Erosie (Goud)
Erosie
en daar staan jy nog:
Adamastor
waar Afrika sy donker
skouer teen die suide draai
waar die wind
ou stories
uit jou klipskeure haal
sout lê wit
in jou klipplooie
ek kom nog
sonder vlag
sonder kruis
sonder naam
net water
en met die maan
se hand teen my rug
ek kom vou om jou voete
ek vind die fynste skeure
en laat my sout daar agter
en gaan
eeue lank
het skepe gevaar
met seile vol wind,
vreemde tale
in hul monde,
kaarte
wat elke keer
’n bietjie voller word
mense het name
oor plekke geskryf
asof ’n naam
iets laat behoort
jy het gebly
’n digter
het jou uit ’n storm gelig,
jou ’n voorkop gegee,
’n mond,
’n naam
en jou met ink
teen die soom
van die wêreld laat staan
maar ink
het ook oewers
ek het verder geskryf
met sout
met sand
met eb en vloed
gekom
gegaan
teruggekom
tot ’n haarfyn skeur
wyd genoeg geword het
om my in te laat
tot korrels van jou
begin losraak het
so klein
dat niemand
dit verlies sou noem nie
nou rol jy
onder my voort
fyn, naamloos
tussen skulpgruis
en sand
mense loop oor jou
sonder om te weet
dat hier eens
’n reus
gestaan het
jy staan nog daar, Adamastor
maar elke keer
wanneer ek terugtrek,
neem ek iets van jou
saam
©MarleneErasmus
09/09/2026
Interteks: Luís de Camões, “Os Lusíadas”, Kanto V, die Adamastor- en Thetis-episode.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.