Jongste aktiwiteit:

Die lus van my oer-dier

Lus is ‘n liederlike ding.  Jy kan hom nie beheer nie.  Hy kom wanneer hy wil, soos ‘n dominee wat net weet van huisbesoek om die dag dat jou hare vuil is, die kinders moeilik is en jy lus het om die kat te skop, of die emmer.

 

Lus laat hom ook nie voorskryf nie.  Moenie dink jy gaan hom omkoop met ‘n alternatief nie.  Niks van ‘n lus kan uitgeruil word vir ‘n makliker of meer aanvaarbare opsie nie.  Ek begin al meer verstaan hoe verslawing werk, en as die lus roep kan jy ‘n dowe oor gooi soos ‘n tiener, maar dit gaan jou kom byt. Ouma het altyd gesê, dit wat jy nie mee deal nie, gaan met jou kom deal.

 

So erken ek maar my swakheid en gee in aan my lus.  My lus vir bak.  Dis amper so groot sonde soos moor en steel, maar darem so bietjie minder vernietigend as skinner.  As my jeans nou oë gehad het om te rol…..

 

Ek hou van kosmaak en van eet, maar as hierdie lus vir bak eers sy skoene in my kombuis kom uitskop, sak my moed in my skoene.  Die sielkundige sê ons moenie die lus en goed onderdruk nie, want dis waar reeksmoordenaars en kinder molesteerders vandaan kom so nou bak ek tot daar nie meer ‘n skoon koppie, lepel of bak in die huis oor is nie.  Karingmelkbeskuit, ‘n Japanese melkbrood wat nie eers die uitgeteerde straatbrak sal wil eet nie, 12 gesonde muffins, twee soorte kaaskoek en die Kook en Geniet se soetkoekies en die lus is nog nie uitgewoed nie.  Hoeveel kan een mens nou eet?  Sal ek die goed begin uitdeel vir vriende en bure?  Hulle sal dink ek is mal of skimp vir iets. So hier sit ons nou.

 

Ek kyk na die slagveld wat voorheen my kombuis was.  Daar is genoeg gebak om die hele weermag kos te gee.  Uit die een hoek vang my oog die ding.  Skoonma het hom ‘n jammerlappie genoem.  Beter dae het hy beslis al gesien en jy lê in ‘n verminkte, verlepte hopie op my wasbak.

 

Julle oordeel verniet, ons almal het ‘n jammerlappie iewers in die kombuis wat nie vir ander mense se oë, of neuse, bedoel is nie.

 

Ek tel myne op en my gesig vertrek.  Dis die lus se skuld.  Ek is so besig om te bak, kaste af te veel, ‘n gemorsde melkkol skoon te maak, skottelgoed te was, dat ek vergeet het van die stukkie lap wat tans ruik soos iets tussen suur voete en ‘n onderdrukte poep.

 

Ek sien wat is hier aan die gebeur.  Dis ‘n sielkundige oorlog van ‘n kombuis wat te veel aandag gekry het en nou self probeer kompenseer.  Die jeans is ook in op die komplot, want die ding se nate span al klaar op ‘n ongesonde manier as ek die knoop vasmaak.

 

Ek moet skoonmaak.  Die jammerlappie moet gewas word, dalk met kookwater en Detol.  Die kaste kan ook maar ‘n slag uitgevee word terwyl die meeste skottelgoed in elke geval op die droograkkie gebalanseer is.  Terwyl ek nou besig is, kan ek net sowel die yskas ook ‘n slag bykom.  Hoekom daar altyd een of ander taai kol is wat soos konfyt lyk, al is daar nie eers konfyt in die huis nie.  Hhmmmm, daar is juis so baie suurlemoene aan die boom die jaar, dalk moet ek ‘n slag my luigeit los en konfyt kook.  Dan sal ek ten minste die taai kolle in die yskas kan regverdig.

 

Soos ek skoonmaak kyk ek af na my jean wat al beter dae gesien het.  Daar is ‘n hele paar meelmerke en hier en daar ‘n botter kol.  Moenie maak asof julle nie ook sommer die gatsak van die jean gebruik as die jammerlappie of vadoek te ver is nie. Julle hou verniet vir julle skynheilig en ek probeer myself verniet bluf met al die geskoonmaak.

 

Ek gaan nou maar net moet erken dat ek iewers in my binneste nog ‘n paar oer-gene oorgehou het en totaal uitgelewer is aan my oer-dier luste.

 

Die lus gaan nie omgekoop word nie en dit gaan ook nie verdwyn nie.  Hertzoggies sal volgende wees, maar bak sal ek vandag bak tot al die lus uitgebak is en my kombuis weer ‘n slag kan sug van verligting wanneer die lus vir nuwe plantjies in die grond my binnekort in die lente beetpak.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed