Jongste aktiwiteit:

Die woord wat meer sê as wat ons dink

Ons gebruik die woorde “dit is my opinie” so maklik. Ons sê dit wanneer ons oor politiek oor geloof, oor mense, oor die ekologie, oor die lewe ensovoorts praat.
Soms sê ons dit met groot sekerheid, altans so dink ons. Soms sê ons sommer net iets omdat ons dink ons weet iets oor ’n sekere saak en ander wil beïndruk met ons kennis en voortvarendheid, wat dikwels grens aan hoogmoed en verwaandheid. Soms sê ons sommer net iets omdat ons wil hê ander mense moet weet wat ons dink.
Maar het ons al ooit gewonder wat die woord opinie eintlik beteken? Waar kom dit vandaan?
En wat sê ons werklik wanneer ons sê: “Dit is my opinie”?
Die Afrikaanse woord “opinie” kan teruggevoer word na die Latynse woord opinio. Dit beteken onder meer mening, oordeel, veronderstelling, opvatting of geloof. Verder hou die woord ook verband met die Latynse werkwoord opinari, wat beteken om te meen, te oordeel, te veronderstel of van mening te wees.
Die woord “opinie” het deur die eeue sy pad deur verskillende tale gevind. In Frans het dit die vorm opinion aangeneem. Die Franse woord is reeds omstreeks die jaar 1200 aangeteken. Dit het verwys na ’n mening, ’n oordeel of ’n opvatting wat iemand oor iets het.
Ook in Nederlands het die woord as opinie gevestig geraak. Dit het betekenisse gehad soos mening, gevoelen (gevoel) en denkbeeld. Vanuit Nederlands het die woord uiteindelik deel van Afrikaans geword.
Vandag sê ons: “Dit is my opinie.”
Maar jy sê as’t ware daarmee meer as wat jy besef.
Jy sê eintlik: Dit is hoe ek hierdie saak verstaan. Dit is hoe ek daaroor oordeel. Dit is die voorstelling wat ek in my denke daarvan gevorm het.
Daar is ’n belangrike verskil.
’n Opinie is nie noodwendig die waarheid nie.
Dit is ’n oordeel wat ek gevorm het.
Dit kan gegrond wees op kennis. Dit kan gevorm wees deur die wyse van opvoeding of omstandighede. Dit kan gevorm wees deur ervaring. Dit kan ontstaan uit wat jy gesien, gehoor of gelees het. Dit kan selfs die gevolg wees van jare se nadenke.
Maar dit bly ’n oordeel.
Iemand anders kan dieselfde wêreld sien en tot ’n ander oordeel kom.
Dit beteken nie noodwendig dat een van ons dom is nie. Dit beteken ook nie dat een van ons noodwendig oneerlik is nie. Ons kyk immers nie almal deur dieselfde bril na die wêreld nie.
Ons dra elkeen ons eie herinneringe. Ons eie ervarings. Ons eie vrese. Ons eie verwagtings.
Ons eie kennis.
En dit alles het ’n invloed op die wyse waarop ons na iets kyk.
Die geskiedenis van die woord opinie word nog interessanter wanneer ons by die klassieke Griekse filosofie kom.
Die Griekse woord doxa kan met mening, opvatting of geloof vertaal word. In die Platoniese tradisie word doxa dikwels onderskei van epistēmē, wat met kennis verbind word.
Daar is dus ’n verskil tussen wat ek meen en wat ek weet.
Dit is ’n onderskeid wat ons vandag nog nodig het.
Ons leef immers in ’n tyd waarin mense soms hulle opinie aanbied asof dit feite is. Iemand sê: “Ek glo dit”, en kort daarna word dit: “Dit is so.” Maar om iets te glo, beteken nie noodwendig dat ons dit weet nie.
Om iets te dink, beteken nie noodwendig dat dit waar is nie.
En om ’n sterk opinie te hê, beteken nie noodwendig dat jy reg in jou siening is nie.
Ons behoort daarom versigtiger te wees en die saak nugter te deurdink eerder as om summier en soms emosioneel te sê:
“Dit is my opinie.”
Ons behoort onsself eerder af te vra waarom dit my opinie is? Waar het dit vandaan gekom?
Het ek self daaroor nagedink? Is dit gebaseer op kennis en feite? Of herhaal ek bloot wat iemand anders gesê het?
Het my opvoeding en my ervaring my geleer om so te dink? Of het my vooroordele my oordeel gevorm?
Vrae soos hierdie is ongemaklike vrae, maar goeie vrae. Jou opinie sê uiteindelik iets van jouself.
Wanneer jy sê: “Dit is my opinie,” maak jy nie bloot ’n uitspraak oor die wêreld nie.
Jy wys ook iets van jouself. Jy wys hoe jy na dinge kyk. Hoe jy dink. Hoe jy oordeel. Wat jy as van belang ag. Wat jy glo en selfs wat jou vrese is.
Daarom het die eenvoudige woord opinie vir my ’n veel dieper betekenis.
Dit is nie bloot ’n mening wat ek oor iets het nie.
Dit is ’n klein venster waardeur ander mense iets van my wêreld kan sien.
Dít is waarom ons versigtig moet wees om so maklik opinies uit te spreek, soms ongevraagde opinies.
Daarmee sê ek nie dat jy nie ’n opinie mag hê nie, maar dat jy ook bereid moet wees om te erken dat jy soms verkeerd is met die opinies wat jy so maklik uitspreek.
Die bereidwilligheid om jou verkeerde opinies te erken en die saak nugter te deurdink is een van die tekens van emosionele volwassenheid en wysheid, want die woorde: “Dit is mý opinie” sê meer as wat ons dink.

————————–oooOooo————————-
©Pieter Mostert
[901 woorde]

Bronne
• Institut voor de Nederlandse Taal, Etymologisch Woordenboek, opinie – Nederlandse etimologie en die Middelnederlandse voorkoms vanaf ca. 1291–1300.
• Dictionnaire de l’Académie française, opinion, 9de uitgawe – etimologie uit Latyn opinio en betekenisgeskiedenis.

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed