Jongste aktiwiteit:

Skoonlief en die Ondier

(Woordtelling : 569)

 

Dit is nie seker of daar ook ander mense is wat die inperking tydens Covid as ʼn seën, eerder as ʼn straf, ervaar het nie. Wat vir die mensdom ʼn groot tragedie was en groot vrees ingeboesem het, was in daardie selfde oomblik vryheid vir Moeder aarde. Dit het gevoel asof sy weer vry asemhaal, miskien vir die eerste keer in baie dekades. Haar asemteue was diep en dankbaar. Dit het soos ʼn sug van verligting gevoel, en die algehele stilte wat oor die stede neergesak het was verfrissend.

Met die lawaaierige mens buite sig, het wilde diere nuuskierig nadergestaan om die boomlose woude van beton en glas van nader te bekyk. Het hulle gewonder waar mense kos kry om van te leef? Was hulle beïndruk met die geteerde strate wat elke tree en verskrikte beweging uitbasuin?

Dit was in daardie tyd wat ek besef het dat die lewe in die stad verseker lekker is vir inkopies, maar nie vir ʼn dieper vrede in my siel nie. My hart het na ooptes en wilde diere verlang. In Gauteng het hierdie netwerk van geteerde paaie en geboue wat styf langs mekaar ingeprop was my benoud laat voel. Skielik kon ek nie meer asemhaal nie en kon ek nie vinnig genoeg daaruit padgee nie.

So beland ons toe aan die kus, nie ʼn plek waarheen my hart nog ooit met ʼn punt getrek het nie. Die seelug maak grappies met my krulhare, die wind waai als wat nie vasgespyker is nie sommer weg, en die droogtes laat my broek bewe. Selfs die seisoene begin later as in die Noorde van die land, maar tog was ek nog nooit so onbeskaamd gelukkig as juis nou nie.

Maak nie saak of ek Oos of Wes ry nie, dit neem nooit langer as 20 minute om die strand te bereik nie. ʼn Wildpark is byna binne loopafstand van ons huis en dit is ʼn plek waar ek graag my batterye gaan herlaai. Daar tussen die kameelperde, zebra’s en buffels, kan mens weer asemhaal. Staproetes is te kies en te keur, en ons is letterlik omring deur die natuur.

Dit is juis na hierdie wildpark waarheen ons die kleinkinders een oggend in die langer-as-lang somervakansie geneem het. Dit was warm, maar nie onhoudbaar nie. ʼn Gedeelte van die pad is deur ʼn dig beboste gebied en daar is selde bokke te sien. Mens kan ook net die voëls hoor maar hulle is ook maar sku. Kleinseun kyk by sy venster uit, sien niks behalwe bosse nie en kla dat die pad stamperig en stowwerig is. Kleindogter kyk by die ander venster uit en kan nie uitgepraat raak oor die blomme en tientalle skoenlappers nie.

Dieselfde smal paadjie, dieselfde tyd, en twee kinders met unieke persoonlikhede wat die park heeltemal verskillend ervaar en verskillende goed geniet. Skoonlief en die Ondier.

Kleindogter is soos ʼn feetjie wat skoenlappers wil jaag, en kleinseun vind die honger leeus opwindend. Eers wou kleindogter nie kom kyk hoe die leeus kos kry nie want sy het gedink dat daar ʼn bokkie losgelaat sou word en dan moet die leeus dit vang. Ekself was maar dankbaar dat ons daardie deel gespaar was en dat hul kos reeds opgesny word voor dit uitgedeel word.

Vir party mense is die aarde ʼn plek van groei en herlaai, vir ander is dit ʼn plek om te misbruik en te verniel, en nie eens twee maal daaroor na te dink nie. Dieselfde plek, verskillende ervarings.

 




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Koos Elsum het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak