan gewoond raak, dit is hinderlik aan die begin, maar soos met alles, raak ʼn mens dit gewoond met tyd.”
“Dit betwyfel ek, dit is pragtig, ek het nog nooit sulke oë gesien nie, nog nooit eers iemand met twee verskillende kleur oë gesien nie,” en sy glimlag net.
“Is hier iewers naby slaapplek vir my vir ʼn paar uur?” en Rhoda Ross is onmiddellik daar.
“Dokter ons het ʼn kamer in die enkelkwartiere vir u gereed gemaak sodat u naby is indien daar iets met die pasiënte gebeur. U kan vannag hier slaap en indien u môre so voel, intrek in u huis teen die berg se rand,” en Zuluika waardeer die ondersteuning en die knik van haar kop en glimlag, sê dit.
Mauritz Melville se stem kom beslis, “Rhoda, hou Zuluika se mediese tas hier by die saal, ek sal haar deurneem na die enkelkwartiere indien dit reg is?” Rhoda Ross knik haar goedkeuring en Mauritz vat Zuluika se tas en viooltas by Rhoda en stap stil langs Zuluika deur die gange tot by die enkelkwartiere.
Hy sit die twee tasse langs die bed neer, “Lekker rus, ek sal ook weer ʼn paar uur gaan lê, probeer slaap indien jy kan.”
In Zuluika is daar ʼn onrus, wat sien die mens, waarom die opmerking asof hy weet dat sy vir tien jaar nog nooit ʼn nag deur kon slaap nie. Dit wat daardie nag gebeur het, en die daad wat sy gepleeg het, is soos ʼn tien jaar oue rolprent in haar kop sodra sy haar oë toemaak, en sy bid dat dit hier in die koue vreemde land verby sal gaan. Skielik is die besef daar, ‘dit is reeds besig om weg te gaan, sy het reeds rustig geslaap in Namibië’.
Sy haal haar stetoskoop van haar nek af, sit dit op die laaitafel neer, en sonder om uit te trek, lê sy haar tam liggaam op die bed neer, en verval amper onmiddellik in ʼn droomlose rustige slaap.
Mauritz bly staan buite die deur en wag om te hoor of sy tot rus kom, en wanneer hy haar gereelde asemhaling hoor, loer hy ʼn paar oomblikke later in om seker te maak sy is behoorlik warm. Met ʼn onbekende gevoel in hom vou hy die warm kombers versigtig oor haar, vou dit liggies teen haar lyf vas, soos jy met ʼn kind sou maak, ‘Here wat het haar na so ʼn onherbergsame wêreld gedryf, wat kan so erg wees’, flits dit deur sy gedagtes.
Hy stap deur die gang na die kamer in die enkelkwartiere wat hy gereeld gebruik wanneer daar nood in die hospitaal is, en die klein mensie in die bed is sy laaste gedagte voor hy aan die slaap raak.
Dit is vroegoggend wanneer Zuluika wakker skrik, sy herleef alles van die vorige dae, sy weet, ‘sy is weer deel van daar waar sy wil wees’, en dit vul haar met ongekende plesier.
Sy staan op, stort vir ʼn lang tyd, maak haar tas oop en trek die nuwe onderklere, langbroek en bloesie aan wat sy en Lize gekoop het. Sy kam haar nat hare en wanneer sy die kas oopmaak vind sy ʼn haardroeër, en sy voel tuis wanneer sy die warm wind teen haar vel voel.
Met haar stetoskoop in haar hand stap sy deur die gang na die ontvangsarea.
Rhoda Ross kom met ʼn wit jas aangestap, en asof hulle dit elke dag doen, glip Zuluika haar arms in die moue, terwyl Rhoda behendig die kraag regtrek en Zuluika help om in haar jas in te pas. Vir Mauritz wat op die bank sit en dit aanskou, is dit ongelooflik, hy weet, daar is ʼn woordelose taal tussen mediese mense, en hy dink aan die aanvoeling wat die twee vroue deur die ure die vorige twee dae opgebou het, so asof Zuluika altyd hier was, en hy bid ʼn gebed.
Haar oë glimlag ʼn welkom groet, en hy staan op en gaan na hulle toe, “Hoe voel jy?”
Met ʼn eerlikheid sê sy, “Beter as in baie jare dankie…” en die baie jare gaan nie by hulle verby nie.
“Mauritz, indien jy kan?”
Die kuiltjie in haar wang vang hom onverhoeds, en dit raak iets iewers in hom wat hy nie ken nie, “Mauritz, en ja ek kan.” Mauritz voel of hy sy oë een oomblik moet toemaak om die sprokie vas te pen in sy geheue, en die verwondering is in hom.
