
Moeder Aarde, Gaia, ons enigste Blou Planeet
(Woordtelling : 636)
Die aarde is ʼn komplekse entiteit en nie sommer net ʼn blou bal wat doelloos in die heelal ronddryf nie. Sy lewe en haal asem. Sy beweeg ook baie meer as wat ons in die aardrykskunde klas geleer word. Dit is nie net die draaibeweging wat ons voortdurend tussen dag en nag neem nie. Selfs nie eens die stadige kanteling wat ons seisoene laat verander nie. Tog is daar voortdurende beweging en onopsigtelike veranderinge waarvan ons byna nooit bewus is nie.
By die horing van Oos-Afrika is ʼn geologiese skeur wat al vir naastenby 22 miljoen jaar aan die ontwikkel is. Die Somaliese- en Nubiese Plate is besig om weg van mekaar te beweeg, iewers tussen 6mm en 2.15cm per jaar in ʼn oostelike rigting.
Eendag in die verre toekoms, miljoene jare van vandag af, sal hierdie skeur so groot wees dat daar ʼn nuwe oseaan sal vorm. Afrika soos ons dit vandag ken sal heeltemal onherkenbaar verander. Hierdie Oos-Afrikaanse Skeur strek vanaf die horing van Afrika tot aan die noorde van Mosambiek. Lande soos Rwanda, Uganda en Zambië wat op die oomblik tussen ander lande vasgeknyp lê, sal ʼn kuslyn kry. As die mens dit reggekry het om homself nog nie teen daardie tyd heeltemal uit te wis nie, sal hulle met groot verwondering na ons ou atlasse en wêreld-kaarte staar.
Maar hierdie is nie al verskuiwing wat reg onder ons neuse plaasvind nie. Australië is tans die kontinent wat die vinnigste beweeg, sowat 7cm per jaar. Dit sluit nie net Australië self in nie, maar ook Tasmanië, en gedeeltes van New Zeeland en New Guinee. Soos hierdie kontinent stadig in die rigting van Europa beweeg, sal dit uiteindelik deel vorm van Asië, ook baie miljoene jare van hierdie dag af.
Maar hierdie verskuiwings van kontinente is egter glad nie ʼn nuutjie nie, al is die beweging van die tektoniese plate is nie voelbaar nie. Soms beweeg hierdie plate verder weg van mekaar, waar ander weer op ʼn onvermydelike botsing sal uitloop en ʼn nuwe kontinent vorm. Aanvanklik was Australië deel van ʼn yslike super kontinent, genaamd Gondwana in die suidelike halfrond. Voor dit uitmekaar gebreek het, was lande soos Afrika, Antarktika, Australië en Suid-Amerika alles deel van mekaar. Die Noordelike kontinent, Laurasieë, het bestaan uit Europa, Asië en Noord-Amerika.
Hierdie landmassas beweeg so stadig dat die gewone mens dit nooit eers sou weet nie. Tog gaan dit nie vir almal ongesiens verby nie, veral nie wanneer ons GPS en satelliete gebruik nie. In 2017 moes Australië noodgedwonge hul tegnologie van 1994 opgradeer omdat die kontinent oor hierdie 23 jaar met 1.8m geskuif het.
Die kersie op die koek is dat ons liewe son boonop gaan uitbrand! Dit sal wel naastenby 5 biljoen jaar neem voordat die son nie meer hidrogeen beskikbaar sal hê om aan te hou brand nie. Maar ons hoef darem nie vandag bekommerd te raak oor die swart klip wat eendag doelloos in die hemelruim sal ronddryf nie.
Maar hoe raak hierdie veranderinge op mensdom van vandag? Dit is tog heeltemal onnodig om in ʼn staat van vrees te lewe oor goed wat eers oor miljoene jare sal gebeur. Daarom sorg ons vandag vir ons planeet, die enigste plek wat ons ʼn lewensvatbare tuiste kan noem. Die mens mag dalk drome koester dat hulle eendag Mars gaan bewoon, maar selfs dit is op hierdie huidige oomblik nie ʼn lewensvatbare werklikheid nie. En al kry die mens dit reg om tog eendag op daardie dorre planeet ʼn nuwe bestaan te maak, sal dit nie ʼn tweede aarde kan wees nie. Daarom moet ons vandag mooi na hierdie plekkie omsien. Ons moet ons liefde vir hierdie blou-en-groen, drywende stukkie klip in die grote heelal waardeer want daar is nie nog so een nie. Nie waarvan ons tans bewus is nie, in elk geval.
Bronne : https://www.iflscience.com/which-of-earths-continents-is-moving-the-fastest-and-where-is-it-going-78694 https://artsandculture.google.com/entity/m03x_f0s?hl=af
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir April 2025 – AARDE projek