Die waarde kwessie en oorlog
Wat is waarde?
Emotief, intrinsiek of ekstrinsiek?
Die waarde-begrip spruit voort uit die konteks waarin dit gebruik word. Byvoorbeeld ekonomiese waarde wat op vraag en aanbod gebaseer is, en deur die geldmarkte van die wêreld bepaal word. Met ander woorde dit is ‘n waarde wat deur die mense vasgestel / bereken word in ‘n geldeenheid (Rand en sent in Suid-Afrika)
Wanneer ons praat van die waarde van die mens sluit dit morele en etiese waardes in, wat na my mening binne die raamwerk van ewigheidwaardes funksioneer.
Dít nou inaggeneem, sal almal saamstem, kan jy dus nie ‘n ekonomiese waarde aan ewigheids waardes koppel nie. Na my mening is lewe ‘n uitstaande kenmerk van ewigheidswaarde. Het ons dít vir mekaar gesê, bring dit my by die vraag:
Wat sou die waarde van die mens wees? Indien ons wel die waarde van die mens se lewe kon bereken. Wat sou sy waarde wees? Kan daar enigsins waarde aan die mens en sy lewe gekoppel word? Hoe het die mens sy waarde ontvang? En is een mens meer van waarde, of het sodanige mens meer waarde ontvang as ‘n ander een?
Na my mening, vanuit ‘n Christelike gesigshoek het die mens sy waarde ontvang toe God hom uit die stof van die aarde geformeer het …
God het soveel waarde aan hierdie mens wat Hy geskep het geheg dat Hy die mens met die bloed van Sy eie Seun aan die kruis van Golgota vrygekoop het.
Teen hierdie agtergrond is die vraag nou wat is die waarde van die mens in die oë van die wêreld en spesifiek die politici .
Ek het dit eerstehands ervaar tydens die volgende insident in my lewe in die tagtiger jare se Bosoorlog waartydens ek as Nasionale Dienspligtige diens gedoen het.
Ons was ’n groep van sewe jong soldate wat ’n tydelike basis beman het, en oppad was om die volgende dag terug te keer na ons geliefdes by ons huise in Suid-Afrika.
Daardie aand was die kamp gekenmerk as een met ’n rustige admosfeer, met net die geluide van nagdiere hoorbaar in die agtergrond. Die naghemel was met pragtige skitterende sterre besaai. Alles om ons was net eenvoudig Meesterlik-mooi. Daar het ’n stille opgewondenheid in elkeen van ons se harte gerus. Elkeen was besig met sy eie gedagtes.
Ek was bly dat almal in ons groep uiteindelik na ses maande se Grensdiens kon huistoe gaan, sonder enige noodlottige voorvalle. Ek het nietemin die bosse om ons tydelike basis verken deur my verkyker. Dit was ’n helderverligte volmaan aand, en jy kon vêr sien. Alles om ons was rustig. Tog was daar ’n greintjjie van onrus in my binneste waarop ek my vinger nie kon lê. Ek ken al die simptome van onheil, die spreekwoordelike stilte voor die storm. My gedagtes was nog nie koud nie, toe bars die hel in al sy nate los. Infrarooi strale drapeer die naghemel en lugfakkels verdoof die sterrehemel. Dit het kompleet gevoel asof rustigheid se hart gaan staan het, terwyl vrede uitmekaar gespat het.
Ons het, heeltemal oorbluf reageer, rookgranate gegooi en na skuiling gekruip deur die lang gras.
Mirages het deur die naghemel gevleg terwyl masjiengewere aanhoudend ketter en ons mortierbomme op die vyand reën.
Dit het vir my gevoel asof sekondes vries terwyl radioseine vir hulp aan ons hoofbasis opgaan en stemme skree-vloek verward rondskarrel.
Dan is alles verby en het dit vir my gevoel asof die verskriklike stilte wat toe op ons tydelike basis neergedaal het, grusaam vir my grom. ’n Rookwolk gevul met gerasperde stukkies vlees en been en bloed het in die lug gehang.
Ek het my helm afgehaal en dit vies op die grond gegooi, toe druk ek my geweer se loop in die sand, klou die kolf met albei my hande vas en rus met my ken daarop. My ‘buddy’ het voor my kom staan, en presies dieselfde as ek gedoen. So het ons vir mekaar gestaan en kyk sonder om ’n woord te sê. Sy oë het vir my soos pynspieëls gelyk, waarin die tragiese insident oor en oor afspeel
Ek het my ‘dogtags’ om my nek afgehaal, daarna gekyk:-
• my magsnommer: 70291787;
• my rang: Lt;
• my naam: P.Retief; en
• my bloedgroep: A (neg)
Vier woorde op ’n plaatjie, toegeskulp in my hand.
My hele lewe, inteendeel my waarde, is gegrafeer in vier woorde op ’n plaatjie. Is dít die waarde van ’n soldaat, het ek myself oor en oor afgevra. Wat is jou waarde in só ’n situasie?, “oorlog bring vrede”: sê die ‘Big Brass.’ Wat ’n infame leun!
Die bliksems het geweet die hel gaan daardie aand losbars. Hulle was maar bereid om my en my makkers se waarde, wat hul as gering geag het op die spel te plaas.
En nou vandag? Bykans 40 jaar later, is moord, verkragting, haatspraak en die miskenning van menswaardigheid vir politieke gewin, aan die orde van die dag.
Waar staan ons nou ten opsigte van die waarde van die mens?
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Mei 2025 – OOP projek