Hulle drie stap saam deur die gang na die hoësorg eenheid. Alles is rustig en onder beheer, en Zuluika kan nie help om weer bewondering vir die professionaliteit van die personeel te voel nie.
“Rhoda net weer, jou personeel is werklik professioneel en puik, baie geluk, en baie dankie vir die ondersteuning en saamwerk. Ek is regtig nuuskierig om te weet waarom julle hier so ʼn uitstekende toegeruste hospitaal in die berge het.”
Rhoda Ross voel die toegeneentheid wat sy van die eerste oomblik gevoel het teenoor die mensie, en gee haar verduideliking, “In die maande wat daar gewerk word hier in die plantasies, is daar meer as vyf duisend mense in die omgewing, en die soort werk wat in die plantasies en die saagmeule gedoen word, is geweldig gevaarlik. Die maatskappy het vyftien jaar gelede die hospitaal gebou en toegerus met moderne fasiliteite om die bes moontlike diens vir die maatskappy personeel en die gemeenskap te verseker.”
Zuluika staan verwonderd, “Waar woon al die mense?”
“Laer af teen die berge, jy het nie daar verby gekom nie, so jy het nie werklik gesien hoe groot die gemeenskap is nie.” Zuluika herroep Lize se woorde rondom die gemeenskap, en sy besef, sy het baie om te sien en te leer van die gemeenskap.
Die saalsuster en twee van die eenheid se verpleegpersoneel voeg hulle by Zuluika om teenwoordig te wees tydens haar besoek van die pasiënte.
Josh Grube met nog ʼn student, wat as Andrew Sleighter bekend gestel word, voeg hulle ook by die groep.
Zuluika spandeer ʼn geruime tyd by elke pasiënt, vra weer soos die vorige aand Josh en Andrew om ʼn diagnose te maak. Sy wag vir hulle diagnoses, bespreek dit, en gee opdragte aan die personeel, wat dit op die pasiënte se kaarte noteer, terwyl sy dit bevestig met haar handtekening.
Zuluika kontroleer die stabiliteit van die pasiënte, en keur die oordra van die inligting aan die families goed.
Rhoda, Mauritz en die twee studente dokters stap deur na die algemene area waar die pasiënte se families wag om terugvoer oor die toestand van hul geliefdes te kry.
Zuluika gaan sit agter die ontvangstoonbank, hersien en dateer elke kaart op, en skryf verdere behandeling en medikasie vir die dag voor.
Wanneer sy deur Pablo se lesings van die nag werk, val die wisseling in sy bloeddruk haar op en stap sy terug na Pablo en doen sy weer ʼn volledige ondersoek, die bloeddruk wisselvalligheid bekommer haar.
Na ʼn deeglike ondersoek vra sy die saalsuster om te reël vir X-strale wat sy spesifiseer. Die personeel skakel die dienskamer en binne ʼn paar minute voeg die portier hom by hulle wat Pablo saam met een van die hoësorg personeel deur stoot na die X-strale afdeling.
“Ek sal nou terug wees vir die uitslag, vra vir Peter Payne om saam deur te kom met die X-Straal plate asseblief, ek gaan net gou na die ander twee pasiëntjies kyk.”
Mauritz en Rhoda wat hulle by Zuluika voeg, staan verstom, so presies met alles, maar so vasgevang en alleen in haar eie wêreld, die briljante eie wêreld.
Hulle kry die mangelontsteking outjie en sy ouers laggend in die saal. Die knapie lyk heelwat beter as die vorige nag en Zuluika ondersoek hom deeglik nadat sy die ouers gegroet het.
Sy draai na die ouers om volle aandag aan hulle te gee, sy weet vir haar is dit net ‘mangeltjies’, niks ernstig nie, maar vir hulle is dit ‘hulle kind’. “Die ontsteking is nou beter maar dit lyk of dit ʼn herhalende probleem is, die outjie lyk vir my ook effens anemies, wat ʼn teken van oormedikasie kan wees.”
Albei ouers knik hulle koppe, “Dit hou nooit op nie, hy is amper weekliks hier vir behandeling en antibiotika, wat wel ʼn paar dae se beterskap bring, gevolg deur dieselfde patroon.”
“Nou ja, ek dink, ek moet die ou mangeltjies maar verwyder, voor ons, ons toespits op die opbou van die knapie se gestel,” en albei ouers stem gelyk in, vir hulle het dit te veel geword om die brose seuntjie so sonder ophou siek te sien.
Zuluika vat die seuntjie se lêer en lees dit deur, “Rhoda die outjie het nou ontbyt geëet, so ek dink ons skeduleer hom vir môre oggend. Sal jy hom op die teaterlys plaas asseblief,” sy kyk glimlaggend op, “Hoe voel Werner en die personeel, dit was ʼn kwaai sessie vir almal,” en die gevoel is in Mauritz en Rhoda dat sy haarself uitsluit uit die ‘kwaai sessie’ se ‘almal’.
