Jongste aktiwiteit:

Hardapstreek

Hardapstreek

Daar is plekke wat jou aandag trek met groen valleie, watervalle en berge wat aan die hemel raak met indrukwekkende blou pieke. Dis nie die geval met die Hardap-streek in Namibië nie. Hierdie is ’n plek wat lojaliteit vereis met sy plato’s, droë rivierlope, stofpaaie en die wind wat al eeue lank oor verlate vlaktes waai.

Die eerste ding wat ‘n mens in hierdie streek opmerk, is die ruimte. Die hemel lyk wyer, die horison lê verder en die sterre skyn snags helder van kim tot kim. Selfs die stilte voel tasbaar, asof dit oor eeue heen gegroei het tot iets lewendigs. Iets wat asemhaal. Dit is ‘n streek waar die wind die stories vertel en die aarde aandagtig luister.

Die naam Hardap kom uit die Nama-taal wat “tepel” of “vrat”, of selfs “puisie”, beteken. Dis ‘n verwysing na die ronde koppies wat uit die landskap verrys. Die naam getuig van die vermoë van mense om hul omgewing raak te sien en dit te benoem soos hulle dit ervaar en na dit wat aan hulle bekend is. Die naam is dus nie gebore uit verbeelding nie, maar uit oplettende oë en ‘n diep verbondenheid aan die grond.

Die Hardapstreek lê suid van Rehoboth tot net noord van Keetmanhoop. Dit strek van die Atlantiese Oseaan in die weste tot by die grens met Botswana in die ooste. Dit is ‘n uitgestrekte gebied van meer as honderdduisend vierkante kilometer. Die streek se administratiewe “hoofstad” is Mariental, maar die ware karakter van Hardap lê nie in sy dorpe nie. Dit lê in die ooptes tussenin.

Vir geslagte lank leef die Nama-mense hier. Hulle ken die ritme van seisoene, weet waar om water te kry en hoe om die taal van wind te verstaan. Later jare het mense van elders ook die Hardapstreek hulle tuiste gemaak, soos boere en handelaars. Vandag leef verskillende gemeenskappe langs mekaar in hierdie uitgestrekte streek, elkeen met hul eie verhale, maar almal gevorm deur dieselfde son, dieselfde stof en dieselfde eindelose hemelruim. Afrikaans word wyd gepraat en dien dikwels as gemeenskapstaal tussen verskillende groepe.

Hierdie is egter nie ‘n maklike plek om in te leef nie. Die reën is spaarsaam. Somers brand witwarm oor die vlaktes en winters, hoewel baie kort, is bibberkoud. Die aarde is dikwels in skakerings van vaal getooi. Juis daarom leer dié streek sy mense dinge wat oorvloed hulle nooit kan leer nie: geduld, volharding en diepe dankbaarheid.

Miskien is dit juis die gereelde droogtes wat Hardap sy besondere karakter gee. In plekke waar reën skaars is, is water kosbaar. Hier word elke wolk raakgesien en nader gebid. Elke druppel reën word verwelkom en elke groen spriet word gevier. Die Visrivier sny deur dele van die streek, wat ook ’n allemintige canyon uitgekerf het, en naby Mariental lê die bekende Hardapdam wat sedert 1963 water aan die omliggende gemeenskappe verskaf. Die dam het nie net die landskap verander nie, maar ook nuwe moontlikhede vir landbou en bewaring geskep.

Dalk is dit waarom die mense van Hardap dikwels iets van die land in hulself dra. Soos die kameeldoringboom wat wortels diep die aarde instoot om water te vind, leer hulle om dieper te soek as wat die oog kan sien.

Wanneer die reën uiteindelik vaal oor die vlaktes trek, gebeur ‘n wonderwerk. Die droë aarde stel haar geur vry en die veld kry kleur. Rivierlope onthou hul ou paaie en beur vir ’n kort periode deur droë sand tot bruisende watermassas. Die agdaggras tooi die asvaal grond, net ’n paar dae na die reën, in die lieflikste heldergroen tapyt en springbokke pronk trots tussen ghabbabosse en witgatbome. Watervoëls kom oornag aan en vir ’n rukkie voel dit soos ’n ander wêreld. Byna soos ’n paradys.

Die Hardap is ’n dankbare streek wat met min tevrede is en raak uitspattig wanneer toestande gunstig is.

Die grootste les wat mens hier leer is dat skoonheid nie altyd lê in wat volop is nie, maar in wat kortstondig en veerkragtig is. Ook dat daar krag in eenvoud is en waardigheid in volharding.

Wanneer die son saans stadig oor die vlaktes sak en die laaste lig die hemel in pastelle verf, verstaan ‘n mens iets van hierdie streek se hart en klop joune warm vir hierdie stuk dorre aarde.

Ek weet, want ek noem dit huis.

© Hester Steenkamp, 2026




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed