Jongste aktiwiteit:

Die sondes van die vaders

Die sondes van die vaders

In die veld kan jy maklik sien waar iemand voor jou geloop het. ’n Paadjie vorm vanself waar voete oor jare op dieselfde plekke trap. Die gras raak eers yler, en verdwyn dan heeltemal. Die grond word hard. Lank nadat die mense weg is, bly die voetpaadjie nog sigbaar.

Families werk amper dieselfde.

Daar word gesê die sondes van die vaders word oorgedra na die kinders. Dis ’n gewigtige stelling wat by mens kan spook. Toe ek jonger was, het ek gedink dit beteken iets onheilspellend en onontkombaar – soos ’n donker wolk wat oor ’n familie hang. Hoe ouer ’n mens egter word, hoe meer besef jy dat die sondes van die vaders nie altyd soos ’n donderstorm aankom nie. Dit is dikwels heelwat stiller.

Soms lyk die sondes soos gewoontes. In my familie is daar byvoorbeeld ’n sekere hardkoppigheid wat van geslag tot geslag aangegee word. Nie aggressie nie, net wederstrewigheid. Hulle stry en redeneer aanvanklik so bietjie, maar wanneer die probleem groter raak, verdwyn hulle woorde soos mis voor die son. Dis wanneer die stilte neerdaal wat die hardkoppigheid aanmeld. Hulle raak stil wanneer hulle eintlik reeds moet praat.

Miskien is dit een van daardie klein sondes wat oorleef deur nabootsing, want ek vang myself toe uit dat ek presies dieselfde doen. Dis soos die veldpaadjie wat my voorouers vir my oopgetrap het. Ons stap maklik daarin omdat die pad reeds daar is.

Nog ’n voorbeeld is die oortuiging dat ’n mens self moet regmaak wat stukkend is. Op plase leer jy vroeg dat as ’n windpomp ophou water gooi, wag jy nie vir iemand anders om dit reg te maak nie; die diere moet drink. Jy klim self op en draai die bout vas, of vervang die skepper, of smeer ghries waar ghries gesmeer moet word. Jy leer om pype te trek en die vastrap te gebruik.

Daardie ingesteldheid het ’n baie goeie ding tot gevolg. Taaiheid. Die vermoë om aan te hou wanneer dinge moeilik raak. Jy leer om planne te maak. Ongelukkig daar is ook ’n skadukant, want party dinge kan nie self herstel word nie. Sommige krake sit nie in hout of staal nie, maar in mense. Dalk in jouself. Dan is woorde nodig om sake uit te praat.

Tog dra ’n mens hierdie oorgeërfde gewoontes saam sonder dat jy dit altyd raaksien. Dit is die manier waarop jy reageer wanneer dinge skeefloop, of hoe jy liefhet. Of hoe jy seerkry.

Die mans van vorige geslagte het nie altyd baie taal vir hulle emosies gehad nie. Hulle is geleer om sterk te wees, om aan te gaan, om nie lank by pyn stil te staan nie. ’n Ware man het nie gehuil nie. Seuns het gesien hoe hul pa’s swaar dinge dra sonder om daaroor te praat en die dogters het geleer om sag en op hul plek te wees, al wou hulle soos leeuwyfies brul. Hulle het liefgehad soos hulle geleer is om lief te hê. Ek is dankievaderbly dat die jong manne van vandag meer gemaklik met gevoelens omgaan, en dat meisies vandag weet waartoe hulle in staat is en wat hul werd is.

Die gevaar van erflike sonde lê waarskynlik nie daarin dat dit bestaan nie, maar dat jy onbewus daarvan bly. Sodra jy begin raaksien hoe patrone werk, verander iets. Dan besef jy dat jy nie alles wat jy erf hoef saam te dra nie. Jy kan dit eer sonder om dit te herhaal. Daar is vryheid in keuses.

Jy kan kies om te praat waar daar voorheen stiltes was, of om hulp te vra wanneer jy sukkel met iets, of tegemoetkomend te wees waar daar voorheen verwag is dat jy moet volhard in jou standpunt.

Mens kan ook kies om sekere dinge te behou van hierdie erfenis van jou. Soos die koppige hoop wat maak dat mense bly plant en bou en herstel, al weet hulle hoe maklik dinge weer verkeerd kan gaan. Hoe gou die volgende droogte of vloed kan kom, of hoe maklik dinge weer breek.

Ons kan kies om ons vaders se skaduwees raak te sien, sonder om self daarin te bly woon. Jy kan jou komvandaan erken, maar, net soos met die veldpaadjie, kan ’n mens kies of jy daarop gaan bly loop, en of jy ’n entjie gaan wegstap en nuwe gras onder jou voete plattrap. En eendag, lank nadat jy self weg is, sal daar ook ’n spoor wees waar jy geloop het.

Ek hoop ek laat ’n duidelike en veilige voetpad na waarop my nageslag kan loop. Een sonder dorings en slaggate, en sonder stiltes en opgekropte grimmigheid.

© Hester Steenkamp, 2026




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed