Jongste aktiwiteit:

DIE ADELSTAND VAN GEVLEUELDE LAND – BEDREIG ONDER RENTMEESTERSHAND

Wie is hulle? Hulle is Suider-Afrika se Roofvoëls natuurlik!
Ornitoloë omskryf Suider-Afrika as daardie gebied wat suid van die Kunene- Okavango- en Zambeziriviere geleë is, insluitende Botswana, Namibië, Lesotho, Eswatini, (voormalig Swaziland), asook die suide- en sentrale gebiede geleë in Mosambiek, Suid-Afrika en Zimbabwe. Die gebied wat 200 seemyl oseaan water vanaf die kuslyn beslaan is ook hierby ingesluit.
Tydens my navorsing met die skryf van hierdie artikel, het ek opnuut bewus geword van die grootheid en almag van God. Hy het die Skepping so volmaak beplan en ontwerp dat ek met oortuiging kan sê dat elke veertjie, toon, snawel en klou van ’n roofvoël ’n spesifieke doel in die ekologiese sisteem op die aarde het.
Suider-Afrika is deur die Skepper geseën met ’n ryk biodiversiteit van voëlspesies, insluitend roofvoëls. Roofvoëls vul veral ’n noodsaaklike rol in die ekologieseketting, wat betref die deurgaanse handhawing van ’n gesonde balans in die natuur.
Bo alle twyfel is Roofvoëls die adel van ons gevleuelde vriende. Die asemrowende forsheid van die onderskeie roofvoëls, laat jou oë traan van bewondering.
Dink nou maar byvoorbeeld aan die onderskeie arende en die kragtige forsheid waarmee hulle in die lug sweef en die aggressie en ratsheid van Sperwers. Valke met hul ongelooflike spoed en duikslae asook uile met hul geruislose vlug. Dan is daar natuurlik ook die pragtige aasvoëls met hul sirkelsweef vlugte.
In hierdie artikel val die klem op die pragtige roofvoëls, die adelstand van die voël bevolking wat Suider-Afrika huisves.
Hierdie artikel moet nie gesien word as ’n kits ‘voëlgids,’ wat gegrond is op ornitologiese, (voëlkundige), navorsing rakende roofvoëls nie. Indien die leser belangstel in meer detail van ’n betrokke roofvoël, kan dit nageslaan word in die literatuur soos volledig in die bibliografie aan die einde van hierdie artikel uiteengesit.
As vertrekpunt kyk ons eers na Aasvoëls.

Aasvoels
Daar is nege soorte aasvoëls wat in Suider-Afrika voorkom. Elkeen van hierdie aasvoëls is uniek deur God geskape om ’n spesifieke werk in die ekologiese sisteem wat Hy met die skepping van die aarde uitgewerk het, te kan verrig. By name is hierdie aasvoëls die:
1. Swartaasvoël;
2. Witrugaasvoël;
3. Baardaasvoël;
4. Egiptiese Aasvoël;
5. Kransaasvoël;
6. Monnikaasvoël;
7. Rüppelse Aasvoël;
8. Witaasvoël; en die
9. Witkopaasvoël.
Aasvoëls is, soos wat hulle naam aandui, aasvretende roofvoëls. In grootte wissel hulle van groot tot baie groot. Hulle is kragtige vlieërs met lang vlerke wat lyk soos “vingers” aan die punte. Die doel van hierdie “vingers” aan die punte van hulle vlerke is om te kompenseer vir die invloed wat onstabiele lugstrome op hulle vlugbalans mag hê. Hulle sterte is waaiervormig en kort. Tydens hul sweeftogte dien hierdie kort waaiervormige sterte as stuurstange wat hulle rigting reguleer. Die grootste gedeelte van die dag sweef aasvoëls op die warm strome hoog bo in die lug.
Met hul teleskopiese oë verken aasvoëls die bosveld onderkant hulle vir ’n karkas wat hulle kan stroop. God het elke aasvoël met die fynste detail geskape en toegerus om die rol wat hy in die ekologiese sisteem moet vervul met gemak te kan uitvoer.
Ja, elke veertjie op sy liggaam is inderwaarheid deur God getel, soos wat Hy ook die dun hare op my en jou hoof getel het. In vergelyking met ander roofvoëls soos arende en valke, het aasvoëls nie baie sterk kloue nie. Dit is bloot omdat hulle nie hul aas hoef te vang nie. Dus is hulle kloue kort en stomp.
Soos voormeld is elke soort aasvoël uniek. Kyk byvoorbeeld na hulle snawels. Elkeen van bogenoemde aasvoëls is deur God geskape met ’n snawel om ’n spesifieke werk in Sy ekologiese sisteem te kan verrig.
Afrika se Swartaasvoël het byvoorbeeld ’n baie groot en kragtige snawel wat hom in staat stel om vel, bene en senings met gemak van ’n karkas te kan stroop. Die Monnikaasvoël is weer toegerus met ’n langerige dun snawel om hom in staat te stel om al daardie klein stukkies vleis wat nog aan ’n karkas kleef nadat al die ander aasvoëls hul maaltyd geniet het, te verorber. Sodoende word ’n karkas behoorlik skoon gestroop.
Die Witaasvoël se snawel is weer so geskep dat hy met gemak die vrugomhulsel van die raffiapalm kan afskeur terwyl hy dit met sy poot vasklem. Aasvoëls is inderdaad die natuur se ‘skoonmakers’.
Dit bring ons vervolgens by arende.

Arende
Wat arende betref, is hulle na my mening die ‘kroonprinse’ in die adelstand van gevleuelde kringe. Hulle het ’n ‘ikoniese vorstelikheid’ wat nét geskep kon word deur die hand van die Meester. Daar is elf soorte arende en jagarende wat in Suider-Afrika voorkom. Hierdie arende is by name die:
1. Breëkoparend;
2. Dwergarend;
3. Grootjagarend;
4. Kleinjagarend;
5. Gevlekte Arend;
6. Kroonarend;
7. Langkuifarend;
8. Roofarend;
9. Steppe-arend;
10. Wahlbergse Arend, (ook bekend as die Bruinarend);en
11. Witkruisarend.
In grootte wissel arende van klein, soos die Dwergarend wat ons kleinste arend is, tot medium en baie groot arende.
Daarbenewens is arende kragtige vlieërs wat deur die Skepper met lang breë vlerke toegerus is, wat soos ‘vingers’ aan die punte lyk. Die grootste gedeelte van die dag sweef arende hoog bo in die lug.
Hulle sterte is kort tot medium in lengte en met hul aggressiewe deurdringende x-straal oë verken hulle die bosveld onderkant hulle vir prooi.
Arende en Jagarende word van ander arende soos slangarende, Afrika se visarend, sperwers, woue, jakkalsvoëls en valke onderskei in die sin dat hulle van kroon tot toon met vere bedek is. Net die pikswart toonnaels is gewoonlik sigbaar by arende en jagarende.
Arende is ook toegerus met baie sterk kloue sodat hulle hul prooi kan vang. Elke arend is uniek en vul ’n spesifieke rol in die ekologiese sisteem wat God met die skepping van die aarde in werking gestel het. Wonderlik né! Kyk byvoorbeeld na hulle snawels en kloue.
Arende is deur die Skepper toegerus met groot snawels sodat hulle met gemak hulle prooi kan vang en in repies verskeur. Wat hulle kloue betref het daardie arende wat jag maak op ander grondlewende soogdiertjies soos byvoorbeeld hase, rotte, dassies en muise, kort bene met kort dik tone.
Vervolgens kyk ons kursories na Slangarende.

Slangarende
In hulle boek ‘Roofvoëls van Suider-Afrika’ – ’n Identifiseringsgids, identifiseer Ulrich Oberprieler en Burger Cillié die volgende vyf slangarende die:
1. Berghaan, wat volgens Ornitoloë, (voëlkundiges) nie as ’n tipiese slangarend beskou kan word nie, daar hy die enigste arend in hierdie groep is wat donker oë en nie geel oë soos die ander slangarende het nie. Hoe dit ookal sy, die Berghaan is ’n pragtige arend veral wanneer hy pronk. Hy verdien om tot die adelstand te hoort en die kollig op hom te hê.
Die ander slangarende is die:
2. Bruinslangarend;
3. Dubbelband-slangarend;
4. Enkelband-slangarend; en die
5. Swartborsslangarend.
Slangarende het intimiderende geel oë. Alle slangarende se bene is ongeveer.  Soos die naam aandui maak hulle hoofsaaklik jag op slange. Slangarende is kragtige vlieërs wat die grootste gedeelte van die dag op die warmstrome hoog bo in die lug sweef en met hulle teleskopiese oë die bosveld onderkant hulle verken.
Die volgende roofvoëls wat ek kursories onder die loep sal neem is Jakkalsvoëls.

Jakkalsvoëls
In Suider-Afrika kom die volgende ses jakkalsvoëls voor die:
1. Bosjakkalsvoël;
2. Bruinjakkalsvoël;
3. Langbeenjakkalsvoël;
4. Rooiborsjakkalsvoël;
5. Witborsjakkalsvoël; asook die
6. Wespedief.
Die Wespedief word volgens Ornitoloë nie as ’n tipiese Jakkalsvoël beskou nie as gevolg van sy duifagtige kop en snawel. Verder is die volwasse Wespedief se oë goudgeel terwyl die onvolwasse Wespedief donker oë het.
Jakkalsvoëls is sterk vlieërs met lang breë vlerke en kort sterte wat hulle in staat stel om goed te kan sweef.
Anders as by arende is Jakkalsvoëls se bene ongeveerd. Die belangrikste verskil tussen ’n arend en ’n jakkalsvoël is dat jakkalsvoëls kleiner as arende is met kaal tarsusse (bene).
Soos die geval met ander roofvoëls, is Jakkalsvoëls, alhoewel hulle kleiner as arende is met hul kaal tarsusse, ook uniek deur God geskape. Dus vervul hulle ook ’n belangrike rol in die ekologiese sisteem wat Hy met die skepping van die aarde in werking gestel het.
Dit bring ons dan by die volgende groep roofvoëls naamlik Valke.

Valke
Suider-Afrika is geseën met ’n ryke verskeidenheid van valke. Ornitoloë, verdeel valke in drie groepe in naamlik egte valke, Woue en ander valke en Vleivalke.
Vir doeleindes van hierdie artikel het ek dit goedgedink om die onderskeie valke te bespreek onder die opskrifte ‘Valke’ en ‘Vleivalke’, om sodoende te verseker dat elkeen van hierdie pragtige roofvoëls ten volle tot sy eie reg kom. En ja, dít is inderdaad wat dit is. God se skepping wemel van pragtige roofvoëls wat bo alle twyfel verdien om die kollig op hulle te hê, al is dit dan ook net in hierdie artikel.
Hierdie valke is by name die volgende:
1. Afrika se Boomvalk;
2. Bleeksingvalk;
3. Blouvalk;
4. Afrika se Koekoekvalk,
5. Vlermuisvalk;
6. Dickinsonse Valk;
7. Donkergrysvalk;
8. Dwergvalk;
9. Edelvalk;
10. Eleonoravalk;
11. Europese Boomvalk;
12. Grootrooivalk;
13. Kaalwangvalk;
14. Kleinrooivalk;
15. Kransvalk;
16. Oostelike Rooipootvalk;
17. Roetvalk;
18. Rooinekvalk;
19. Swerfvalk;
20. Taitavalk; en die
21. Westelike Rooipootvalk.
Ornitoloë beskou Woue nie as tipiese arende nie. Hulle kategoriseer woue in dieselfde groep roofvoëls as die Koekoekvalk, Blouvalk en die Vlermuisvalk. In Engels word daar na hierdie groep roofvoëls verwys as Kites eerder as arende en valke. God het na my mening ook elke Wou met die fynste detail geskape en toegerus om die rol wat hulle in die ekologiese sisteem moet vervul met gemak te kan uitvoer.
By name is Suider-Afrika se woue die volgende die:
1. Geelbekwou; en die
2. Swartwou.
Die vleivalke wat in Suider-Afrika voorkom, is die:
1. Afrikaanse Vleivalk;
2. Blouvleivalk;
3. Europese Vleivalk;
4. Witborsvleivalk; en die
5. Witkruisvleivalk.
In ’n neutedop kan van valke gesê word dat hulle in grootte wissel van baie klein tot medium grootte roofvoëls, waarvan sommige soorte vaartbelyn is om baie vinnig te kan vlieg en ander weer in die lug op een plek fladderend kan hang. Valke het ook lang vlerke wat gepunt is en is ook met lang sterte toegerus.
Die volgende groep Roofvoëls waarna ons vlugtig kyk is Sperwers.

Sperwers
Ornitoloë deel Sperwers en Singvalke in dieselfde gevleuelde groep in tesame met die Akkedis- en die Kaalwangvalke, maar meld in dieselfde asem dat Akkedisvalke en die Kaalwangvalke asook Singvalke nie as tipies sperwers beskou kan word nie. Die detail hieroor val egter buite die skopus van hierdie artikel. Vir doeleindes van hierdie artikel het ek dit egter goedgedink om die Sperwers, Singvalke, Akkedisvalke en Kaalwangvalke saam te groepeer.
In Suider-Afrika kon die volgende sewe Sperwers voor:
1. Afrika se Sperwer;
2. Gebande Sperwer;
3. Kleinsperwer;
4. Ovambosperwer;
5. Rooiborssperwer;
6. Swartsperwer; en die
7. Witkruissperwer
Kursories dien van sperwers gesê te word dat hulle baie klein tot medium groot en sku roofvoëls is wat rats tussen plante kan deurbeweeg as gevolg van hulle kort vlerke en lang sterte. Sperwers hou van digte plantegroei, met gevolg dat hulle ook nie maklik in die hul natuurlike habitat raakgesien word nie.