“Almal is reeds op en in die sale, Werner sê hy voel soos ʼn jong narkotiseur, hy het die operasies werklik geniet, dokter Friedrich doen nie groot operasies hier nie, die feit dat jy hier was, is ʼn seën,” kom dit van Rhoda.
Zuluika gesels nog ʼn rukkie met die ouers, waarna sy deurstap na die blindederm pasiëntjie, wie se ouers ook dadelik opstaan, “Dankie Dokter, met die paaie wat amper onbegaanbaar is weet ons nie wat met Jean sou gebeur het indien u nie hier was nie?”
Zuluika aanvaar die dank en die herinnering aan lank gelede toe sy net ʼn jong dokter was, is skielik by haar, en soos lank gelede weet sy, hier gaan sy regkom, hier kan sy waarde toevoeg.
Na ʼn verdere evaluasie van Pablo se X-strale, en die insette van Peter en Neville wat hulle by haar gevoeg het, voel Zuluika verlig. Die X-strale toon ʼn effense swelling maar geen bloeding nie. Hulle bespreek die bloeddruk wisseling en Zuluika versoek die suster om half uurliks die bloeddruk te neem, en om haar en Neville onmiddellik in kennis te stel indien daar verandering plaasvind.
Zuluika besef sy moet die geleentheid benut om ‘haar huis’, soos Rhoda dit genoem het, te betrek, sodat sy ook na haar eie persoonlike behoeftes kan omsien.
“Nou ja, miskien moet ek gou intrek in my kwartiere sodat ek kan uitpak en regmaak.”
“Ek het jou bagasie reeds laat deurneem na jou huis, en indien jy klaar is, kan ons gerus afstap daarheen. Ek en Mauritz sal saam met jou stap indien jy wil?” sê Rhoda vriendelik.
Zuluika glimlag en knik haar kop, ‘Eers net hulle ondersteuning vir nou totdat sy haar voete gevind het’.
Sodra hulle die hospitaal se ontvangsportaal instap, is die groot swaargeboude man daar. Zuluika sien die uitdagende houding en openlike afkeuring op sy gesig, sy weet wat deur sy gedagtes gaan, en sy kyk hom direk in die oë en daag hom. Hy kyk haar in die gesig, ignoreer haar, en kyk na Mauritz.
Mauritz voel die atmosfeer aan en wil net praat wanneer Zuluika hom voorspring, “Ek is dokter Zuluika Zuess die locum, en ek neem aan u is meneer Grant, die hoof ingenieur. Ek het ʼn voorstellingsbrief vir u wat ek vir u sal deurgee sodra ek uitgepak het,” sê sy kalm sonder enige emosie op haar gesig.
Hugo Grant se blik kom een oomblik terug na Zuluika, en met ʼn trek van sy skouers ignoreer hy haar en Rhoda, en kyk terug na Mauritz. “So Mauritz wat gaan hier aan?” Al drie besef hy het geen kennis van die ongeluk of die operasies nie.
“Die pasiënte is stabiel en rustig,” kom dit van Zuluika, “U is vry om hulle vir ʼn paar oomblikke te besoek.”
Die verbasing is nou openlik, “Wat het hier gebeur terwyl ek weg was?” Eis hy.
Rhoda Ross, ‘die matrone Rhoda Ross’, neem oor, in ‘haar’ hospitaal is dit nog altyd die reël, nie eers die hoof ingenieur het sê hier nie, die hospitaal is nie onder sy beheerspan nie.
“Daar was ʼn ongeluk en vyf mans is ernstig beseer. Dokter Zuess het al vyf geopereer en hulle is in die hoësorgeenheid.”
Hugo Grant besef hy het ʼn gek van homself gemaak, en met minder aggressie sê hy, “Ja asseblief, indien u nie omgee nie wil ek hulle sien,” en hy volg Rhoda gedweë.
Dit is ʼn meer bedeesde Hugo Grant wat ʼn halfuur later uit die hospitaal stap, hy voel steeds die wrewel in hom omdat hy sy ontevredenheid met die vroue dokter so openlik gewys het, en hy neem hom voor, ‘sy vrou Margret sal nie hierdie dokter sien nie, te jonk’, maar in hom weet hy, jonk of te nie, sy het helse werk gister en laasnag gedoen, dit gee hy haar toe.
Met die stap oor die sneeubelaaide gras in die rigting van die groot houthuis aan die kant van die berg, voel Zuluika die huis op haar groei, onthou sy ʼn ander huis in die Drakensberg wat so teen ʼn berghelling is, ʼn huis waar sy gelukkig was, en sy wens haar wens om weer gelukkig te wees soos lank gelede in die berge.
Die groot skemer vertrek, die leerstoele en die boekrakke vol boeke laat haar die gevoel kry van, ‘hier kan ek inpas’.
Mauritz sien haar stille gesprek met haarself, en hy vra God om haar gelukkig hier by hulle te maak.
Rhoda neem haar vinnig deur die vertrekke en wys haar waar die kragopwekker se skakelaar is indien daar enige kragonderbrekings plaasvind, voordat sy verskoning maak om terug hospitaal toe te gaan.
“My huis is langs die kerk hoër op teen die hang,” en hy wys in die rigting van die kerktoring wat swart teen die wit van die berg se hange vertoon. “Indien jy my nodig kry, kom net op,” en Zuluika kyk van die kerk na hom, knik haar kop, maar sy weet, ‘sy is nog nie gereed om naby God se huis te gaan nie’.
Zuluika staan voor die wit gordyne in die sitkamer, en in die skemer is haar silhoeët teen die wit agtergrond vir Mauritz die van ʼn Engel, en hy ondervind een oomblik die vrees dat sy sal verdwyn soos sy gekom het, hy weet, sy is nie ʼn konvensionele mens nie, sy is soos ʼn droom wat jy gedroom het, maar die besonderhede nie kan onthou nie, en dit ontstel hom intens, en hy het geen idee waarom nie.
Zuluika kyk na hierdie mens, sien die pragtige gelaatstrekke, soos Rudolph se gelaatstrekke, en sy wonder wat hy as Godsman sal sê indien hy weet wie sy is, wat sy gedoen het, en sy sluit haar onbeskryflike oë een oomblik, sy voel die vrees in haar, maak haar oë oop, en die hartseer wat sy voel vou soos ʼn skaduwee oor haar oë.
Met ʼn “sien later,” is Mauritz Melville uit by die deur, soveel hartseer kan hy nie verwerk nie, en in hom voel hy om haar aan sy hart te druk soos ʼn vader met sy kind sal doen.
Sy weet hy sien die stryd in haar, en sy laat hom gaan sonder enige woorde, eers net tot rus kom, voor sy weer oor hom sal wonder.
Sy pak haar klere uit, vir die eerste keer in tien jaar tref dit haar, sy besit weer iets wat haar eiendom is, sy druk dit teen haar vas, en sy huil vir die eerste keer in dae.
Sy haal die plastiek houer met die krag omskakelingstukke uit, maak dit oop, druk dit in die muurprop langs haar bed en koppel haar selfoon om te laai, en daar is ʼn nuwe bravade in haar, ‘sy sal regkom, kom wat wil’.
Sy neem die viool en die hobo, en stap na die groot sitkamer, sy weet waar hulle vir haar moet wag, op die groot eetkamer tafel waar sy hulle elke dag wil sien wanneer sy inkom. Sy weet hier sal sy die krag kry om hulle weer te speel. Sy maak die viooltas oop en trek haar vingers liefderyk oor die snare, sy hoor die klanke en sy verlang na Rudolph.
Sy kook water, vind die koffie bekers in die kas bo die wasbak, en die koffie in ʼn houer langs die ketel. Sy skuif die gordyne oop en die sneeu belaaide woud anderkant die groot wit ruimte is ʼn skildery van skoonheid. Sy gaan sit op die groot leerstoel, kyk na die sneeu belaaide hange, terwyl sy haar koffie teug vir teug drink, en die rus wat die witheid bring omvou haar.
Sy was die koffie beker, laat hom op die droograk, en gaan terug na die hospitaal.
Rhoda, Werner en die twee studente is daar, wagtend op haar. Sy spandeer weer ʼn geruime tyd by elke pasiënt, elkeen ondersoek die pasiënte weer, hulle bespreek elke bevinding en Werner noteer die lesings op elke pasiënt se kaart.
Wanneer hulle in Zuluika se spreekkamer sit, gesels sy, Josh en Andrew oor die algemene tekens van elke pasiënt se tipe besering. Sy fokus op die tekens van inwendige bloeding en ernstige been breuke wat beskadiging van bloedvate en slagare kan veroorsaak. Hulle bespreek die kritiese tekens, en hoe evalueer jy jou bevindings teen die tekens.
Hulle voer ʼn lang bespreking oor elke diagnose en sy is in haar skik wanneer sy besef hoe akkuraat die twee se observasies is, sy weet die instituut waar die jong mense opgelei word, is van wêreld gehalte, maar so ook die geneeshere waaronder hulle hier in die hospitaal opleiding ontvang.
Sy komplimenteer hulle, en die trots is in die kyk na haar. Zuluika weet, die toevoeging van die studente opleiding by haar daaglikse werk is vir haar soos manna uit die hemel, sy wil dit so graag doen, so graag teruggee, wat sy van so baie geneeshere in haar tyd ontvang het.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.