Al wat sy kon red (Goud)
Al wat sy kon red
Sonika Nagarkoti is net dertien.
Oud genoeg vir skoolboeke,
te jonk vir ’n wrede wêreld
wat skielik onder haar voete verdwyn.
Toe die berg begin grom
en spoeg met klippe in sy mond
dwarsdeur die dorp storm,
het niemand haar nog geleer
hoe om ’n lewe te dra nie.
Sy het net gebuk,
vir Sajan opgeraap,
drie jaar oud,
warm teen haar bors,
en begin bergop klim.
Agter haar
is mure uit hul fondasie geruk,
’n dak losgeskeur van sy huis,
deure oopgeklap
na kamers
wat daar nie meer was.
Die water het álles gevat.
Beddens.
Koppies en borde.
Familie-foto’s.
Mure en vensters
waar oggendlig ingestroom het.
Dit het gevat
sonder om te vra
wat kosbaar is.
Sonika het geklim.
Een tree.
Nog een.
Met modder om haar enkels,
vuur in haar keel,
Sajan se vingers
vasgeklem in haar vlees.
Onder haar
het ’n hele bestaan
verbygedryf.
Sy kon nie hul huis red nie.
Nie die kamers
waar mense se stemme
nog tussen die mure gewoon het.
Nie gister nie.
Nie die gewone dinge
wat ’n mens eers mis
wanneer hulle weg is nie.
Sy kon net haar arms
stywer span
om die klein lyfie
wat nog asemhaal.
Sonika,
net dertien.
Daardie dag
het sy geleer
hoe swaar drie jaar kan wees,
hoe klein twee arms is,
en hoe groot
die niks is wat agterbly.
©MarleneErasmus
08/09/2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.