Suider-Afrika se pragtige twaalf uile kom vervolgens ook in die kollig. Vir maklike identifiseringsdoeleindes het ornitoloë hierdie twaalf uile in drie groepe verdeel naamlik:
Klein uile, waaronder die:
1. Gebande Uil;
2. Skopsuil;
3. Witwanguil; en die
4. Witkoluil, sorteer.
Medium grootte uile is die:
5. Bosuil;
6. Grasuil;
7. Nonnetjie-uil; en die
8. Vlei-uil.
Die uile wat as groot uile beskou word is die:
9. Gevlekte Ooruil;
10. Kaapse Ooruil;
11. Pelse Visuil; en die
12. Reuse-ooruil.
Party uile het duidelike oorklossies. Hierdie oorklossies is egter nie “ore” in die ware sin van die woord nie, maar wel klossies vere wat deel van die uil se kamoeflering uitmaak en ook gebruik word as kommunikasie-middel met ander uile.
Die Grasuil, Nonnetjie-uil en die Vlei-uil het nie oorklossies nie, maar plat gesigskywe. Hierdie plat gesigskywe het ten doel om klankgolwe op die uil se ooropeninge te fokus. Uile beskik dus oor ’n uitstekende gehoor.
Die Gebande- en Witkoluil is weer klein uile met ronde koppe. Die meeste uile is bedrywig in die nag. Daarom is hulle deur die Skepper toegerus met ’n uitstekende sigvermoë. Albei hulle oë wys vorentoe.
Dít het tot gevolg dat die gesigsveld van hul oë oorvleuel wat meebring dat hulle oor die vermoë beskik om met albei hul oë op dieselfde tydstip op hul prooi te kan fokus. Sodoende sien hulle slegs een beeld van die prooi waarna hul besig is om te kyk. Ons noem dít binokulêre visie. Hierdie binokulêre visie van uile het tot gevolg dat hulle oor ’n uitstekende vermoë beskik om afstand en diepte te bepaal. Uile is ook baie bekend vir die roepe wat hulle maak.
Die laaste roofvoël waarvan ek kursories melding wil maak is die alombekende Sekreterisvoël.
Sekretarisvoëls is enig in hul soort. Hul verekleed is grys met swart omsoom en dra ’n lang ‘punkagtige’ verekuif op hul agterkop. Hulle is baie groot roofvoëls, ongeveer 1.5 meter lank. Alhoewel hulle uitstekend in die vlug kan sweef, hou hulle eerder daarvan om lang ente deur oop vlaktes te loop teen ’n spoed van ongeveer 2-3 kmpu terwyl hulle kos soek. ’n ‘Egpaar’ slaap gewoonlik in die boom waar hulle nes is. Groepe kom dikwels by watergate bymekaar.
Dit bring my dan nou weer by die punt uit wat ek reg aan die begin van hierdie artikel gemaak het. God het die Skepping so volmaak beplan en ontwerp, dat ek met oortuiging kan sê dat elke veertjie, toon, snawel en klou van elkeen van die roofvoëls wat in hierdie artikel genoem is, ’n spesifieke doel in die ekologiese sisteem op die aarde het.
Dit is egter ’n tragiese feit dat sommige van hierdie pragtige roofvoëls reeds uitgesterf het, swerwers of skaars standvoëls is wat slegs gelokaliseer is tot bewaringsgebiede en groot wildreservate.
Die hartseer is dat die mens wat aangestel is as rentmeester van God se skepping grootliks vir hierdie tragedie verantwoordelik is.
Ek het een oggend onder ’n kolosale Kameeldoringboom gesit in een van die ruskampe, in die Kgalagadi Oorgrenspark. Sowat twintig meter van my af het ’n reuse Breëkoparend in ’n boom gesit terwyl hy die wêreld om hom bespied. Ek het hom aandagtig gesit en dophou. Wat sou hy vir my sê as hy namens, al die roofvoëls met my kon praat,? het ek gewonder. In my gedagtes ’n gesprek met hom begin voer.
Ek deel graag met die leser wat die roofvoëls by monde van, (ek meen by bek van), die Breëkoparend, so glo ek, vir my sou sê, om vir my vriende te gaan sê:

• “Mens; jy is slegs rentmeester van die Meester se wens;
• Mens; onthou, rentmeesterskap beteken nie dat jy eienaarskap van God se skepping hou nie. God het JOU, as rentmeester van Sy skepping aangestel, nie as eienaar nie. Die mens, as rentmeesters van God, moet Sy skepping bestuur en gebruik tot God, wat eienaar is, se beste voordeel;
• Mens; die Meester verwag van my en jou om ons skakels in Sy ekologieseketting getrou en verantwoordelik te onderhou, om getrou by jou opgelegde rentmeesterskap te hou, nie af te breek/vernietig maar op te bou;
• Mens; ’n gesonde ekologiese balans binne die biotoop wat ons deel gee hoop aan jou en my op oorlewing;
• Mens; moet nie die orde van die ekologiese balans in die Skepper se biotoop versteur nie;
• Mens; moet nie die skakels in God se voedselketting binne ons bioom verwyder of probeer verander nie;
• Mens; moet asseblief nie ons bioom ontbos of met jou vullis bemors nie!;
• Mens; moet asseblief nie ons bioom met sistematiese gifstowwe vernietig nie;
• Mens; moet asseblief nie ons bioom met jou stootskrapers en kettingsae vernietig nie;
• Mens; moet asb nie ons ongeskonde vleilande drooglê nie; en
• Mens; moet asb nie die natuurlike sponsgebiede binne ons bioom vernietig nie.
Mens, jy is welkom om met jou oë deur ons gevleueldes se werêld te reis en die skepping van God vir jou kinders te wys. Moet asseblief net nie ons wêreld vernietig nie, anders is ons eersdaags net ’n prentjie in ’n boek; op jou rooidata lys as skaars swerwers of as uitgesterf gelys. Sou jy ons dan soek, is ons gevleueldes net op die Internet, of ’n skets in ornitoloë se Rooidata Boek.”
Na hierdie verhelderende ‘onderhoud’ met die Breëkoparend, het ek opgestaan en die volgende gedig wat in my hart opgekom het geskryf:-

Suider-Afrika se roofvoëls
is deur ’n Digter geskep

daar is baie meer poësie
in die veertjie van ’n uil
as in die letterkunde

en baie meer poësie
in die pronk van ’n berghaan
die veredos van ’n jakkalsvoël
die kloue van ’n slangarend
die snawel van ’n aasvoël …

daar is baie meer poësie
in die wetenskap
in die teologie
in die ornitologie
die arend se vlug
in die blou-blou lug
die sekretarisvoël
wat oor die vlaktes loop …

in die roep van ’n visarend
is daar meer liriek
as in aardse musiek …
Suider-Afrika se roofvoëls
is deur ’n Digter geskep
——-oo0oo——-
[Interteks uit Cloete se gedig: God die digter]
(© Pieter Mostert)

Ten slotte is my vraag aan die leser. Waar staan jy as rentmeesrer van God se natuur teenoor roofvoëls, met inagneming van dit wat die Breëkoparend hierbo gesê het?

           ——————————————-oo00oo————————————
©Pieter Mostert

BIBLIOGRAFIE

• Hockey, P.A.R. Dean, W.R.J. &. Ryan P.G. 2005. Roberts Birds of Southern Africa (VII Ed). Trustees of the John Voelker Bird Book Fund, 9 Churh Square, Cape Town.
• Mostert, P. God die Digter. 2020 HartWood Digitale Drukkers, Midrand, Gauteng.
• Mostert, P. Gevleuelde Digters. 2022. Groep 7 Drukkers en Uitgewers (Edms) Bpk. Pretoria, Gauteng.
• Oberprieler, Ulrich & Burger, Cillié. 2002 Roofvoëls van Suider-Afrika ’n Identifiseringsgids. Lapa Uitgewers (Edms.) Bpk Bosmanstraat, Pretoria.
• Sinclair, Ian, Hockey, Phil & Tarboton, Warwick. Sasol Voëls van Suider-Afrika Struik Nature. Derde Uitgawe 2011.
• Sinclair, Ian, Hockey, Phil & Tarboton, Warwick. Sasol Voëls van Suider-Afrika Struik Nature. Vierde Uitgawe 2012.
• Sinclair, Ian, Hockey, Phil & Tarboton, Warwick. Perrins, Niall. Rollinson Dominic & Ryan, Peter. 2020. Sasol Voëls van Suider-Afrika Struik Nature. Vyfde Uitgawe.

 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed