Jongste aktiwiteit:

Onder konstruksie (Goud) 355 Woorde

Daar kom ‘n dag in elke vrou se lewe wanneer haar troudag ver voel…sommer báie ver.

Op daardie dag voel dit asof die stralende bruid op die troufoto’s jou sussie is en die bruidegom iemand wat jy nog moet ontmoet. Dit is gewoonlik rondom hierdie tyd waarin jy ook finaal besef dat mens nie in die huweliksbootjie klim, wegvaar in die sonsondergang en vir altyd veilig en geborge in daardie nessie vertoef nie. Verder het jy ook al besef dat jou nuwe man geen ridder is nie en dat die sogenaamde wit perd waarop jou verliefde oë hom graag sou wou sien, nêrens te vinde is nie.

Min bruide het onrealistiese drome en illusies oor die huwelik. Daar is egter maar altyd die sprokies-element teenwoordig waar ‘n pragtige bruid, fraai blommemeisies en ‘n viriele bruidegom ter sprake is. Dit is net menslik om hierdie atmosfeer in die huwelikslewe te wil oordra. Dit is met edel bedoelings wat die bruid minsaam, vriendelik en dierbaar teenoor haar bruidegom wil optree, elke dag, sonder uitsondering.

Die bruidegom se manklike ego en beskermingsdrang voer hom mee en hy onderneem plegtig dat sy bruid nooit enige tekort sal hê nie en dat hy sy hande stompies sal werk vir haar.

Ai, die lewe het ‘n nare gewoonte. Hy laat jou toe om jou planne te maak en laat selfs meeste van dit reg uitwerk. Hy speel  in jou kraal, raak later verveeld en gooi dan die hele sak patats oor waaroor die getroude lewe nou eintlik gaan, voor jou voete neer. Verskillende familie agtergronde, uiteenlopende sieninge oor belangrike lewenskwessies, vreemde persoonlike gewoontes, politieke woelinge en finansiële realiteite is maar  ‘n paar van veel meer realiteite wat hanteer moet word deur twee lewensmaats. Dít is die koue en harde werklikheid en kan slegs met harde werk deurgrond en hanteer word.

Raad aan enige blosende, opgewonde bruid kan uiteindelik net die volgende wees:

Wanneer jou ragfyn trourok van jou liggaam glip, klim dadelik in jou konstruksieklere, hardehoed en al. Begin dadelik werk. Timmer en skaaf, werk sy aan sy met jou eggenoot-venoot en pluk die swaarverdiende vrugte so met die getroude jare saam.

© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2025




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Braam het n geregistreerde lid geword

  • Paul Kloppers het n geregistreerde lid geword

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak