Onder Hardap se son (goud)
Onder Hardap se son
sonder skans of verskoning
lê die aarde wawyd oop
tot waar die uitgestrekte vlakte
hom vas aan die blou lug knoop
dolomiet, kalksteen en stof
praat die ou klik-klak taal
uit die waai van die Nama-karoo
wat die !ari!khās ver gaan haal
son skyn oor stories eeue oud
tot die ergste middag-hitte wyk
en die dam die hemel bêre in goud
wat die wêreld eindeloos laat lyk
© Hester Steenkamp
*!ari!khās is die Namawoord vir ’n breëkoparend.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.